Die vierde FIFASokker-Wêreldbekertoernooi (Portugees: IV Campeonato Mundial de Futebol – Brasil, [ˈkwaʁtu kɐ̃pjoˈnatu mũdʒiˈaw dʒi ˌfutʃiˈbɔw]; Engels: FIFA World Cup) is vanaf 24 Junie tot 16 Julie 1950 in Brasilië aangebied. Dit was die eerste Sokker-Wêreldbekertoernooi wat in Brasilië aangebied is en die tweede in Suid-Amerika. Dit was die eerste Sokker-Wêreldbekertoernooi ná die einde van die Tweede Wêreldoorlog vyf jaar vroeër, nadat die toernooie van 1942 en 1946 weens die wêreldwye oorlog gekanselleer is. Die vorige FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1938 is twaalf jaar vroeër in Frankryk beslis.
16 nasionale sokkerspanne het aan die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1950 deelgeneem. Die spanne is in vier groepe verdeel, waarvan die beste span van elke groep na die finale rondte deurgedring het. Brasilië, Spanje, Swede en Uruguay het hul onderskeidelike groepe gewen en na die finale groep deurgedring. Dit was die enigste toernooi wat nie deur ’n enkele eindwedstryd beslis is nie en die beste span van die finale groepfase het die Jules Rimet-trofee verower. Uruguay het die trofee gewen nadat hulle Brasilië met 2–1 in die laaste wedstryd geklop en sodoende hul tweede wêreldbekertitel ingepalm het. Swede het in die derde en Spanje in die vierde plek geëindig.
Die Suid-Afrikaanse nasionale sokkerspan het nie aan die toernooi deelgeneem nie omdat hulle nie ’n lid van FIFA was nie. Beide Duitsland en Japan is nie toegelaat om aan die kwalifisering deel te neem nie. Verskeie ander lande soos Hongarye, die Sowjetunie en Tsjeggo-Slowakye wou nie aan die kwalifisering deelneem nie, terwyl België en Oostenryk in Europa; Burma, Filippyne en Indonesië in Asië; Argentinië, Ecuador en Peru in Suid-Amerika hulleself aan die kwalifisering onttrek het. Indië, Skotland en Turkye het ná hul suksesvolle kwalifisering aan die toernooi onttrek. Die nasionale sokkerspan van Engeland het vir die eerste keer aan ’n Sokker-Wêreldbekertoernooi deelgeneem, nadat die vier Britse nasionale sokkerbeheerliggame vier jaar vroeër by FIFA heraangesluit het.
Toewysing
Brasilië is op 26 Julie 1946 in Luxemburg deur FIFA gekies as die gasheer vir die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1950; gelyktydig is die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1954 aan Switserland toegeken. Daar was geen ander lande wat hulself as kandidate beskikbaar gestel het nie. Dié Sokker-Wêreldbekertoernooi is oorspronklik vir 1949 beplan, maar dit is om organisatoriese redes na 1950 verskuif.[2]
Kwalifisering
Die gasheer Brasilië en die verdedigende kampioen Italië het regstreeks vir die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1950 gekwalifiseer. Van die 14 oorblywende plekke is sewe vir Europese nasionale sokkerspanne gereserveer, ses vir die Amerikas en een vir Asië.
Die twee Spilmoondhede Duitsland en Japan is weens hul oorlogsmisdade tydens die Tweede Wêreldoorlog onder internasionale sanksies geplaas en hulle is nie toegelaat om aan die kwalifisering deel te neem nie. Hul gedeeltelik gedwonge bondgenote en die geannekseerde Oostenryk kon wél aan die kwalifisering deelneem.
Die Britse nasies is ná hul heraansluiting by FIFA vier jaar vroeër genooi om aan die toernooi deel te neem en die 1949–50 Britse Tuiskampioenskap het as kwalifisering gedien, waartydens Engeland eerste en Skotland tweede geëindig het. Skotland wou egter net deelneem nadat hulle dié kampioenskap gewen het en hulle het dus hulself onttrek.
Verskeie nasies anderkant die Ystergordyn soos Hongarye, die Sowjetunie en Tsjeggo-Slowakye het geweier om aan die kwalifisering deel te neem.
Die Suid-Amerikaanse lande Argentinië, Ecuador en Peru het ná die loting vir die kwalifiseringsgroepe hulleself onttrek, waardeur Bolivië, Chili, Paraguay en Uruguay sonder enige wedstryd gekwalifiseer het. Die Asiatiese lande Burma, Filippyne en Indonesië het hulleself aan die kwalifisering onttrek, waardeur Indië sonder enige wedstryd gekwalifiseer het. In Europa het België en Oostenryk hulleself aan die kwalifisering onttrek, waardeur Switserland en Turkye sonder afsluiting van hul finale rondte van wedstryde gekwalifiseer het.[3][4]
Kwalifiserende spanne
Die volgende 16 spanne het vir die finale toernooi gekwalifiseer:[5]
Ná hul suksesvolle kwalifisering het Skotland en Turkye hulleself onttrek. Die in die kwalifisering uitgeskakelde lande Frankryk, Portugal en die Republiek Ierland is deur FIFA genooi om die leë plekke in te neem, maar net Frankryk het dit aanvaar. Ná die loting van die groepfase het Frankryk en Indië hulleself onttrek, maar daar was nie genoeg tyd om ander spanne te nooi nie, waarvolgens die derde groep uit drie spanne en die vierde groep net uit twee spanne bestaan het.[6]
Die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1950 is oor 23 dae tussen 16 verskillende nasies oor 22 wedstryde uitgespeel. Dit het op 24 Junie 1950 op die Estádio do Maracanã in Rio de Janeiro met ’n wedstryd tussen die gasheer Brasilië en Meksiko afgeskop. Die toernooi het geëindig by dieselfde stadion op 16 Julie met die laaste en beslissende wedstryd tussen Uruguay en Brasilië, waartydens Uruguay die Jules Rimet-trofee ingepalm het.[7]
Kalender
Die volgende tabel dui die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1950 se daaglikse program aan. ’n Pers blokkie dui op wedstryde tydens die groepfase en ’n siaan blokkie op die finale rondte.
Aantal daaglikse wedstryde tydens die toernooi
Groepfase Junie/Julie
Sa 24
So 25
Ma 26
Di 27
Wo 28
Do 29
Vr 30
Sa 1
So 2
Ma 3
Di 4
Wo 5
Groep 1
1
1
2
1
1
Groep 2
2
2
2
Groep 3
1
1
1
Groep 4
1
Finale rondte Julie
Do 6
Vr 7
Sa 8
So 9
Ma 10
Di 11
Wo 12
Do 13
Vr 14
Sa 15
So 16
Finale rondte
2
2
2
Legende
Groepfase
Finale rondte
Groepfase
Die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1950 is deur 16 nasionale sokkerspanne uitgespeel. Vir die groepfase is die 16 deelnemende spanne in vier groepe van óf drie óf vier spanne elk verdeel; elke span het een wedstryd teen elk van die ander spanne in dieselfde groep gespeel. Twee punte is vir ’n oorwinning toegeken, een vir ’n gelykop en geen punte vir ’n nederlaag: spanne wat met dieselfde aantal punte geëindig het, is volgens aangetekende doele gerangskik.
Klassifisering binne elke groep was gegrond op die volgende puntestelsel:
Twee wedstrydpunte vir ’n oorwinning;
Een vir ’n gelykop;
geen vir ’n nederlaag.
Aan die einde van die groepfase is die spanne gerangskik van die eerste na die derde/vierde posisie, gegrond op versamelde wedstrydpunte, met die boonste span wat na die finale rondte deurgedring het.
Finale rondte
Die finale rondte het uit een groep met vier spanne bestaan, waartydens elke span een wedstryd teen elk van die ander spanne gespeel het. Die span wat in die finale rondte die meeste wedstrydpunte versamel het, het die toernooi en daarmee die Jules-Rimet-trofee gewen.
Wedstryde
Kwalifiseer vir die finale rondte.
Uit die toernooi geskakel.
Groepfase
13 spanne het aan die groepfase deelgeneem. Die boonste span in elke groep het na die finale rondte deurgedring. Die loting is op 22 Mei 1950 in die Departement van Buitelandse Sake in Rio de Janeiro gehou.
In 1986 het FIFA ’n verslag gepubliseer waarin al die deelnemende spanne van elke Sokker-Wêreldbekertoernooi insluitende die destydse FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1986 geranglys is volgens vordering in die kompetisie, algehele resultate en kwaliteit van die meedinger.[8][9] Die ranglys vir die 1950-toernooi is soos gevolg: