Die diereriem (ook die sodiak genoem) is ’n sowat 20 grade breë, denkbeeldige gordel aan die hemelruim waarlangs die son, maan en planete oënskynlik beweeg.
Die sterrehemel draai elke dag van oos na wes om ’n vaste pool. Nes die son elke dag op dieselfde plek sit, so keer die sterre elke jaar terug na dieselfde plek aan die hemelruim. Van die oudste bekende sterrebeelde is die 12 van die diereriem. Aan hulle is ’n besondere betekenis geheg omdat hulle as't ware die agtergrond vorm waarteen die son, maan en planete oënskynlik beweeg.
Die sonnebaan
Die gordel van die diereriem (sonnebaan) lê skeef op die hemelewenaar, die denkbeeldige lyn wat van die aarde se ewenaar tot in die oneindigheid strek. Dié twee vlakke vorm ’n hoek van 23,5 grade: die "helling" van die sonnebaan. As gevolg daarvan is slegs twee dae en nagte per jaar ewe lank, tydens die nagewenings: aan die begin van die herfs (in die Noordelike Halfrond die begin die lente, ongeveer 21 Maart) op 0 grade Ram; en aan die begin van die lente (in die Noordelike Halfrond die begin die herfs, ongeveer 23 September) op 0 grade Weegskaal.
Die lentepunt in die Noordelike Halfrond op 0 grade Ram is omstreeks 300 v.C. as die beginpunt van die diereriem gekies. Dit is dus die tydstip (omstreeks 21 Maart) waarop die son in die snypunt van die diereriem en die hemelewenaar tree. Die Griekse sterrekundigeHipparchos (2de eeu v.C.) het reeds opgemerk dat die lentepunt stadigaan verskuif in ’n "agteruitwaartse rigting" met die sonnebaan langs. Hy het bereken dat hierdie verskuiwing ongeveer 1 graad per 72 jaar beloop. Van hom kom ook die naam van dié verskynsel, wat hy "presessie" gedoop het. Veel later sou moderne fisici hierdie presessie vanuit ’n beweging van die aarde self kon verklaar. Die aardas lê immers skeef op sy wentelbaan: Hy slinger dus as't ware soos ’n tol. As gevolg van hierdie beweging, wat 25 800 jaar neem voordat dit weer dieselfde punt bereik, stem die sterretekens van die astrologie (sterrevoorspelling) nie meer ooreen met die sterrebeelde van die astronomie (sterrekunde) nie.
Die belangrikheid van die presessie
Terwyl hierdie presessie belangrik vir die sterrekunde is, is dit van weinig of geen belang vir die astrologie. Daarvoor is slegs die planete van belang en hoe hulle skynbaar in ’n baan om die aarde beweeg. Volgens die ou Westerse astrologiese tradisies is die pad wat die son aflê in 12 dele, of tekens, verdeel met elk ’n lengte van 30 grade. In die loop van die jaar beweeg die son deur al die tekens. Omdat die tekens hoofsaaklik diere of mense voorstel, word dié baan of gordel die diereriem genoem. Die enigste nielewende teken is die Weegskaal, wat eers later bygevoeg is. Aanvanklik is die skale van die Weegskaal beskou as die kloue van die Skerpioen.
Geskiedenis
Babiloniese astronomie
Die verdeling van die diereriem in verskillende tekens stam uit die Babiloniese astronomie, waarskynlik in die 7de eeu v.C.[1] Die Babiloniese kalender het aan elke maand ’n bepaalde sterrebeeld toegeken, beginnende by die posisie van die son in die lentepunt, wat toe nog in die Ram gelê het.
Hellenistiese astrologie
Die Hellenistiese (Griekse) astrologie was ’n samesmelting van die Babiloniese en Egiptiese astrologie. Dit was in dié tyd (vanaf die 4de eeu v.C.) dat die eerste astrologiese horoskope verskyn het.
Indiese diereriem
Die Indiese diereriem is direk van die Griekse stelsel afgelei in ’n tyd van intense kulturele kontak met Griekeland in die 2de tot 1ste eeu v.C. In die Hindoe-astrologie word die tekens rāshi genoem.
Chinese diereriem
In China het ’n onafhanklike diereriem, die "Geel Weg", ontstaan wat met die teken Rot begin. Anders as by die Westerse astrologie word tekens aan verskillende jare, en nie maande nie, toegeken.
Ongeveer 2 000 jaar gelede het die son vanaf ongeveer 21 Maart inderdaad in die sterrebeeld Ram gelê, maar deur die presessie van die nagewenings het die lentepunt sedertdien 30 grade geskuif, wat beteken dat die son tans op dié datum in die Visse lê. Binnekort sal dit in die Waterdraer lê.
Die Westerse astrologie hou by die oorspronklike indeling, waarvolgens die son aan die begin van die lente astrologies in die Ram lê. Die tekens dra dus steeds die name van sterrebeelde wat eeue gelede op ’n sekere tydstip in die pad van die son gelê het. Dis egter nie so belangrik nie, aangesien die astrologie werk met sektore van die hemelruim waaraan bepaalde eienskappe toegeken word, ongeag watter sterrebeeld daar lê.
Volgens die moderne indeling van die astronomiese diereriem is daar selfs een met die naam Slangdraer (Ophiuchus) wat nie tot die astrologiese diereriem behoort nie.