Underberg is 'n klein dorp in die suidweste van KwaZulu-Natal (Suid-Afrika), naby die grens met Lesotho. Die dorp het 'n bevolking van 2 694 in 2011 gehad[1] Die dorp is 5 km suid van Himeville.
Geskiedenis
Underberg, aan die Umzimkulurivier, het as 'n enkele winkel ontstaan wat in 1886 hier opgerig is om die boere te bedien. Die owerhede het gemeen dat die dorp nie oor genoegsame natuurlike verdedigingslinies beskik het nie en het Himeville verder noord bevorder as die setel van die landdrosdistrik. Die dorp is die terminus vir die takspoorlyn vanaf Donnybrook.
Distrik
Die distrik is 1 937 km² groot. Die belangrikste ekonomiese aktiwiteit is bees- en skaapboerdery. Die distrik is waterryk en forelle kom natuurlik hier voor. Die Coleford-natuurreservaat is 25 km suid van Underberg.