Die Golden Gate-Hoogland- Nasionale Park is geleë in die Oos-Vrystaatse bergland; dit lê aan die voetheuwels van die Malutiberge. Die park is op 13 September 1963 geproklameer[1] en in November 2008 tot 34 000 ha vergroot deur die insluiting van die voormalige QwaQwa Nasionale Park.[2] Die hoogte van die park wissel van 1 892 m tot 2 770 m bo seevlak. Aan die suide van park is die Monantsapas op die grens met Lesotho. Die Caledonrivier ontspring naby die pas.
Die park is vernoem na die goue kleure wat die sandsteen aanneem wanneer die son daarop skyn. Die bekendste van die sandsteenrotse is die Brandwagrots wat bo die park en hotel uittroon. Na die suide is die Ribbokkop 'n bekende baken wat deel vorm van 'n staproete al langs die Ribbokspruit wat per voet of viertrekmotor onderneem kan word.
Die oostelike gedeelte van die park vorm die waterskeiding tussen die oostelike en westelike gedeelte van Suid-Afrika. Reën wat oos van hierdie waterskeiding val, vloei uiteindelik in die Indiese Oseaan in, terwyl water aan die westelike kant in die Atlantiese Oseaan invloei.
Die habitat op die hoogland huisves verskillende dierespesies,[3] insluitend:
Daar is ook 'n groot verskeidenheid voëls wat hier aangetref word: witkruisarend, jakkalsvoël, bloukraanvoël, sekretarisvoël en verskeie ander spesies. Die skaars lammergier met 'n vlerkspan van 3 m kom ook hier voor.
Karp kom voor in die Golden Gatedam en die reënboogforel in die rivier onder die dam en ook in die Ribbokspruit. Die kleinbek-geelvis was voorheen opgemerk in die Klein-Caledonrivier maar is vir 'n geruime tyd nog nie weer opgemerk nie terwyl die dikkop-ghieliemientjie wydverspreid is in die park.
Akkommodasie in die park is beskikbaar by Glen Reenen- en die Brandwagruskampe. Karavaan- en tentstaanplekke met ablusie- en opwasgeriewe en 220V krag is by Glen Reenenkamp beskikbaar. 'n Kampwinkeltjie met die nodigste behoeftes en kurio's is oorkant die pad, langs ontvangs, asook 'n vulstasie. Die hotel was voorheen deel van die Brandwagruskamp, maar ná sy onlangse opknapping, word dit afsonderlik bedryf deur SANParke as Golden Gate Hotel. Die naaste dorp wes vanaf Golden Gate-Hoogland- Nasionale Park is Clarens, maar Phuthaditjhaba kan ook maklik via 'n goeie teerpad (R712) ooswaarts bereik word. Op hierdie hoofpad is ook die afdraai noord na die Highlands Mountain Retreat en suid by 28°28′19″S 28°44′42″O / 28.472°S 28.745°O / -28.472; 28.745 na die Basotho Cultural Village se grasdakchalets wat as oornagakkommodasie deur SANParke bestuur word.