Veelvoudige beligting in fotografie en kinematografie is die gebruik van twee of meer beligtings om een beeld te skep. Vir twee beligtings word die term dubbele beligting meestal gebruik. Die beligtingswaardes kan dieselfde wees of nie.
Oorsig
Om ’n veelvoudige beeld te skep, word die sluiter meermale geopen om die film meer as een keer te belig, gewoonlik met verskillende tonele. Die eindproduk is een beeld wat op die ander een gesuperponeer is. Die tegniek word dikwels gebruik om ’n kunsgevoel aan die foto te verleen of kan gebruik word om ’n spookagtige foto te skep met mense wat nie oorspronklik op die toneel was nie. Dit word soms gebruik om mense poetse te bak.
Die tegniek is veral maklik met kameras waarin die film met die hand aangedraai word. Met kameras wat outomaties die film aandraai, is dit moeiliker omdat die film teruggedraai moet word. Sommige outomatiese kameras het ’n opsie vir veelvoudige beligtings, maar dit moet gestel word voordat elke foto geneem word.
Omdat dieselfde stuk film meermale belig word, moet die foto's effens onderbelig word om te voorkom dat die finale produk oorbelig is. As die film byvoorbeeld twee keer belig gaan word, moet ’n beligtingskompensasie van −1 EV gedoen word, en vir vier beligtings ’n kompensasie van −2 EV. Dit sal miskien nie nodig wees as ’n goed beligte voorwerp teen ’n swart agtergrond afgeneem word nie omdat die agtergrond onderbelig sal bly.
Medium- tot min lig is ideaal vir veelvoudige beligtings.
Digital
In digitale fotografie kan beelde ná die tyd op mekaar gesuperponeer word deur sagteware te gebruik waarmee foto's verander kan word, soos Adobe Photoshop of GIMP. Met dié programme kan die deursigtigheid van die beelde verander word sodat twee beelde opmekaar geplaas kan word. Lae (layers) kan ook geskep word vir ’n spesiale effek.
Baie digitale kameras laat veelvoudige beligtings toe sonder die nodigheid vir eksterne sagteware.