Deneb, of Alpha Cygni, is die helderste ster in die sterrebeeldSwaan (Cygnus) en een van die hoeksterre van die Winterdriehoek. Dit is die 19de helderste ster in die naghemel, met ’n skynbare magnitude van 1,25. Dit is ’n blouwitsuperreus. Deneb se presiese afstand (en dus helderheid) is moeilik om te bepaal, maar dit is tussen 54 000 en 196 000 keer so helder as die Son.
Deneb se presiese afstand van die Aarde af is nog onseker. Die huidige raming van sowat 2 600 ligjare is met verskeie metodes bepaal en dit verskil aansienlik van die vorige Hipparcos-parallaksmeting wat die afstand op sowat 1 550 ligjare raam.[5][6] Die Gaia-satelliet behoort afstandsmetings van minstens twee magnitude-ordes betroubaarder as Hipparcos te gee en baie soortgelyke vrae te beantwoord, maar dit sal nie Deneb self meet nie.[7]
Selfs wanneer die laagste ramings as korrek aanvaar word, is Deneb steeds die helderste en verste ster met ’n skynbare magnitude van helderder as 1,5 en die verste van die 30 helderste sterre van die Aarde af. Volgens sy temperatuur en ligsterkte is die ster se deursnee moontlik 100 tot 200 keer dié van die Son.[8] Sy massa is sowat 20 sonmassas.[8][9] Dit is een van die grootste wit sterre bekend.
Deneb is ’n blouwit ster van spektraaltipe A2Ia, met ’n oppervlaktemperatuur van 8 500 kelvin. Sedert 1943 dien sy spektrum as een van die stabiele ankerpunte waarvolgens ander sterre geklassifiseer word.[1] Dit is die prototipe van die veranderlike sterre bekend as Alpha Cygni-veranderlikes. Sy oppervlak ondergaan nieradiale skommelings wat veroorsaak dat sy helderheid en spektraaltipe effens wissel.
Omdat Deneb so ’n groot, warm ster is, sal hy ’n kort bestaan hê en binne ’n paar miljoen jaar as ’n supernova ontplof. Die waterstoffusie in sy kern het waarskynlik reeds opgehou. Dit was moontlik ’n O-tipe ster terwyl dit in die hoofreeks was en het daarna begin uitsit en ’n superreus geword. Namate dit bly uitsit, sal dit deur die spektraaltipes F, G, K en M gaan.[2]
Deneb se sterwind veroorsaak dat dit massa verloor teen sowat 8×10−7M☉ per jaar – honderdduisend keer soveel as die Son.[8]
Name
Die ster se Bayer-naam is "Alpha Cygni" en sy Flamsteed-naam "50 Cygni". Die tradisionele naam, "Deneb", is afgelei van die Arabiesedhaneb, "stert", van die frase ذنب الدجاجة, Dhanab ad-Dajājah, of "stert van die hen".[10]