Die Sone van Ondeursigtigheid (Engels: Zone of Avoidance)[1][2] is die gebied van die lugruim wat deur die Melkweg versper word.[3]
Die sone is oorspronklike die "Sone van Min Newels" genoem in 'n referaat in 1878 deur die Engelse sterrekundige Richard Proctor, wat verwys het na die verspreiding van newels.[4]
Agtergrond
Wanneer van die Aarde af na die ruimte gekyk word, versper ligdemping, ruimtestof en sterre op die vlak van die Melkweg (galaktiese vlak) die uitsig op sowat 20% van die lugruim buite die sterrestelsel by sigbare golflengtes. Die katalogusse van optiese sterrestelsels is dus onvolledig naby die galaktiese vlak.
Moderne ontwikkelings
Baie projekte het ten doel om die beperking van kennis weens die Sone van Ondeursigtigheid te omseil. Die stof en gas in die Melkweg veroorsaak 'n demping by optiese golflengtes, en voorgrondsterre kan met sterrestelsels op die agtergrond verwar word. Die uitwerking van demping neem egter af by langer golflengtes, soos met infrarooi, en die Melkweg is feitlik deursigtig by radiogolflengtes. Opnames in die infrarooi, soos IRAS en 2MASS, het 'n vollediger prentjie verskaf van die lugruim buite die Melkweg. Twee baie groot nabygeleë sterrestelsels, Maffei 1 en Maffei 2, is in 1968 deur Paolo Maffei in die Sone van Ondeursigtigheid ontdek danksy hulle infrarooi-uitstraling.
Sowat 10% van die lug bly egter moeilik om waar te neem, want voorwerpe buite die Melkweg kan verwar word met sterre in die Melkweg.
Met projekte wat radiogolflengtes gebruik, is baie sterrestelsels ontdek wat nie in die infrarooi gesien kan word nie. Voorbeelde van sterrestelsels wat van hulle HI-uitstralings ontdek is, is Dwingeloo 1 en Dwingeloo 2, onderskeidelik in 1994 en 1996.