Die Universiteit van Suid-Afrika is 'n universiteit in Pretoria, Gauteng, wat deur afstandsonderrig opleiding aan studente binne en buite Suid-Afrika verskaf. Die universiteit staan ook bekend as Unisa (Universiteit van Suid-Afrika). Dit was die eerste universiteit ter wêreld wat opleiding deur middel van korrespondensie verskaf het. In Desember 2017 het die universiteit 381 484 ingeskrewe studente vanoor die hele wêreld gehad, wat beteken dat hy die grootste universiteit in Afrika is en ook een van die wêreld se mega-universiteite. Volgens 'n peiling in 2010, was Unisa die agtste beste universiteit in Suid-Afrika, en die 1290e in die wêreld.[4]
Die Universiteit van die Kaap die Goeie Hoop is in 1873 gestig. Na uniewording is dit in 1916 in die huidige Universiteit van Suid-Afrika omskep. In die 1940's het die behoefte aan afstandsonderrig ontstaan. In 1951 kom Unisa as 'n suiwer eksterne universiteit tot stand.
Unisa se Muckleneuk-kampus is geleë in Pretoria en is 'n belangrike landmerk van die hoofstad. Dit was in 1972 dat Unisa na hul nuwe tuiste op Muckleneuk Rif verhuis het en die ou kwartier in Sentraal-Pretoria ontruim was. Die kompleks van geboue is ontwerp deur Bryan Sandrock Architects in die 1960's en spreek 'n internasionale styl uit wat gekenmerk word deur monumentale verhoudings en ingenieurswese soos die cantilevered strukture. Die mees opvallende kenmerk is die lang projeksie van die kop van die heuwel, ondersteun deur 'n reuse staaldraer wat op 'n massiewe kolom rus.
Ook in Pretoria is die Sunnyside-kampus, die hoofarea van studente-aktiwiteit. Die Florida-kampus in Johannesburg is Unisa se wetenskapskampus. Die Fakulteit Landbou en Omgewingswetenskappe en sommige departemente van die Fakulteit Wetenskap, Ingenieurswese en Tegnologie word hier gehuisves. Die wetenskapkampus bevat 12 geboue, 'n biblioteek, twee ouditoriums en 'n groot leerarea. Dit sluit ook 'n tuinbou-sentrum en 'n veeldoelige navorsings- en opleidingsfasiliteit wat ontwerp is om die onderwys- en navorsingsbehoeftes van studente in 'n verskeidenheid programme, insluitende landbou, sierbou en natuurbewaring, te bevredig. [5]
Koning Edward VII het in 1903 'n heraldiese wapen aan die universiteit verleen. Dit is in 1904 by the College of Arms in Londen geregistreer : In goud, 'n anker met kabel dwarsbalksgewys geplaas en daaroorheen 'n oop boek waarop die woorde SPES IN ARDUIS, alles van natuurlike kleur; in die skildvoet 'n gekanteelde muur van natuurlike kleur belaai met 'n goue ring: op 'n rooi skildhoof 'n roos van silwer, geknop, gepunt en omgewe deur stralekrans, alles van natuurlike kleur en vergesel van twee goue ringe.[6]
Die wapen is in 1955 by die Departement van Binnelandse Sake en in 1983 by die Buro vir Heraldiek geregistreer. Nadat 'n paar wysigings aangebring is, is dit in 1986 weer by die Buro geregistreer. Die wysigings was (a) die woorde is van die boek na 'n krul onder die skild verskuif, (b) die goue stralekrans is verwyder, en (c) 'n helmteken bestaande uit 'n anker vergesel van 'n goue ring en 'n silwer roos is bygevoeg.[7]
Die Universiteit het deur 'n herposisionering proses gegaan in 2005 [8] waartydens 'n nuwe logo en leuse gekies is in lyn met nuwe doelwitte vir die Universiteit. Die nuwe logo (wat die wapen vervang) word voorgestel deur die universiteit kleure naamlik Oranje, Rooi en Blou en die leuse word verander van Spes in ardius na Pro Gentibus Sapientia wat vertaal na In diens van die mensdom.
As 'n ope-afstandonderrig-instansie, en een van die wêreld se mega-universiteite, het Unisa akademiese aanbiedinge wat verband hou met beide tegnologiese en tradisionele universiteite. Dit sluit in, maar is nie beperk nie tot, 'n kombinasie van loopbaangeoriënteerde kursusse wat gewoonlik geassosieer word met 'n universiteit van tegnologie en formatiewe akademiese programme wat tipies gekoppel is aan 'n tradisionele universiteit.
Die universiteit beskik oor 8 fakulteite (of kolleges) en 'n nagraadse bestuurskool, naamlik: [9]
Benewens die agt fakulteite en nagraadse bestuurskool het Unisa talle buro's, sentrums, institute, museums en eenhede[10] wat akademiese ontwikkeling en navorsing ondersteun.
In 2018 is die Universiteit van Suid-Afrika deur die Times Higher Education as die 8ste beste universiteit in Suid-Afrika aangewys. Dit maak die universiteit die 11de beste universiteit in Afrika, uit 30. [11]