Rugby Australia (Rugby AU), tot 2017 bekend as die Australiese Rugbyunie (Engels: Australia Rugby Union, afgekort “ARU”), is die bestuursliggaam wat rugby en sewesrugby in Australië beheer. Die beheerliggaam is in 1949 gestig en in Sydney gesetel. Sedertdien verteenwoordig dit Australië by Wêreldrugby en sedert 2000 ook by Oseanië Rugby (“OR”).
Geskiedenis
In 1874 is die Suidelike Rugbyunie gestig wat vanuit Twickenham in Engeland beheer is. In 1881 is die administrasie aan Nieu-Suid-Wallis oorhandig en in 1892 het die Suidelike Rugbyunie van Nieu-Suid-Wallis en die Noordelike Rugbyunie van Queensland (gestig in 1883) die Nieu-Suid-Wallis Rugbyunie en die Queensland Rugbyunie geword.
Omdat Nieu-Suid-Wallis die ouer unie was, was hy ook verantwoordelik vir die administrasie van al die toere en vir die verteenwoordiging van Australië op die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR, nou Wêreldrugby). In 1947 het die staatsunies ooreengekom dat dit beter vir die toekoms van rugby in Australië sou wees om deur een administratiewe liggaam beheer te word. In 1948 het die IRVR ’n uitnodiging aan Australië gerig (eerder as aan ’n verteenwoordiger van Nieu-Suid-Wallis) om ’n setel op die raad in te neem.
Die eerste vergadering is gehou op 25 November 1949 met elf afgevaardigdes van Nieu-Suid-Wallis, Queensland, Suid-Australië, Wes-Australië, Tasmanië en Victoria, waartydens die Australiese beheerliggaam onder die naam Australiese Rugbyvoetbalunie gestig is.[2] In dieselfde jaar het die Australiese beheerliggaam saam met sy Nieu-Seelandse en Suid-Afrikaanse eweknieë volle lede geword van die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) wat voorheen slegs uit verteenwoordigers uit Engeland, Ierland, Skotland en Wallis bestaan het.[3][4][5] Daarbenewens was die Australiese beheerliggaam in 2000 ’n stigtingslid van die Vereniging van Oseaniese Rugbyunies (Federation of Oceania Rugby Unions, FORU; nou Oseanië Rugby).[6] Rugby Australia bestaan uit agt plaaslike beheerliggame, wat elkeen ’n deelstaat of gebied verteenwoordig.[7] In 1972 het die Australiese Hoofstadgebied ’n lid geword en in 1978 het Noord-Australië ’n buitengewone lid geword. In 2004 het die AHG-unie sy naam verander na die AHG en Suidelike NSW Rugbyunie nadat twee streeksunies in suidelike Nieu-Suid-Wallis ’n verbintenis met die AHG aangegaan het.
In 1985 is die Australiese Rugbyvoetbalunie as ’n maatskappy geïnkorporeer en in 1997 het die naam verander na Die Australiese Rugbyunie Bpk. Die naam het in 2017 weer verander na Rugby Australia Ltd. (Rugby Australië Bpk.)
Taak
Rugby Australia organiseer verskeie nasionale spanne, insluitend Australië se nasionale seniormansrugbyspan (die Wallabies), vroue en jeug. Naas die amptelike nasionale span roep Rugby Australia ook ander keurspanne byeen. Daarbenewens bestuur die beheerliggaam kinder- en jeugrugby in Australië. Kinders en jongmense word reeds op skool aan rugby bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hul met hul afrigting. Australië beskik oor ’n nasionale span vir studente, die Australian Schoolboys, wat as ’n voorbereiding op die Australiese nasionale rugbyspan dien. Die Junior Wallabies is die o/20-nasionale span en hulle neem aan die o/20-Rugbykampioenskap en die Wêreldrugby o/20-kampioenskap deel.[8][9] Hulle bestuur saam met die Argentynse Rugbyunie, Nieu-Seeland Rugby en die Suid-Afrikaanse Rugbyunie as ’n gesamentlike onderneming SANZAAR, die beheerliggaam van beide Superrugby en Die Rugbykampioenskap, die vernaamste rugbytoernooie in die Suidelike Halfrond. Rugby AU hou ook toesig oor sewesrugby in Australië en aangesien dit ’n Olimpiese sportsoort is, werk hulle met die Australiese Nasionale Olimpiese Komitee saam.
Die beheerliggaam reël ook die plaaslike kompetisies. Die hoogste rugbyliga in die land is die Nasionale Rugbykampioenskap, waaraan sewe Australiese spanne en een uit Fidji deelneem.[10] Bo die nasionale kampioenskap word jaarliks saam met spanne uit Nieu-Seeland en een elk uit beide Fidji en die Stille Oseaan-eilande (feitlik die Cookeilande, Fidji, Samoa en Tonga) die internasionale Superrugbytoernooi beslis.[11] Aangesien die seisoene min oorvleuel word talle spelers in albei professionele ligas ingespan.
Rugby Australia organiseer ook gereeld internasionale toernooie. Die Australiese en Nieu-Seelandse rugbyunies was toonaangewend by die invoering van die rugbywêreldbekertoernooi, waarvolgens beide Australië en Nieu-Seeland die eerste Rugbywêreldbeker 1987 aangebied het.[12] Daarbenewens is die Rugbywêreldbeker 2003 in Australië (alleenlik) beslis. Hulle sal ook die Rugbywêreldbeker 2027 aanbied.[13] Daarbenewens word die Australië Sewes jaarliks in Australië beslis.
Bestuur
Die bestuurstrukture van die ARU is in Desember 2012 hersien na ’n oorsig van die voormalige federale senator en Minister van Sport, Mark Arbib.[14]
Lidmaatskap
Die lede van die ARU (aandeelhouers) sluit die unies in wat Australië se deelstate en gebiede verteenwoordig, tesame met die Superrugbykonsessies in dié land, en die Rugbyuniespelersvereniging (RUPA).[15] Lede oefen hul stemreg uit op die ARU se jaarlikse algemene vergadering. Volgens die grondwet wat in 2012 aanvaar is, het elk van die agt bestaande lidunies en RUPA ’n afgevaardigde met een toegewese stem. Daarnaas het elke Superrugbykonsessie ’n afgevaardigde met een stem. Soos dit tans staan word slegs die Rebels en die Waratahs onafhanklik geadministreer, wat beteken dat die stemme van die ander drie spanne effektief deur die onderskeie lidunies wat die spanne besit, bepaal. Laastens kry lidunies met meer as 50 000 geregistreerde spelers ’n bykomende stem. Slegs Nieu-Suid-Wallis en Queensland voldoen aan hierdie vereiste. Dit bring die totale aantal stemme op sestien.[15] Die ARU het ook ’n aantal geaffilieerde groepe wat nie stemreg het nie.[15]
Nota: Die Australiese Rugbyskeidsregtersvereniging en Australiese Universiteiterugbyunie was vroeër, tot 2005 en 2014 onderskeidelik, nie-semgeregtigde lede.
Heldesaal
Rugby Australia het ’n heldesaal. Elke jaar word twee of meer noemenswaardige Australiese rugbyspelers van alle eras van die internasionale spel in die Wallaby-heldesaal ingelyf. Ingelyfdes kom uit al die toetsspanne sedert die Wallabies vir die eerste keer in 1899 gespeel het. Oorweging word geskenk aan spelers se rugbyloopbaan maar inlywing rus nie alleen op statistiese prestasies nie.
Om in aanmerking te kom vir insluiting in die Wallaby-heldesaal moes ’n speler:
Ten minste een toets vir Australië gespeel het
Vir ten minste tien jaar reeds uitgetree wees
’n Groot bydrae tot die sport gemaak het
Uitstaande vaardighede, sportmangees, toewyding, karakter en persoonlike bydrae tot hul span en die spel in hul era getoon het.
↑(en) Robert F. Dewey (2012). John Nauright, Charles Parrish (red.). Rugby Union Football, Pacific Islands. pp. 445–447. ISBN978-1-59884-300-2. {{cite book}}: |work= ignored (hulp)
↑(en) "Governance". Rugby Australia. 2020. Besoek op 27 Maart 2024.
Bahamas • Barbados • Belize • Bermuda • Britse Maagde-eilande • Curaçao • Dominikaanse Republiek • Frans-Guyana • Guadeloupe • Guyana • Jamaika • Kaaimanseilande • Kanada • Kuba • Martinique • Meksiko • St. Lucia • St. Vincent en die Grenadine • Trinidad en Tobago • Turks- en Caicoseilande • Verenigde State