'n Sterrebeeld is 'n groep sterre wat 'n patroon in die naghemel vorm, maar anders nie in enige verband met mekaar staan nie. Die tradisie om bepaalde beelde in die sterrehemel te sien, bestaan by alle volkere. By die vorming van sterrebeelde is daar soms verbasende ooreenkomste dwarsoor die wêreld.
Die huidige sterrebeelde is 'n erfenis van die Mesopotamiese, Griekse en Arabiese sterrekykers, wat 'n ryk universele mitologie geskep het. Van die sterrebeelde het baie ook Afrikaanse name, alhoewel die meeste sterrekundiges voorkeur aan die wetenskaplike Latynse benamings gee.
In 1928 en 1930 het die Internasionale Sterrekundige Vereniging in Leiden (Nederland) die 88 moderne sterrebeelde en hulle koördinate vasgelê en tegelykertyd die besluit geneem om geen nuwe beelde meer by te voeg nie. Enige sterrekundige voorwerpe wat in die toekoms ontdek sou word, sal as dele van die bestaande sterrebeelde beskou word.
Presies die helfte van die moderne sterrebeelde was al in die Griekse antieke tyd bekend, sommige van hierdie 44 beelde is selfs nog ouer en dateer uit die tydperk van die Babiloniërs.
Die begin van die sterrekunde
Die geskiedenis van die sterrekunde het moontlik saam met 'n ingrypende verandering in die menslike leefwyse begin – die oorgang van jag na die landbou. Terwyl die vroeë mense plante net ingesamel het, het die bepaling van die juiste tydstip vir die saad en oes 'n noodsaaklikheid vir beskawings geword wat boerdery as 'n ekonomiese basis gehad het. Mense het natuurverskynsels soos reën noukeurig dopgehou.
Met die verfyning van die landboumetodes is wetenskappe ontwikkel wat 'n oriëntasie in tyd en ruimte moontlik gemaak het, soos wiskunde en sterrekunde. Dit is dus nie ongewoon dat volke soos die Babiloniërs, die Maya en Inka onafhanklik van mekaar en in verskillende lande en tydperke dieselfde wetenskaplike ontwikkelingspeil bereik het nie.
Ongelukkig is daar geen argeologiese vondste of oorlewering van die vroeë geskiedenis van die sterrekunde nie. Die vroegste bronne van sowat 5 000 jaar gelede, byvoorbeeld uit Mesopotamië, is van beskawings wat reeds 'n baie hoë standaard van sterrekundige kennis gehad het.
Die groot aantal sterrebeelde wat as dierefigure gesien word, dui daarop dat hulle in dié periode van die mensheidsgeskiedenis afgebaken is toe die mens diere nie meer gejag het nie, maar hulle begin teel en beheers het.
Verder kan 'n mens 'n verbintenis tussen godsdiens, astrologie en die vroeë sterrekunde aanwys. Die sinchronisiteit van hemelse gebeurtenisse en oestye, wat vir die landbou uiters belangrik was, het tot die verering en aanbidding van die son, die maan en die sterre gelei.
Aangesien die meeste vroeë kalenders op die maanjaar met 354 dae berus het, is die sterre ook as 'n maat gebruik waarmee die wentelbaan van die maan noukeurig bepaal kon word.
Om die sterre as oriëntasie in hierdie tydsverloop op see en in die woestyne te kan gebruik, het mense die stergroeperings as beelde begin beskou. Sterre is in twee kategorieë sterrebeelde saamgevat – groepe van sterre, wat die silhoeët van 'n dier, mens of voorwerp uitbeeld, soos byvoorbeeld Orion, die jagter, en enkele sterre, wat op sigself 'n figuur simboliseer, soos byvoorbeeld die sewe sterre van die Plejade.
Om die hemele dop te hou, is in die antieke Mesopotamië, Egipte en Griekeland as die edelste van al die wetenskappe beskou. Die priesters van Assirië en Babilonië het tot die hoogs ontwikkelde sterrekykers behoort; hulle het selfs daarin geslaag om die skynbare wenteling van die hemel waar te neem.
Griekse sterrekundiges het vanaf die sesde eeu v.C. begin om elemente van die Mesopotamiese, Persiese en Egiptiese hemelkunde, astrologie en mitologie saam te smelt en verder te ontwikkel. Die idee van die tekens van die diereriem, wat later die grondslag van die Westerse astrologie en sterrekunde sou vorm, gaan terug na die 5de eeu v.C..
Endoxus, 'n student van Plato, was die eerste Griekse sterrekundige wat die bekende beelde stelselmatig begin lys het. Claudius Ptolemeus (2de eeu n.C.) het die destyds bekende kennis van die hemelkunde, onder meer die navorsing van Hippokrates (2de eeu v.C..), in 'n katalogus saamgevat waarin hy sowat 1 000 sterre, wat in die Mediterreense lande waargeneem kon word, gelys het. Hy het 48 sterrebeelde saamgestel, wat naas die twaalf beelde van die diereriem ook 21 noordelike en vyftien suidelike sterrebeelde ingesluit het. Sy werk het tot in die vyftiende eeu die belangrikste bron van die sterrekunde gebly en dien ook vandag nog steeds as 'n astronomiese standaardbron.
Dit was Europese ontdekkingsreisigers, wat 'n aantal suidelike sterrebeelde soos Crux (die Suiderkruis) waargeneem en beskryf het. Wetenskaplikes soos Johann Bayer (1572–1625), Johannes Hevelius (1611–1687) en Abbé Nicolas-Louis de Lacaille (1713–1762) het hulle by die bekende katalogus gevoeg.
De Lacaille het sy wetenskap in die gees van die Verligting beoefen en veertien van die moderne sterrebeelde afgebaken. Hy het hulle volgens die sterrekundige tradisie van die 17de en 18de eeu na voorwerpe vernoem wat in noue samehang met die wetenskaplike vooruitgang staan. Daar is dus sterrebeelde soos die Teleskoop, Mikroskoop, Kompas, Oktant, Oond en Horlosie in die suidelike hemel.
Ander moderne sterrebeelde versinnebeeld volke en eksotiese diere, wat deur die Europeërs in oorsese gebiede ontmoet en ontdek is, soos byvoorbeeld die Indiër en Kameleon, wat in die jare 1595–1597 deur die Nederlandse seevaarders Pieter Keyser en Frederik de Houtman vasgelê is. Die Poolse sterrekundige Johannes Hevelius het die beeld Skild ter ere van die Poolse koning Jan Sobieski III, oorspronklik selfs Sobieski se Skild, genoem.
Vandag word die sterrebeelde veral as 'n soort kartografiese stelsel gebruik, waarmee nuwe astronomiese voorwerpe met koördinate voorsien kan word. Sterre binne 'n sterrebeeld word volgens die rangorde van hulle helderheid met die letters van die Griekse alfabet benoem. Alpha Centauri was gevolglik die helderste ster in die beeld Centaurus, voordat daar ontdek was dat dit eintlik drie sterre is.
Maar ten spyte van die astronomiese nugterheid het die bekoring van die antieke mitologiese beelde in die hemel bewaar gebly, en hulle name is nooit aangetas nie.