Edward VII (Albert Edward, deur sy familie meestal Bertie genoem; * 9 November 1841; † 6 Mei 1910) was koning van die Verenigde Koninkryk en die Britse dominiums asook Keiser van Indië van 22 Januarie 1901 tot met sy dood op 6 Mei 1910. Hy was die eerste monarg van die Huis van Sakse-Koburg en Gotha wat deur sy seun George V hernoem is tot die Huis van Windsor.
Voor hy koning geword het, was Edward die Prins van Wallis en regmatige troonopvolger vir langer as enigiemand anders in die geskiedenis.[1] Tydens die lang tyd dat sy ma, koningin Victoria, ’n weduwee was, was hy grootliks uitgesluit van enige politieke mag en het hy die modebewuste elite met ’n luilekker lewe verpersoonlik.
Bewind
Die Edwardiaanse tydperk, wat ooreengestem het met Edward se bewind en na hom genoem is, het saamgeval met die begin van ’n nuwe eeu en het belangrike veranderings ingelui in tegnologie en die gemeenskap, soos die opgang van sosialisme en die Arbeidsbeweging. Edward het ’n rol gespeel in die modernisering van die Britse vloot, die hervorming van die weermag se mediese dienste[2] en die reorganisasie van die Britse weermag ná die Anglo-Boereoorlog. Sy werk om goeie betrekkinge met ander Europese lande, veral Frankryk, te bevorder, wat hom die bynaam "Vredemaker" besorg het, kon egter nie die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 verhoed nie.
Titels en aanspreekvorms
9 November – 8 Desember 1841: Sy Koninklike Hoogheid die Hertog van Cornwallis
8 Desember 1841 – 22 Januarie 1901: Sy Koninklike Hoogheid die Prins van Wallis
in Skotland: Sy Koninklike Hoogheid prins Albert Edward, die Hertog van Rothesay
17 Januarie 1850 – 22 Januarie 1901: Die Graaf van Dublin
22 Januarie 1901 – 6 Mei 1910: Sy Majesteit die Koning
met betrekking tot Indië: Sy Keiserlike Majesteit die Koning-keiser
↑Hy was die regmatige opvolger vir 59 jaar, 2 maande en 14 dae. Koning Charles III, die laaste Prins van Wallis, het dit op 21 April 2011 oortref. Edward was Prins van Wallis vir 59 jaar, 1 maand en 13 dae; Charles het dit op 9 September 2017 oortref.