Hy ontvang sy opleiding aan die Suid-Afrikaanse Kollege (die latere Universiteit van Kaapstad) en word toegelaat tot die Kaapse Balie. In 1873 is hy getroud met Ana Robertson, die dogter van Skotse immigrante na die Vrystaat. Nadat hy na die Vrystaat verhuis, word hy in 1878 tot die Volksraad verkies en word lid van die uitvoerende raad in 1896. Sy diplomatieke vernuf het die aandag op konferensies getrek. As lid van die amptelike Boeredeputasie wat steun by buitelandse moondhede moes probeer kry vir die beëindiging van die oorlog, vertrek hy saam met Cornelius Hermanus Wessels en A.D.W. Wolmarans na die buiteland op 10 Maart1900, drie dae voor die Britse magte Bloemfontein beset. Die afvaardiging besoek talle lande in Europa en selfs Rusland en Amerika, maar sonder welslae.
Ná die vredesluiting help hy om die Orangia Unie (voorloper in die Vrystaat van die Regerende Party en later die Suid-Afrikaanse Party) te stig en hy word die party se eerste president. In 1907, met die verkryging van verantwoordelike regering, word hy die eerste (en enigste) eerste minister van die Oranjerivierkolonie. Hy het deelgeneem aan die Nasionale Konvensie en word in 1911 lid van die Geheime Raad.
In 1910 word hy tydens die eerste algemene verkiesing in die Unie van Suid-Afrika onbestrede verkies as lid van die Regerende Party in die Vrystaatse kiesafdeling Bethlehem. Hy is lid van die eerste Unie-kabinet as minister van lande, maar dien net drie jaar tot aan sy dood.
Hy was die oupa van die anti-apartheidsaktivis Bram Fischer.
Verwysings
↑(en) Clingman, Stephen (1998). Bram Fischer: Afrikaner revolutionary. David Philip Publishers. p. 8. ISBN0-86486-677-1.
↑(en) Clingman, Stephen (1998). Bram Fischer: Afrikaner revolutionary. David Philip Publishers. p. 9. ISBN0-86486-677-1.
↑(en) Clingman, Stephen (1998). Bram Fischer: Afrikaner revolutionary. David Philip Publishers. ISBN0-86486-677-1.