Die naam "Kremlin" word ook dikwels gebruik vir die regering van die Sowjetunie (1922–1991) of tans die Russiese regering.
Geskiedenis
Oorsprong
Die terrein word reeds bewoon sedert die tweede millennium voor Christus. Argeologiese vondste op die terrein dateer uit die Brons- en Ystertydperk.
Die Slawiërs het so vroeg as die 11de eeu hier gewoon. Tot met die 14de eeu was die terrein bekend as die grad van Moskou. Die woord "kremlin" is die eerste keer in 1331 gebruik en dis onbekend waar dit vandaan kom.
Die "grad" is in 1156 aansienlik deur prins Joeri Dolgoroeki uitgebrei, in 1237 deur die Mongole verwoes en in 1339 in eikehout herbou.[1]
Setel van grootprinse
Die eerste steengebou in die Kremlin is sover bekend in die laat 1320's en vroeë 1330's gebou in opdrag van Iwan Kalita nadat Pieter, die aartsbiskop van Roes, gedwing is om sy setel van Kiëf na Moskou te verskuif. Die stad het permanente kerke nodig gehad. Die Oespenski-katedraal (1327, met die Sint Petrus-kapel, 1329), die Kloosterkerk van die Verheerliking van die Verlosser (1330) en die Aartsengel-katedraal (1333) is gebou – almal van kalksteen met ’n enkele koepel. Van dié kerke het net die Verlosser-katedraal tot in die 20ste eeu bly staan – totdat dit in 1933 deur Josef Stalin laat sloop is.
Grootprins Iwan die Grote het die Kremlin laat herbou deur ’n paar bekwame Italiaanse argitekte soos Petrus Antonius Solarius en Marco Ruffus. Hy het ook drie katedrale laat bou wat nog bestaan. Die hoogste gebou van die stad en van Moskowië was die Iwan die Grote-kloktoring, wat in 1505–'08 gebou en in 1600 tot sy huidige grootte vergroot is. Die Kremlin-mure soos hulle nou lyk, is tussen 1485 en 1495 gebou.[3]
Nadat die nuwe mure en kerke voltooi is, het die grootprins gelas dat geen geboue in die onmiddellike omgewing van die fort opgerig word nie. Iwan die Verskriklike het van sy oupa se paleise gerestoureer. Hy het ook ’n nuwe paleis en katedraal vir sy seuns gebou.
Hoewel dit steeds vir kroningsplegtighede gebruik is, is die Kremlin verwaarloos tot in 1773, toe Katharina die Grote Wasili Bazjenof aangestel het om haar nuwe woning daar te bou. Bazjenof het ’n groot Nieu-klassieke gebou ontwerp waarvoor verskeie kerke en paleise en ’n deel van die Kremlin-muur gesloop moes word. Nadat die voorbereidings getref is, is bouwerk gestaak weens ’n gebrek aan geld.
Verskeie jare later het die argitek Matwei Kazakof die afgebreekte deel van die muur en van die Tsjoedof-klooster laat herbou. Hy het ook die ruim en luuksueuse Kremlin-senaat gebou wat sedertdien aangepas is vir gebruik as die hoofwerkplek van die president van Rusland.
Ná Napoleon se inval van Rusland in 1812 het Franse magte die Kremlin van 2 September tot 11 Oktober beset. Toe Napoleon uit Moskou vlug, het hy gelas dat die hele Kremlin opgeblaas word. Die arsenaal, dele van die muur en verskeie torings is deur ontploffings verwoes en brande het die Fasettepaleis en kerke beskadig. Ontploffings het drie dae geduur, van 21 tot 23 Oktober. Gelukkig het die reën die lonte beskadig en die skade was veel kleiner as beplan. Restoureerwerk is van 1816 tot 1819 gedoen onder Osip Bove. Tydens die oorblywende deel van Aleksander I se bewind is verskeie ou geboue gerestoureer in ’n verbeeldingryke Neogotiese styl, maar baie ander is gesloop.
Met sy besoek aan Moskou vir sy kroning was tsaar Nikolaas I nie tevrede met die Groot of Winterpaleis wat in die 1750's gebou is nie. Die gebou en ’n aangrensende kerk is afgebreek en vervang deur die Groot Kremlin-paleis, wat met die Winterpaleis in Sint Petersburg moes meeding. Die paleis is in 1839–'49 gebou, gevolg deur die nuwe gebou van die Kremlinse Arsenaal in 1851.
Die Sowjet-regering het op 12 Maart1918 van Petrograd na Moskou verskuif. Lenin het die Kremlin-senaat as sy tuiste gekies en sy private kamers is vandag ’n museum. Stalin het ook daar gewoon. Hy was gretig om al die "oorblyfsels van die tsaristiese regering" te laat verwyder. Goue arende op die torings is vervang deur blink Kremlin-sterre, terwyl die muur naby die Lenin-mausoleum omskep is in ’n dodeakker.
Die Tsjoedof- en die Oespenski-klooster met hul lieflike 16de-eeuse katedrale is afgebreek om plek te maak vir die militêre skool en Kongrespaleis. Ook die Klein Nikolaas-paleis en die ou Verlosser-katedraal is afgebreek. Die tuiste van die Sowjet-regering was tot in 1955 vir die publiek gesluit. Dis eers tydens Nikita Chroesjtsjof se "Ontdooiing" dat die Kremlin weer vir buitelandse besoekers oopgestel is. Die Kremlin-museums is in 1961 gestig en die kompleks was van die eerste Russiese erfgoed wat in 1990 opgeneem is op die Wêrelderfenislys.
Geboue
Die bestaande Kremlin-muur en –torings is van 1485 tot 1495 deur Italiaanse meesters gebou. Die ongelyke driehoek sluit ’n gebied van 275 000 vierkante meter in. Die muur is tussen 3,5 en 6,5 meter breed.
Daar was oorspronklik 18 Kremlin-torings, maar hulle is in die 17de eeu tot 20 vermeerder. Die hoogste toring is die Spasskaja, wat in 1625 tot sy huidige hoogte van 71 meter verhoog is. Die meeste torings het oorspronklik tentdakke van hout gehad; die huidige steendakke met hul gekleurde teëls dateer uit die 1680's.
Katedraalplein is die hart van die Kremlin. Dit word omring deur ses geboue, onder andere drie katedrale. Die Oespenski-katedraal is in 1479 voltooi as die hoofkerk van Moskou en al die tsare is daar gekroon. Die vergulde Blagowesjtsjenski-katedraal met sy drie koepels is in 1489 voltooi en ’n eeu later in ’n gebou met nege koepels omskep. Aan die suidoostekant van die plein is die veel groter Katedraal van die Aartsengel Michiel (1508), waar feitlik al die Russiese heersers van Iwan Kalita tot Aleksei I begrawe is.
Die oudste nie-kerkgebou wat nog staan, is Iwan III se Fasette-paleis (1491), waar die keiserlike trone gehou word. Die tweede oudste is die Terem-paleis, die eerste woning van die keiserlike familie. Bogenoemde twee geboue word verbind deur die Groot Kremlin-paleis, wat in 1838 deur Nikolaas I laat bou is. Dis die grootste gebou in die Kremlin en is in die 1990's gerestoureer.
Die Arsenaal staan in die noordelike hoek van die Kremlin. Dis oorspronklik in 1701 vir Pieter die Grote gebou. In die suidwestelike deel staan die Wapensaal, wat in 1851 gebou is. Dit is tans ’n museum.
Verwysings
Hierdie artikel is merendeels vertaal vanaf die Engelse Wikipedia-artikel en:Moscow Kremlin
↑Michael C. Paul, "The Military Revolution in Russia 1550–1682", The Journal of Military History 68, No. 1 (Januarie 2004), 31.