Orchards is ’n goed gevestigde voorstad met groot straatblokke, boomryke strate en groot, tydlose wonings, waarvan baie gerestoureer of onderverdeel in woonstelle is. Die NG gemeente Johannesburg-Noord, gestig in 1942, se kerkgebou is geleë by Orchardsweg 18. Dié gemeente staan sedert 2011 bekend as die NG gemeente Andrew Murray en is Afrikaans sowel as Engels. Die sanger Gé Korsten se vader was die bouaannemer van die gebou en sy skoonvader, ds. Attie Burger het hom en sy bruid, Elna, op 5 Januarie1952 in die kerk in die huwelik bevestig.
Die Laerskool Dirkie Uys is in 1928 in Orchards gestig en was tot 1995 die enigste Afrikaansmediumskool in die omgewing. In daardie jaar het dit oorgeskakel na 'n parallelmediummodel, maar in 2000 Engelsmedium geword toe die naam na Orchards Primary School verander is.