Arcturus is teen 36,7 ligjare van die Son af redelik naby. Dié rooireus van spektraaltipe K0 III is sowat 7,1 miljard jaar oud, het die waterstof in sy kern opgebruik en weg van die hoofreeks beweeg. Sy massa is 1,08 keer so groot soos die Son s’n, maar dit het uitgesit sodat sy deursnee 25,4 keer dié van die Son is. Dit is sowat 170 keer so helder.
Naam
Die ster se Bayer-naam is "Alpha Boötis" en sy Flamsteed-naam "16 Boötes". Sy tradisionele naam, "Arcturus", kom van die Antieke Griekse Ἀρκτοῦρος Arktouros, "Wagter van die Beer".[7] Dit is minstens sedert die tyd van Hesiodus onder dié naam bekend.[8]
Met ’n skynbare magnitude van −0,05 is Arcturus die helderste ster in die Noordelike Halfrond en die vierde helderste ster in die lug,[10] naas Sirius (−1,46), Canopus (−0,72) en Alpha Centauri (gekombineerde magnitude van −0,27). Die dubbelster Alpha Centauri AB se twee komponente is egter albei dowwer as Arcturus. Dit maak Arcturus die derde helderste ster, net voor Alpha Centauri A (amptelik bekend as Rigil Kentaurus) met sy skynbare magnitude van −0,01.[11]
Die Franse wiskundige en sterrekundige Jean-Baptiste Morin het Arcturus in 1635 in die dag met ’n teleskoop gesien, die eerste ster behalwe die Son en supernovas waarmee dit gebeur het. Arcturus is al net voor sonsondergang met die blote oog gesien.[11]
Eienskappe
Arcturus is ’n ou rooireus met ’n sterreklassifikasie van K0 III. Hy is die helderste K-tipe reusester en sy spektrum is ’n belangrike standaard vir stellêre spektroskopie.
As ’n enkelster kan Arcturus se massa nie regstreeks gemeet word nie, maar volgens modelle is dit effens groter as die Son s'n: sowat 1,08 sonmassa.[5] Dit toon magnetiese aktiwiteit wat die koronastrukture verhit, en dit ondergaan ’n sonagtige megnetiese siklus van waarskynlik korter as 14 jaar.
Arcturus is na raming sowat 6 miljard tot 8,5 miljard jaar oud,[5] maar sy evolusiestatus is effens onseker.[12] Volgens sy kleureienskappe skuif dit verder op in die rooireusetak en sal dit voortgaan om dit te doen totdat dit sy helium begin verbrand.[5] Charbonnel et al. (1998) plaas dit egter effens bo die horisontale tak en meen dit hét al sy helium begin verbrand.[12]
Sterrekundiges noem enige element swaarder as waterstof en helium metale. Arcturus het net sowat ’n derde van die metale van die Son en is moontlik ’n Populasie II-ster.[11]
Moontlike metgesel
Volgens Hipparcos kan Arcturus ’n dubbelster wees, met ’n metgesel wat sowat 20 keer dowwer is as hy wat so naby aan hom wentel dat dit op die grens is van wat mense tans kan onderskei. Onlangse resultate is steeds twyfelagtig, maar steun die moontlikheid van ’n metgesel.[13]
Verwysings
↑Gray, R. O.; Corbally, C. J.; Garrison, R. F.; McFadden, M. T.; Robinson, P. E. (2003). "Contributions to the Nearby Stars (NStars) Project: Spectroscopy of Stars Earlier than M0 within 40 Parsecs: The Northern Sample. I". The Astronomical Journal. 126 (4): 2048. arXiv:astro-ph/0308182. Bibcode:2003AJ....126.2048G. doi:10.1086/378365.
↑ 3,03,13,2Ducati, J. R. (2002). "VizieR Online Data Catalog: Catalogue of Stellar Photometry in Johnson's 11-color system". CDS/ADC Collection of Electronic Catalogues. 2237: 0. Bibcode:2002yCat.2237....0D.
↑Henry George Liddell; Robert Scott. "Ἀρκτοῦρος". A Greek-English Lexicon (in Grieks). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 Maart 2017. Besoek op 16 Januarie 2019.
↑Rogers, John H. (1998). "Origins of the Ancient Constellations: II. The Mediterranean Traditions". Journal of the British Astronomical Association. 108 (2): 79–89. Bibcode:1998JBAA..108...79R.