Die Virgo-sterrestroom is die voorgestelde naam vir ’n stroom sterre in die sterrebeeldMaagd (Virgo) wat in 2005 ontdek is.[1][2] Daar word geglo dit is die oorblyfsels van ’n sferoïdale dwergsterrestelsel wat besig is om met die Melkweg saam te smelt. Dit is die grootste sterrestelsel wat van die Aarde af sigbaar is in terme van die gebied wat dit aan die naghemel beslaan.
Die stroom is ontdek in data van die Sloan Digitale Lugopname, wat gebruik is om ’n driedimensionele kaart van die Melkweg op te stel.[3] Die eerste voorstel dat ’n nuwe sterrestelsel in die Maagd bestaan, is in 2001 gedoen.[4]
Beskrywing
Die stroom beslaan meer as 100 vierkante grade, en moontlik tot 1 000 vierkante grade (sowat 5% van die hemelbol wat op enige tyd sigbaar is, of 5 000 keer die gebied wat die volmaan beslaan). Dit bevat egter net ’n paar honderdduisend sterre. Baie van die sterre is al eeue lank bekend, maar daar is geglo hulle is normale sterre van die Melkweg. Hulle bevat egter minder metale as normale populasie I-sterre in die Melkweg.
Die stroom lê binne-in die Melkweg, sowat 30 000 ligjare van die Son en naby aan die vlak van die Sagittarius- Elliptiese Dwergsterrestelsel. Laasgenoemde is ’n klein stelsel wat ook besig is om met die Melkweg saam te smelt. Dit is egter sowat vier keer verder as die stroom en dit is dus onwaarskynlik dat die twee fisiek verwant is. Dit is wel moontlik dat die stroom ’n oorblyfsel is van die Sagittarius-dwerg terwyl hy verbrokkel in sy wentelbaan om die Melkweg.[5] Die Virgo-stroom stem ook ooreen met die Monoceros-ring wat in 2002 gevind is[6] en verbind word met die Canis Major-dwergsterrestelsel, wat eweneens met die Melkweg saamsmelt.
↑Sonia Duffau, et al., 2006, Spectroscopy of QUEST RR Lyrae Variables: the new Virgo Stellar Stream, The Astrophysical Journal, Volume 636, Uitgawe 2, ble. L97-L100 (ADS; arXiv, PDF)
↑Mario Juric, et al., Oktober 2005, The Milky Way Tomography with SDSS, The Astrophysical Journal, submitted (arXiv, PDF)
↑Katherina Vivas et al., 2001, The QUEST RR Lyrae Survey: Confirmation of the Clump at 50 Kiloparsecs and Other Overdensities in the Outer Halo, The Astrophysical Journal, Volume 554, Issue 1, pp. L33-L36.
↑Newberg, H. J., et al., 2002, The Ghost of Sagittarius and Lumps in the Halo of the Milky Way, The Astrophysical Journal, Volume 569, Issue 1, pp. 245-274