Pluimbal (Engels: Badminton) is 'n sport waartydens opponente rakette gebruik om 'n pluimpie oor die net na mekaar te slaan. Pluimbal word in 'n saal gespeel sodat wind en weer nie die spel beïnvloed nie.
Spelvorme:
mans enkelspel
dames enkelspel
mans dubbelspel
dames dubbelspel
gemengde dubbelspel
Pluimbal is 'n binnenshuise sportsoort wat baie ooreenkomste met tennis toon. Dit word egter met 'n veerpluim in plaas van 'n bal gespeel en die klem val meer op vaart as op krag.
Spelers moet dan ook oor 'n besondere reaksievermoë en groot beweeglikheid beskik. Op internasionale vlak blink veral Asiatiese pluimbalspelers uit. Die spel word ook in Suid-Afrika gespeel.
'n Spel soortgelyk aan pluimbal is reeds in die 17de eeu in Europa gespeel, maar die moderne weergawe daarvan is uit Indië afkomstig, waar Engelse soldate daarmee kennis gemaak het. Dit is in omstreeks 1870 in die Weste op die Engelse landgoed Badminton bekend gestel (vandaar die Engelse naam vir die spel: badminton) en van 1893 af op georganiseerde grondslag in Engeland gespeel.
Pluimbal toon verskeie ooreenkomste met tennis, maar word hoofsaaklik binnenshuis gespeel met 'n ligte veerpluim in plaas van 'n bal. Die klem val ook eerder op vaart as op krag en 'n hou word feitlik altyd met die gewrig uitgevoer en nie met 'n deurswaaihou soos by tennis nie. Die pluim, wat gemiddeld 5 g weeg, kan na 'n harde hou met 'n snelheid van tot 200 km/h trek. Spelers moet oor 'n besondere reaksievermoë en groot beweeglikheid beskik.
Voetwerk is baie belangrik en kom in verskeie opsigte met dié van boks ooreen. Ondanks die hoë vereistes wat dus aan 'n speler gestel word, kan pluimbalspelers lank hul topgehalte handhaaf en dit het al verskeie kere gebeur dat belangrike titels oor 'n tydperk van 10 of meer jaar deur dieselfde speler gehou is. Pluimbal word deur sowel mans as vroue gespeel en daar kan net soos by tennis enkelspel-, dubbelspel- of gemengde dubbelspelwedstryde gespeel word.
'n Wedstryd word gewen deur die speler of span wat eerste 2 stelle gewen het. 'n Stel bestaan uit 15 punte vir mans en 11 punte vir vroue. As die telling in 'n manswedstryd 13-13 en in 'n vrouewedstryd 9-9 is, kan die speler wat eerste 13 (of 9) punte behaal het, besluit dat die wedstryd normaalweg moet voortgaan totdat een speler 15 punte het, of dat die wedstryd beslis moet word op grond van die beste telling uit die volgende 5 punte.
Op 14-14 (10-10 vir vroue) kan normaalweg gespeel word totdat een speler 15 (11) het, of die wedstryd kan op grond van die volgende 2 punte beslis word. Punte kan slegs behaal word deur die speler wat afslaan. By enkelspelwedstryde behou 'n speler sy afslaan tot hy 'n fout begaan, en by dubbelspelwedstryde kry albei spelers van 'n span eers die geleentheid om af te slaan; hulle kan dus 2 foute begaan voordat die ander span kan afslaan. Daar is geen wêreldkampioenskapsbyeenkoms nie, maar die jaarlikse Engelse kampioenskappe word as sodanig beskou.