Die geskiedenis van die antieke Nabye Ooste begin met die opkoms van Sumer in die 4de millennium v.C., hoewel die eindtyd van bron tot bron verskil. Die term dek die Brons- en Ystertydperk in die streek tot óf met die verowering van die Achaemenidiese Ryk in die 6de eeu v.C. óf dié van die Masedoniese Ryk in die 4de eeu v.C. óf die Moslemse verowerings in die 7de eeu v.C.
Die antieke Nabye Ooste word beskou[3] as een van die wiege van die beskawing. Dit is hier waar intense landbou dwarsdeur die jaar vir die eerste keer beoefen is. Dit het gelei tot die eerste digte stedelike nedersettings en die ontwikkeling van baie bekende instellings van die beskawing, soos sosiale klasse, gesentraliseerde regering en ryke, en georganiseerde godsdiens en welsyn. Dit het ook gelei tot die eerste skryfstelsel, alfabet (abjad), geldeenheid en regskodes, vroeë ontwikkelings wat die fondament gelê het vir sterrekunde en wiskunde, en die ontdekking van die wiel.
In dié tydperk het state al hoe groter geword, totdat die streek beheer is deur militaristiese ryke wat ’n aantal verskillende kulture verower het.
Die begrip Nabye Ooste
Die term "antieke Nabye Ooste" kom van die 19de-eeuse onderskeid wat getref is tussen die Nabye en Verre Ooste. Dit het ná die Krimoorlog ontstaan as wêreldstreke van belang vir die Britse Ryk. Die gebiede waar die Hamidiese slagting onder die Armeniërs en Assiriërs deur die Ottomaanse Ryk van 1894 tot 1896 plaasgevind het, is as die Nabye Ooste beskryf. Die verhoog van die Sino-Japannese Oorlog van 1894 tot 1895 is die Verre Ooste genoem.
Ná die val van die Ottomaanse Ryk het die betekenis van die term Nabye Ooste aansienlik vervaag, want dit is hoofsaaklik gebruik om die maksimum omvang van die Ottomaanse Ryk te beskryf. Die term "Midde-Ooste" vir dié streek het gewilder geraak, hoewel "antieke Nabye Ooste" onder argeoloë gevestig is en ’n spesifieke betekenis gekry het: Dit strek van Wene (in die noorde) tot die punt van die Arabiese Skiereiland (in die suide), en van Egipte (in die weste) tot die grense van Irak (in die ooste). Die 19de-eeuse argeoloë het Iran by hul definisie gevoeg, want hoewel dié land nooit deur die Ottomane regeer is nie, het die Ottomaanse Ryk en Rusland dit van Europa afgesny. Die argeoloë het egter die hele Europa en gewoonlik Egipte uitgesluit, hoewel dele van laasgenoemde wel in die Ottomaanse Ryk geval het.
Tydperke
Die antieke Nabye Ooste word in verskillende blokke met diskrete name opgedeel wat tydperke met relatief stabiele kenmerke aandui.
Die Uruk-tydperk (c. 4000-3100 v.C.) het bestaan van die protohistoriese Steentydperk tot die Vroeë Bronstydperk in die geskiedenis van Mesopotamië en het gevolg op die Obeid-tydperk.[4] Dit is genoem na die Sumeriese stad Uruk en was die begin van die stedelike lewe in Mesopotamië. Dit is gevolg deur die Sumeriese beskawing.[5] In die laat Uruk-tydperk, wat ooreenstem met die Vroeë Bronstydperk, het wigskrif geleidelik ontwikkel.
Bronstydperk
Vroeë Bronstydperk
Sumer en Akkad
Sumer, in Suid-Mesopotamië, is die vroegste bekende beskawing in die wêreld. Dit het geduur van die eerste nedersetting, Eridu, in die Obeid-tydperk (laat 6de millennium v.C.) deur die Uruk-tydperk (4de millennium v.C.) en die dinastiese tydperke (3de millennium v.C.) tot met die opkoms van Assirië en Babilonië in die laat 3de millennium v.C. en vroeë 2de millennium v.C. onderskeidelik. Die Akkadiese Ryk, wat deur Sargon die Grote gestig is, het geduur van die 24ste tot die 21ste eeu v.C. en word deur baie beskou as die wêreld se eerste ryk. Die Akkadiërs het eindelik verdeel en na Assirië en Babilonië versprei.
Elam
Antieke Elam het oos van Sumer en Akkad gelê, in die verre weste en suidweste van die hedendaagse Iran. Dit het gestrek van die laelande van die provinsies Khuzestan en Ilam. In die Ou Elam-tydperk, c. 3200 v.C., het dit bestaan uit koninkryke op die Iranse plato en was dit gesentreer om die stad Anshan. Van die middel 2de millennium v.C. was dit gesentreer om Susa in die Khuzestan-laelande. Elam is in die 9de tot 7de eeu v.C. in Assirië opgeneem; die beskawing het egter voortbestaan tot 539 v.C., toe dit eindelik oorgeneem is deur die Iranse Perse. Die Proto-Elamitiese beskawing het bestaan van c. 3200 v.C. tot 2700 v.C., toe die latere hoofstad Susa deur die kulture van die Iranse plato begin beïnvloed is. In argeologiese terme stem dit ooreen met die laat Banesh-tydperk. Dié beskawing word as die oudste in Iran erken en het omtrent dieselfde tyd bestaan as sy naburige Sumeriese beskawing. Die Proto-Elamitiese skrif is ’n skryfstelsel wat vir ’n kort ruk vir die antieke Elam-taal (’n geïsoleerde taal) gebruik is voor die ingebruikneming van Elamitiese wigskrif.
Die Amoriete
Die Amoriete was ’n nomadiese Semitiese volk wat die land wes van die Eufraat van die tweede helfte van die 3de millennium v.C. af bewoon het. In die vroegste Sumeriese tekste, vanaf omstreeks 2400 v.C., word die land van die Amoriete verbind met die weste, insluitende Sirië en Kanaän, hoewel hulle oorspronklik van Arabië kon gewees het.[6] Hulle het hulle eindelik in Mesopotamië gevestig.
Middel-Bronstydperk
Assirië het ná ’n kort oorheersing deur Mitanni as ’n groot mag opgekom van die troonbestyging van Assur-uballit I in 1365 v.C. tot met die dood van Tiglat-Pileser I in 1076 v.C. Assirië het in dié tyd met Egipte meegeding en ’n groot deel van die Nabye Ooste oorheers.
Babilonië, wat deur Amoritiese stamme as ’n staat gevestig is, was 435 jaar lank onder beheer van die Kassiete. Die land het tydens die Kassitiese tydperk gestagneer en Babilonië is dikwels deur Assirië of Elam oorheers.
Die Hetitiese Ryk is die een of ander tyd ná 2000 v.C. gestig en was ’n groot mag wat tot 1200 v.C. in Klein-Asië en die Levant oorheers het. Dit is daarna eers deur die Frigiërs oorgeneem en toe deur Assirië ingepalm.
Laat Bronstydperk
Die Horiete het van omstreeks 2500 v.C. in Noord-Mesopotamië en streke net oos en wes daarvan gewoon. Hulle het moontlik in die Kaukasus gewoon en die streek van die noorde af binnegekom, maar dit is nie seker nie. Hulle het hulle later gevestig in klein koninkryke dwarsdeur Noord-Mesopotamië en Sirië. Die grootste en invloedrykste van dié koninkryke was Mitanni. Die Horiete het ’n aansienlike rol gespeel in die geskiedenis van die Hetiete.
Isuwa was ’n antieke koninkryk in Anatolië. Die naam word in die 2de millennium v.C. die eerste keer aangetref. In die klassieke tydperk was die land deel van Armenië. Isuwa was een van die plekke waar landbou vroeg in die Neolitikum ontwikkel het. Stedelike sentrums het omstreeks 3500 v.C. in die Bo-Eufraatvallei ontstaan. Die eerste state het in die 3de millennium v.C. gevolg. Die naam Isuwa was nie bekend nie tot met die geletterde tydperk van die 2de millennium v.C.. Min bronne van Isuwa self is al ontdek; die meeste is Hetitiese tekste. Wes van Isuwa het die koninkryk van die Hetiete gelê, en dit was nie ’n vertrouenswaardige buurman nie. Volgens verslae het die Hetitiese koning Hattusili I (c. 1600 v.C.) en sy leër stede aan die oorkant van die Eufraat verwoes. Dit stem ooreen met lae uit omtrent dié tyd wat argeoloë op terreine in Isuwa ontdek het wat dui op vernietiging deur vuur. Ná die val van die Hetitiese Ryk in die vroeë 12de eeu v.C. het ’n nuwe staat in Isuwa sy verskyning gemaak. Die stad Malatya het die sentrum van een van die sogenaamde Nieu-Hetitiese state geword. Die beweging van nomades kon die koninkryk Malatya verswak het voor die finale Assiriese inval. Die verval van die nedersettings en kulture in Isuwa van die 7de eeu v.C. tot die Romeinse tydperk is moontlik daardeur veroorsaak. Die Armeniërs het hulle later in die gebied gevestig, want hulle was boorlinge van die Armeense Plato en verwant aan die vroeëre bewoners van Isuwa.
Kizzuwatna is die naam van ’n antieke koninkryk uit die 2de millennium v.C. Dit was geleë in die hooglande van Suidoos-Anatolië in moderne Turkye. Die hoofstad van die koninkryk was Kummanni.
Luwies is ’n uitgestorwe taal van die Anatoliese tak van die Indo-Europese taalfamilie. Luwiessprekers het geleidelik deur Anatolië versprei en was ná omstreeks 1180 v.C. ’n bydraende faktor in die val van die Hetitiese Ryk, waar die taal reeds wyd gepraat is. Luwies is ook in die Nieu-Hetitiese state van Sirië soos Melid en Carchemish gepraat, asook in die Sentraal-Anatoliese koninkryk Tabal wat omstreeks 900 v.C. floreer het.
Mari was ’n antieke Sumeriese en Amoritiese stad 11 km noordwes van die hedendaagse dorp Abu Kamal aan die westeroewer van die Eufraat en sowat 120 km suidoos van Deir ez-Zor, Sirië. Daar word geglo dit was sedert die 5de millennium v.C. bewoon, hoewel dit floreer het van 2900 tot 1759 v.C., toe dit deur Hammoerabi van Babilon verwoes is.
Mitanni was ’n Horitiese koninkryk in Noord-Mesopotamië van omstreeks 1500 v.C., met die hoogtepunt van hul mag in die 14de eeu v.C. Dit het bestaan uit wat vandag Suidoos-Turkye, Noord-Sirië en Noord-Irak is. Die hoofstad was Washukanni, waarvan argeoloë nog nie die presiese ligging kon vasstel nie. Die koninkryk was vermoedelik ’n feodale staat wat regeer is deur vegter-adellikes van Indo-Ariese afkoms wat die Levant-streek iewers in die 17de eeu v.C. binnegeval het. Hul invloed is duidelik in die linguistiese superstratum in Mitanni-rekords.
Yamhad was ’n antieke Amoritiese koninkryk. ’n Aansienlike Horitiese bevolking het ook daar gewoon en hul invloed is in die streek se kultuur te sien. Die koninkryk was magtig tydens die Middel-Bronstydperk, omstreeks 1800-1600 v.C. Sy grootste teenstander was Qatna verder suid. Yamhad is eindelik in die 16de eeu v.C. deur die Hetiete verwoes.
Die Arameërs was Semitiese, halfnomadiese veeboere wat in Bo-Mesopotamië en Aram (Sirië) gewoon het. Hulle was nooit ’n verenigde ryk nie; hulle was verdeel in onafhanklike koninkryke oor die hele Nabye Ooste. Hulle het egter hul taal- en kultuurstempel op die hele Nabye Ooste en verder afgedruk, aangehelp deur massamigrasies deur opeenvolgende ryke, insluitende die Assiriërs en Babiloniërs. Geleerdes het selfs al die Engelse term Aramaization gebruik vir die Assyro-Babiloniese volke se tale en kulture.[7]
Die Seevolke was ’n konfederasie seevarende aanvallers uit die 2de millennium v.C. wat na die oostelike oewers van die Middellandse See gevaar en politieke onrus gesaai het. Hulle het ook probeer om Egipte tydens die heerskappy van die 19de Dinastie in te val en beheer oor die land oor te neem, en weer in Jaar 8 van die bewind van Ramses III van die 20ste Dinastie.[8]FaraoMerneptah verwys uitdruklik na hulle as "die uitheemse lande (of volke) van die see"[9][10] in sy Groot Karnak-inskripsie.[11]
Verval in die Bronstydperk
Sommige historici beskou die oorgang van die Laat Bronstydperk na die Vroeë Ystertydperk as gewelddadig, skielik en kultureel ontwrigtend, soos blyk uit die einde van die paleisekonomieë van die Egeïese beskawings en Anatolië wat vervang is deur die geïsoleerde dorpskulture van die donker eeue in die geskiedenis van die antieke Midde-Ooste. Sommige beskryf dit selfs as ’n "katastrofe".[12]
Die verval kan gesien word teen die agtergrond van die stadige, relatief aaneenlopende verspreiding van ysterbewerking in die streek. Dit het in die 13de en 12de eeu v.C. begin met vroeë ysterbewerking in wat vandag Roemenië is.[13] Die kulturele verval van die Miceense koninkryke, die Hetitiese Ryk in Anatolië en Sirië, en die Egiptiese Ryk in Sirië en Israel, asook die einde van langafstand-handelskontakte en die skielike afname in geletterdheid het tussen 1206 en 1150 v.C. plaasgevind. In die eerste fase van hierdie tydperk is feitlik elke stad tussen Troje en Gasa gewelddadig verwoes en dikwels daarna verlate agtergelaat. Ná die geleidelike einde van die donker eeu wat ontstaan het, het nuwe Hetitiese en Aramese koninkryke in die middel 10de eeu v.C. ontstaan, asook die Nieu-Assiriese Ryk.
Ystertydperk
Tydens die Vroeë Ystertydperk, van 911 v.C. af, het die Nieu-Assiriese Ryk ontstaan en met Babilonië en ander minder sterk magte meegeding om die oorheersing van die streek. Dit was egter eers ná die hervormings van Tiglat-Pileser III in die 8ste eeu v.C.[14][15] dat dit ’n groot en magtige ryk geword het. In die Middel-Assiriese typerk van die Laat Bronstydperk was Assirië ’n koninkryk van Noord-Mesopotamië (die hedendaagse Noord-Irak), met Babilonië as sy suidelike mededinger om oorheersing. Van 1365-1076 v.C. was dit ’n groot ryk wat met Egipte en die Hetitiese Ryk meegeding het. Van die veldtog van Adad-nirari II af het dit ’n uitgestrekte ryk geword wat die 25ste Dinastie van Egipte, die Midde-Ooste en groot dele van Klein-Asië, antieke Iran, die Kaukasus en oostelike Mediterreense streek omvergewerp het. Die Nieu-Assiriese Ryk het die Middel-Assiriese periode opgevolg (14de tot 10de eeu v.C.). Sommige geleerdes, soos Richard Nelson Frye, beskou die Nieu-Assiriese Ryk as die eerste werklike ryk in die mens se geskiedenis.[16] In dié tyd het Aramees naas Akkadies die ryk se amptelike taal geword.[16]
Die state van die Nieu-Hetitiese koninkryke was Luwies-, Aramees- en Fenisiessprekende politieke entiteite van Noord-Sirië en Suid-Anatolië wat ná die val van die Hetitiese Ryk omstreeks 1180 v.C. ontstaan en tot omtrent 700 v.C. voortbestaan het. Die term "Nieu-Hetities" word soms net gebruik vir die Luwiessprekende prinsdomme soos Malatya en Karkamish, en die breër kulturele term "Siro-Hetities" vir al die entiteite wat in Suid-sentraal-Anatolië ontstaan het ná die val van die Hetitiese Ryk, soos Tabal en Quwê, sowel as vir dié in die noordelike en kusstreke van Sirië.[17]
Urartu was ’n antieke koninkryk van Armenië en Noord-Mesopotamië[18] wat omstreeks 860 v.C. opgang gemaak het tot in 585 v.C. Dit was geleë op die bergagtige plato tussen Klein-Asië, die Iranse Plato, Mesopotamië en die Kaukasusberge. Dit was later bekend as die Armeense Hoogland en die middelpunt was die Vanmeer (nou in Oos-Turkye). Die naam stem ooreen met die BybelseArarat.
Die term Nieu-Babiloniese Ryk verwys na Babilonië onder die heerskappy van die 11de ("Chaldeuse") dinastie, van die opstand van Nabopolassar in 623 v.C. tot die inval deur Sirus die Grote in 539 v.C. Deur die eeue van Assiriese oorheersing het Babilonië ’n prominente status geniet en in opstand gekom by die geringste teken van die teenoorgestelde. Die Assiriërs het egter altyd daarin geslaag om Babiloniese lojaliteit te herstel, óf deur die toestaan van meer voorregte óf militêr. Dit het eindelik geëindig met die dood van die laaste sterk Assiriese heerser, Assurbanipal, in 627 v.C. Babilonië het ’n paar jaar later in opstand gekom. Saam met die Mede en Skitiërs het hulle Nineve in 612 en Harran in 608 v.C. verwoes, en die setel van mag het weer na Babilonië verskuif. Daarna het die Mede ’n groot deel van die antieke Nabye Ooste beheer vanaf hul basis in Ecbatana (hedendaagse Hamadan, Iran) – veral die grootste deel van die moderne Turkye, Iran, Irak en die Suid-Kaukasus.
Ná die val van die Mede was die Achaemenidiese Ryk die eerste van die Persiese ryke wat oor die grootste deel van die antieke Nabye Ooste en omliggende gebiede regeer het, en die tweede groot Iranse ryk (ná Medië). Toe hy op sy grootste (sowat 7,5 miljoen km2) was, was die Achaemenidiese Ryk territoriaal die grootste ryk van die klassieke oudheid en die eerste wêreldryk. Dit het oor drie vastelande (Europa, Asië en Afrika) gestrek, insluitende (benewens sy middelpunt in die hedendaagse Iran) die gebiede van die moderne Irak, die Kaukasus (Armenië, Georgië, Azerbeidjan, Dagestan en Abchasië), Klein-Asië (Turkye), Thracië, Bulgarye, Griekeland, baie van die kusstreke aan die Swartsee, Noord-Saoedi-Arabië, Jordanië, Israel, Libanon, Sirië, Afganistan, Sentraal-Asië, dele van Pakistan en al die belangrike bevolkingsentrums van antieke Egipte tot so ver as Libië. Dit is in die Westerse geskiedenis bekend as die vyand van die Griekse stadstate in die Grieks-Persiese Oorloë, vir die vrylating van die Israeliete uit hul Babiloniese gavangenskap en vir die instelling van Aramees as die ryk se amptelike taal.
Godsdienste
Antieke beskawings in die Nabye Ooste is in ’n groot mate beïnvloed deur spirituele gelowe, wat gewoonlik nie ’n onderskeid getref het tussen hemel en aarde nie.[19] Hulle het geglo goddelike aksies beïnvloed alle aardse sake, asook dat die toekoms voorspel kan word.[19] Voorbodes is dikwels in Egipte en Mesopotamië aangeteken, asook rekords van belangrike gebeure.[19]
↑A convenient table of sea peoples in hieroglyphics, transliteration and English is given in the dissertation of Woodhuizen, 2006, who developed it from works of Kitchen cited there.
↑Reël 52. Die inskripsie word gewys in Manassa bl. 55, plaat 12.
↑Drews, Robert (1995). The End of the Bronze Age: Changes in Warfare and the Catastrophe CA 1200 B.C. United States: Princeton University Press. p. 264. ISBN978-0-691-02591-9.
↑Sien A. Stoia en die ander essays in M.L. Stig Sørensen en R. Thomas, reds., The Bronze Age—Iron Age Transition in Europe (Oxford) 1989, en T.H. Wertime en J.D. Muhly, The Coming of the Age of Iron (New Haven) 1980.
↑Tadmor, H. (1994). The Inscriptions of Tiglath-Pileser III, King of Assyria.pp.29
↑ 16,016,1Frye, Richard N. (1992). "Assyria and Syria: Synonyms". PhD., Harvard University (in Engels). Journal of Near Eastern Studies. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 April 2020. And the ancient Assyrian empire, was the first real, empire in history. What do I mean, it had many different peoples included in the empire, all speaking Aramaic, and becoming what may be called, "Assyrian citizens." That was the first time in history, that we have this. For example, Elamite musicians, were brought to Nineveh, and they were 'made Assyrians' which means, that Assyria, was more than a small country, it was the empire, the whole Fertile Crescent.
↑Hawkins, John David; 1982a. "Neo-Hittite States in Syria and Anatolia" in Cambridge Ancient History (2de uitg.) 3.1: 372-441. Ook: Hawkins, John David; 1995. "The Political Geography of North Syria and South-East Anatolia in the Neo-Assyrian Period" in Neo-Assyrian Geography, Mario Liverani (red.), Università di Roma "La Sapienza", Dipartimento di Scienze storiche, archeologiche e anthropologiche dell’Antichità, Quaderni di Geografia Storica 5: Roma: Sargon srl, 87-101.
↑ 19,019,119,2Lamberg-Karlovsky, C. C.; Jeremy A. Sabloff (1979). Ancient Civilizations: The Near East and Mesoamerica. Benjamin/Cummings Publishing. p. 4. {{cite book}}: Onbekende parameter |last-author-amp= geïgnoreer (hulp)
Hallo, William W. & Simpson, William Kelly, The Ancient Near East: A History, Holt Rinehart and Winston Publishers, 2de uitg., 1997. ISBN 0-15-503819-2.
Sasson, Jack. The Civilizations of the Ancient Near East, New York, 1995
Van de Mieroop, Marc. History of the Ancient Near East: Ca. 3000-323 B.C., Blackwell Publishers, 2de uitg., 2006. ISBN 1-4051-4911-6.