Die geskrewe geskiedenis van die area bekend as die Kaapkolonie (en later as die Kaapprovinsie) in Suid-Afrika het begin toe Bartolomeus Dias, 'n Portugese ontdekkingsreisiger, die Kaap die Goeie Hoop in 1488 ontdek het. Later het Vasco da Gama in 1497 langs die hele kus van Suid-Afrika gevaar terwyl hy onderweg na Indië was. Die Portugese was slegs geïntereseerd in die rykdom van Asië en het nie belang gestel om 'n permanenete nedersetting in die Kaap te stig nie. Die Nederlanders het wel besluit om 'n handelstasie te stig sodat hulle skepe met water en ander voorrade aangevul kon word vir die reis na die ooste. Dit was dus slegs as 'n halfwegstasie beskou en die aanvanklike doel was nie om 'n kolonie te vestig nie.
Eerste nedersetting
Die Nederlandse nedersetting van die area begin in Maart 1647 met die stranding van die Nederlandse skip Nieuwe Haarlem. Die skeepswrak se oorlewendes bou 'n klein fort wat hulle die "Sand Fort van die Kaap die Goeie Hoop" noem. Hulle bly vir amper 'n jaar, totdat hulle deur 'n vloot van 12 skepe onder leiding van W.G. de Jong gered word.
Ná hul terugkeer na Nederland probeer van die oorlewendes die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie oortuig om 'n handelsentrum in die Kaap te open.
'n Nederlandse ekspedisie van 90 Calvinistiese setlaars, onder leiding van Jan van Riebeeck en die Politieke Raad, stig die eerste permanente nedersetting naby die Kaap die Goeie Hoop in 1652. Jan van Riebeeck was op een van die reddingskepe wat die gestrande seevaarders gered het en ná hy die land gesien het, het hy besluit om later weer terug te keer na die Kaap. Hulle kom in die hawe van die moderne Kaapstad aan op 6 April 1652 met vyf skepe: die Reijer, die Oliphant, die Goede Hoop, die Walvisch en die Dromedaris. Die Kaap was onder Nederlanse bestuur vanaf 1652 tot 1795 en weer vanaf 1803 tot 1806.[1] Die Nederlandse Kaapkolonie self begin in 1671 met die eerste aankoop van grond vanaf die Khoikhoi buite die grense van die fort wat deur Van Riebeeck gebou is.
Die eerste koloniste was, vir die groter deel, vanuit die laer werkersklas en het min omgegee vir die ontwikkeling van 'n kolonie, maar ná 'n kommissaris in 1685 aangestel is om meer setlaars te trek, het meer immigrante begin aankom wat hulle permanent hier wou vestig.
Franse vlugtelinge begin ook in die Kaap aankom nadat hulle Frankryk verlaat het na die opsegging van die Edik van Nantes. Hierdie klein groep immigrante het 'n merkbare invloed op die karakter van die Nederlandse setlaars gehad. As gevolg van die instelling van 'n beleid deur die VOC wat eksklusiewe Nederlandstalige onderrig verplig het, asook streng wette van samekoms, het die Franse Hugenote teen die middel van die 18de eeu nie meer 'n aparte identiteit gehandhaaf nie en die kennis van Frans het verdwyn. Hulle is geassimuleer in die plaaslike bevolking.
Verdere uitbreiding
Die Kaapse koloniste het uiteindelik al die grond na die noorde en ooste vanaf hul basis by Kaapstad van die Khoikhoi in besit geneem. Baie Khoikhoi is in die daaropvolgende oorloë gedood. Behalwe díé wat in oorloë gesterf het, is hele Khoikhoistamme uitgewis deur pokke-epidemies in 1713 en 1755. 'n Paar oorblywende stamme het hul onafhanklikheid behou, maar die oorgrote meerderheid van die Khoikhoi het as veewagters begin werk vir die koloniste. Die Nederlandse regering het in 1787 'n wet in plek gestel wat die nomadiese Khoikhoi aan sekere beperkings onderhewig gemaak het. Die direkte gevolg van hierdie wet was om die Khoikhoi nóg meer afhanklik van die koloniste te maak, of om hulle te dwing om noordwaarts, heeltemal verby die koloniale grens te migreer. Díé van hulle wat weggetrek het moes weer die vyandigheid van hul ou vyande, die San, in die gesig staar, wat op die vlaktes van die Nieuwveld- en Sneeuberge tot by die Oranjerivier gewoon het.
Soos die koloniste in die binneland inbeweeg het, het hulle met die San in kontak gekom. Veediefstal het algemeen voorgekom en die boere moes drasties optree om hulle vee te beskerm. Hulle het komandos op die been gebring en onder beheer van Veldkornette en Kommodante het hulle 'n georganiseerde front gevorm. Namate die bevolking toegeneem het, het die stelsel van Plaaslike Regering ontwikkel.
Die Nederlandse koloniste het ook slawe vanaf Indië, Indonesië, Madagaskar en Mosambiek ingevoer. Vermenging tussen blanke koloniste en slawe het die kern gevorm van die ontstaan van die Kleurlinge, wat tans die meerderheid van die bevolking in die Wes-Kaapprovinsie uitmaak.
Probleme met die VOC
Nie die stryd met die inheemse bevolking of die gesukkel om landbou winsgewend in die Karoo of veld te maak het die vooruitgang van die koloniste sóveel teruggehou as die noue en tiranniese beleid wat die VOC ingeneem het nie. Die Kompanjie het die kolonie se beleid van ope immigrasie gestop, die handel gemonopoliseer, die administratiewe, wetgewende en regsprekende magte in een liggaam saamgesnoer, die boere voorgeskryf watter gewasse om te verbou, groot persentasies van elke oes opgeëis en hulle lewe moeilik gemaak; dit het gelei tot verminderde verdere ontwikkeling van industrie en ondernemings. Dit het gelei tot 'n afkeer van die VOC, en 'n vryheidsgesinde uitkyk het ontwikkel wat die boere gekenmerk het vir baie geslagte. Hulle strewe om te ontsnap van die onderdrukking van die VOC het die boere genoop om verder en verder weg te trek van die regeringsetel. Die Kompanjie, in 'n poging om hierdie emigrante te beheer, het 'n magistraat (Drostdy) op Swellendam in 1745 gesetel, en nóg een op Graaff-Reinet in 1786. Die owerhede het die Gamtoosrivier as die oostelike grens van die kolonie bestempel, maar die trekkers het dit binnekort oorgesteek. In 'n poging om botsing met die 'Swartstamme' (die Xhosa) te verhoed het die Nederlanders ingestem om in 1780 die Groot-Visrivier die grens van die kolonie te maak. In 1795 het die swaar-belaste boere van die grensdistrikte, wat geen beskerming teen die Xhosa geniet het nie maar self onderwerp is aan streng reëls deur die owerhede in Kaapstad en in Europa, die amptenare van die VOC uitgedryf en onafhanklike regerings by Swellendam en Graaff-Reinet opgestel.
Nederland is deur die Franse Weermag oorwin onder die leierskap van Napoleon Bonaparte in 1795. Groot-Brittanje het dadelik op hierdie swakheid van die Nederlandse grondgebiede reageer, en die Britse weermag, onder Generaal Sir James Henry Craig vaar na Kaapstad om die kolonie te beskerm namens die StadhouerPrins Willem V van Oranje teen die Franse. Die goewerneur van Kaapstad het eers geweier om enige instruksies van die prins te gehoorsaam, maar na die Britte gedreig het om kragdadig op te tree het hy ingestem. Wat sake nóg vererger het was die feit dat die Khoikhoi hulle vorige meesters verlaat het en na die Britte gestroom het. Die boere van Graaff-Reinet het nie oorgegee tot 'n weermag teen hulle gestuur is nie, en in 1799 en weer in 1801 het hulle in opstand gekom. In Februarie 1803, as gevolg van die Vrede van Amiens, het die kolonie onder die beheer van die Bataafse Republiek gekom, wat vele nodige veranderings gebring het, net soos die Britte gedurende hul agtjarige regering van die kolonie gemaak het: een van Generaal Craig se eerste optredes was die afskaffing van marteling tydens regstoepassing.
Verwysings
↑J. A. Heese, Die Herkoms van die Afrikaner 1657 – 1867. A. A. Balkema, Kaapstad, 1971. CD Colin Pretorius 2013. ISBN 978-1-920429-13-3. Bladsy 15.
Bronnelys
The Migrant Farmer in the History of the Cape Colony. P.J. Van Der Merwe, Roger B. Beck. Ohio University Press. 1 January 1995. 333 pages. ISBN 0-8214-1090-3.
History of the Boers in South Africa; Or, the Wanderings and Wars of the Emigrant Farmers from Their Leaving the Cape Colony to the Acknowledgment of Their Independence by Great Britain. George McCall Theal. Greenwood Press. 28 February 1970. 392 pages. ISBN 0-8371-1661-9.
Status and Respectability in the Cape Colony, 1750–1870 : A Tragedy of Manners. Robert Ross, David Anderson. Cambridge University Press. 1 July 1999. 220 pages. ISBN 0-521-62122-4.
The War of the Axe, 1847: Correspondence between the governor of the Cape Colony, Sir Henry Pottinger, and the commander of the British forces at the Cape, Sir George Berkeley, and others. Basil Alexander Le Cordeur. Brenthurst Press. 1981. 287 pages. ISBN 0-909079-14-5.
Blood Ground: Colonialism, Missions, and the Contest for Christianity in the Cape Colony and Britain, 1799–1853. Elizabeth Elbourne. McGill-Queen's University Press. December 2002. 560 pages. ISBN 0-7735-2229-8.
Recession and its aftermath: The Cape Colony in the eighteen eighties. Alan Mabin. University of the Witwatersrand, African Studies Institute. 1983. 27 pages.