Constantinus II [1][2]was 'n teenpous na die dood van Pous Paulus I. Hy is aangestel deur sy broer Toto met die hulp van Toskaanse troepe en weer afgeset deur die primicesrius Chistoforus met die hulp van Lombardiese troepe.
Biografie
Constantinus is gebore in Nepi uit 'n adellike Romeinse familie. Na die dood van Pous Paulus I trek sy broer Toto, graaf van Nepi op na Rome met die hulp van Toskaanse troepe. Toto neem die heerser van Rome, die primicerius Christoforus gevange en maak sy broer pous ondanks die feit dat Constantinus geen priester was nie. Toto en Constantinus bestuur Rome vir 'n jaar as tiranne. Hulle het steun gesoek by Pepyn die Korte van Frankryk, maar Pepyn het hom afsydig gehou.
In 768 help die burgers vir Christoforus om te ontsnap na die Lombarde. Met die hulp van koning Desiderius van die Lombarde ('n vyand van Pepyn) neem hulle Rome in in die jaar 768. Desiderius benoem die Lombardiese Philippus tot pous. Op 1 Augustus 768 roep Christoforus die kerklike regbank byeen. Die regbank ontslaan Constantinus en Philippus staan vrywillig terug. Die regbank benoem toe Pous Stefanus III as die nuwe pous.
In 769 roep pous Stefanus 'n sinode byeen in die Lateraanse paleis. Daar word Constantinus tot lewenslange boetedoening in 'n klooster veroordeel. Die boetedoening het nie lank geduur nie, want later die jaar word Constantinus saam met sy seun Sergius vermoor deur Desiderius, vermoedelik op aandrang van Stefanus.
Verwysings
- ↑ J.-C. Picard, Philippe Levillain (dir.), 2003, Dictionnaire historique de la papauté, Paris, Fayard. (ISBN 2-213-618577)
- ↑ Constantine (II). (2008). Encyclopædia Britannica. Deluxe Edition. Chicago: Encyclopædia Britannica.