Urbanus VIII was die 235ste pous van die Rooms-Katolieke Kerk van 1623 tot 1644. Hy was die laaste pous wat gewapende stryd gebruik het om die pouslike gebiede te vergroot. Hy het die kunste bevorder en die kerk se sending hervorm. Die groot geldelike skuld wat hy egter gedurende sy pontifikaat opgebou het, het die pousdom verswak omdat sy opvolgers weens gebrek aan fondse nie die militêre en politiese mag in Europa kon volhou nie. Urbanus was ook betrokke by die konflik met Galileo oor die heliosentriese stelsel.
Biografie
Pous Urbanus VIII[1] is gebore as Maffeo Barberini op 5 April1568 in Florence, Italië, die seun van Antonio Barberini, 'n ryk koopman van Ancona en sy vrou Camilla Barbadori. Hy kry sy opvoeding by die Jesuïte en verkry 'n doktoraat in die regte van die universiteit van Pisa in 1589. Op 7 April1586 word hy priester. Op 13 Februarie1592 word hy goewerneur van Fano. Op 4 Desember1604 word Maffeo deur Pous Clemens VIII aangestel as pouslike legaat aan die hof van koning Henri IV van Frankryk. Op 20 Oktober1604 stel die pous hom aan as aartsbiskop van Nasaret. (Die pos was slegs honorêr omdat die Turke teen die tyd Palestina beset het.) Op 11 September1606 stel Pous Paulus V hom aan as kardinaal-priester van St. Petrus in Montorio. Op 27 Oktober1608 word hy biskop van Spoleto. Op 6 Augustus1623 volg hy Pous Gregorius XV op, maar as gevolg van die koors wat in Rome geheers het, is hy eers gekroon op 29 September1623 deur kardinaal Alessandro d'Este. Hy regeer tot sy dood op 29 Julie1644 en word opgevolg deur Pous Innocentius X.
Pous Urbanus VIII[2] was pous vir 21 jaar gedurende die Dertigjarige Oorlog. Hy het Elisabeth van Portugal en André Corsini heilig verklaar. Hoewel hy bevriend was met Galileo was Urbanus verantwoordelik daarvoor dat Galileo na Rome geroep is om sy heliosentriese stellings te herroep. Die proses teen Galileo het van 23 September1632 tot 22 Junie1633 geduur. Die veroordeling van Galileo is eers op 31 Oktober1992 deur Pous Johannes Paulus II herroep.
Die pous het nepotisme op groot skaal toegepas. Sy familie het baie ryk geword tydens sy bewind. Hy het sowel sy broer Antonio Marcello Barberini senior as sy nefies Francesco Barberini en Antonio Barberini junior as kardinale aangestel. Sy ander broer Taddeo Barberini word aangestel as Prins van Palestrina. Taddeo het ook die aanvoerder van die pouslike troepe geword.
Urbanus was 'n gedugte digter in Latyn en 'n versameling skrifparafrases en oorspronklike gesange van hom is herhaaldelik herdruk.
Op 10 Junie1630 gee hy die titel "Eminensie" aan kardinale. In 1638 publiseer hy 'n bul wat die Jesuïte in Suid-Amerika bevoordeel deur te verklaar dat Indiane wat by die Jesuïte aansluit nie as slawe aangehou mag word nie. Hy het egter die Jesuïte se monopolie op die sendingwerk in China en Japan beëindig en ander ordes ook toegelaat om daar te werk.
In 1624 publiseer hy 'n bul wat die rook van tabak bestraf met ekskommunikasie. Die verbod is eers opgehef deur Pous Benedictus XIII. Op 13 Maart1625 publiseer Pous Urbanus sy konstitusie "Sanctissimus Dominus Noster" waarin hy uitsprake gee oor private openbarings en die verspreiding daarvan in die Kerk. Hy laat ook die missaal en die brevier verbeter en die proses van heiligverklaring reguleer. Die boek "Augustinus" deur die teoloog Jansenius (stigter van die Jansenisme) word deur hom verbied in sy bul "In eminenti" van 6 Maart1642.
Politiek
Pous Urbanus se militêre bedrywighede het nie soseer die Katolisisme in Europa probeer bevorder nie, maar meer sy eie mag en onafhanklikheid in Italië probeer beskerm. In 1626 inkorporeer hy die hertogdom van Urbino in die pouslike staat en in 1627 toe die manlike lyn van die Gonzagas in Mantua uitsterf, het hy die opvolging deur die Protestantse hertog Karel van Nevers gesteun teen die mag van die Katolieke Habsburgs. In 1641 begin hy die Castro-oorlog teen Odoardo Farnese, hertog van Parma en Piacenza. Hy het die hertog geëkskommunikeer, Castro verwoes en die hertogdom by die pouslike staat ingelyf.
Hy was die laaste pous wat die pouslike staat uitgebrei het. Hy het Castelfranco Emilia op die grens met Mantua, en die Engeleburg in Rome gefortifiseer. Hy het ook 'n wapenarsenaal in die Vatikaan ingerig, 'n wapenfabriek in Tivoli gebou en die Citavecchia hawe versterk.
Hy het die massiewe brons dakplate van die Pantheon geplunder om kanonne en die bekende baldakyn van Bernini in die Sint Pieterskerk te bou.
Dit het aanleiding gegee tot die spreuk toegeskryf aan Pasquino:
"quod non fecerunt barbari, fecerunt Barberini" (wat die barbare nie gedoen het nie,
het die Barberini).
As gevolg van sy oorloë en uitgawes aan bouwerke en kuns het Urbanus die skuld van die Vatikaan geweldig vergroot. Toe hy pous geword het was die skuld 16 miljoen scudi, in 1635 het dit opgeloop na 28 miljoen en in 1640 35 miljoen. Tagtig persent van die Kerk se inkomste is bestee aan rente betalings. Dit het Urbanus baie onpopulêr gemaak in Rome. Een van die gevolge van sy onpopulariteit was dat die kardinale na sy dood nie kardinaal Guilio Sacchetti, 'n vriend van Urbanus as pous gekies het nie, maar eerder kardinaal Giovanni Battista Pamphili wat onder die naam Pous Innocentius X regeer het.
Beskermer van die wetenskap en kuns
Pous Urbanus en sy familie het groot bedrae spandeer aan die wetenskap en kuns. Wetenskaplikes soos Athanasius Kircher is na Rome gebring en die beeldhouer Bernini het groot aansien geniet. Bouwerke wat tydens Urbanus se bewind gebou us sluit in die Barberini-familiepaleis, die Palazzo Barberini, die kollege vir die Kongregasie vir die Voortplanting van die Geloof, die Trevi-fontein in die Piazza Barberini en die kateder in die Sint Pieterskerk. Hy die kerke Santa Bibiana en San Sebastiano al Palatino laat herbou. Skilders soos Nicolas Poussin en Claude Lorrain is deur die pous gesteun. Pietro da Cotona skilder die groot skildery "Die glorifikasie van die pontifikaat van Urbanus VIII" in die salon van die Palazzo Barberini.
Die pous het ook Marguerite van Lorraine-Vaudémont, hertogin van Alençon, Jacques de la Marche, François Borgia, André Avelin, Félix de Cantalice, Marie-Madeleine de Pazzi, Gaétan de Thiene, Jean de Dieu, Columba van Rieti, Matthew Carren, Rita van Cascia, Anthony Deyman, Bonaventure van Miyako, Cosmas Takeya, Francis van Nagasaki, Gabriel van Duisco, Gaius Francis, Gundisalvus Garcia, James Kisai, Joachim Saccachibara, Johannes Kisaka, Johannes Soan van Goto, Leo Karasumara, Louis Ibaiki, Martin van Ascension, Mivhael Kozaki, Paul Ibariki, Paul Miki, Paul Suzuki, Peter Baptist, Peter Sukejiroo, Thomas Kozaki, Thomas Xico, Johannes van God en Josaphat Koncévitch salig verklaar.
Bulle, Ensiklieke en Dekrete
13 Maart1625 – Sanctissimus Dominus Noster – oor private openbarings.
29 April1625 – Omnes gentes plaudite minibus – Aankondiging van die jubileumjaar 1625.
6 Maart1642 – In eminenti – Verbied die boek "Augustinus" deur Jansenius.
Die kollege van Kardinale
Pous Urbanus het 74 nuwe kardinale aangestel in agt konsistories.
Duff, Eamon (2001). Saints and Sinners: A History of the Popes, Yale University Press. ISBN 0-300-09165-6.
Maxwell-Stuart, P. G. (2002). Chronicle of the Popes: The Reign-by-Reign Record of the Papacy from St. Peter to the Present, Thames & Hudson. ISBN 0-500-01798-0.