Die 56ste jaarlikse Cannes-rolprentfees is van 14-25 Mei 2003 gehou. Die Franse akteur, regisseur en vervaardiger Patrice Chéreau was die voorsitter van die jurie. Die Italiaanse aktrise en model Monica Bellucci het die opening- en die afsluitingseremonie aangebied.[1] Altesaam 48 rolprente en kortfilms is vir mededinging gekies.
Die Amerikaanse rolprent Elephant met Gus van Sant as regisseur, wat op die bloedbad by die Columbine-hoërskool geskoei is, het die Palme d'Or gewen.[2][3] Die fees is geopen met Gérard Krawczyk se Fanfan la Tulipe en afgesluit met Charlie: The Life and Art of Charles Chaplin van Richard Schickel.[4]