Toe diamante in 1867 by Hopetown ontdek is, is 'n hoofpad teen 'n reghoek bo-oor die hoofstraat van Victoria-Wes gemaak. Hotelle, winkels en selfs 'n koerant is opgerig. Die spoorweg het 12 km van die dorp af verbygeloop en Victoria-Wes moes tevrede wees met 'n spoorweghalte met die koddige naam Victoria-Wes-Weg en 'n swak grondpad dorp toe.
NG gemeente
Die dorp het sy ontstaan te danke aan die voorstelling in April 1844 van die eerste kerkraadslede, wat dadelik oorgegaan het om grond aan te koop vir die aanlê van 'n dorp. Vir 23 000 riksdaalders (£1725) is die plaas Kapoksfontein en 'n deel van die plaas Zeekoegat aangekoop en op 28 Augustus1844 besluit die kerkraad dat die "parochie . . . naar onze geliefde koningin 'Victoria' zoude genoem worde". Die getal belydende lidmate was in 1979 726, in 1990 566 en in 2007 465.
Besienswaardighede
Die Apollo-teater is die enigste oorblywende voorbeeld van 'n Art Deco-teater uit die dekade na 1950. Gereelde rolprentfeeste word hier aangebied. Die Handelspos en Mannetjies Roux-museum bied aandenkings van die legendariese Springbok-rugbyspeler te koop aan. Die Anglikaanse kerk, gebou in 1869, het twee pragtige gebrandskilderde ruite.
Daar is 'n wildreservaat buite die dorp met springbokke, elande, swartwildebeeste, blesbokke, gemsbokke en ander wild. Op 'n nabygeleë plaas is daar 'n aansienlike versameling ou motorkarre, onder meer stoomaangedrewe modelle en een van Adolf Hitler se koeëlvaste voertuie.
Bevolking
Volgens die World Gazetteer het Victoria-Wes se bevolking van 8 409 in 1996 tot 8 164 in 2007 afgeneem, maar weer tot 11 202 in 2008 toegeneem.[3]