In sterrekunde is regte klimming (simbool α) een van die twee rigtingkoördinate van 'n punt aan die hemelbol volgens die stelsel waarmee hemelliggame se posisie bepaal word. Die ander koördinaat is deklinasie.
Regte klimming in sterrekunde kan vergelyk word met lengtegrade in geografie. Die regte klimming se afstand word ooswaarts al langs die hemelewenaar gemeet van die lentepunt (waar die Son die hemelewenaar tydens die lente-dag-en-nagewening in Maart kruis) tot by die uursirkel van die spesifieke voorwerp (die punt op die hemelewenaar waarteenoor die voorwerp lê).[1] Regte klimming word in 'n aaneenlopende volle sirkel gemeet.[2]
Die eenhede wat gebruik word om dit aan te dui, is meestal uur ( h ), minute ( m ) en sekondes ( s ), met 24h gelyk aan 'n volle sirkel. Aangesien 'n volle sirkel 360° het, is 1h van regte klimming gelyk aan 1⁄24 hiervan, of 15 grade, 1m van regte klimming is gelyk aan 15 boogminute en 1s van regte klimming is gelyk aan 15 boogsekondes.[3]
Invloed van presessie
Die Aarde se as draai stadig weswaarts om die pole van die sonnebaan en voltooi een kringloop in sowat 26 000 jaar. Hierdie effek, bekend as presessie, veroorsaak dat die koördinate van "vaste hemelliggame voortdurend verander, al is dit baie stadig. Daarom hou lugkoördinate (insluitende regte klimming) verband met die jaar van waarneming. Sterrekundiges dui die koördinate aan met verwysing na 'n spesifieke jaar, bekend as 'n epog. Koördinate van verskillende epogs moet wiskundig aangepas word met betrekking tot mekaar, of om ooreen te stem met 'n standaard-epog.[4]
Die huidige standaard-epog is J2000, wat staan vir 1 Januarie 2000 om 12:00 Aardtyd. Die "J" dui aan dat dit 'n Juliaanse epog is. Voorheen is die opeenvolgende Besseliaanse epogs B1875.0, B1900.0 en B1950.0 gebruik.[5]
Verwysings
↑U.S. Naval Observatory Nautical Almanac Office (1992). Seidelmann, P. Kenneth (red.). Explanatory Supplement to the Astronomical Almanac. University Science Books, Mill Valley, CA. p. 735. ISBN0-935702-68-7.