Die Ierse Rugbyvoetbalunie het in 1879 met die samesluiting van twee beheerliggame ontstaan.[1] In 1886 het die IRFU saam met die Skotse Rugbyunie (SRU) en die Walliese Rugbyunie (WRU) die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) gestig.[2] In 1999 het Ierland met die aansluiting van die Fédération Internationale de Rugby Amateur (FIRA; nou Rugby Europa) by die IRVR ook ’n lid van dié kontinentale beheerliggaam geword.[3]
Taak
Die Ierse Rugbyvoetbalunie organiseer verskeie nasionale spanne, insluitend Ierland se nasionale seniormansrugbyspan, vroue en jeug. Die IRFU hou ook toesig oor sewesrugby in Ierland en aangesien dit ’n Olimpiese sportsoort is, werk hulle met die Britse en Ierse Nasionale Olimpiese Komitees saam. Naas die amptelike nasionale span roep die IRFU ook ander keurspanne byeen. Ireland Wolfhounds is die tweede nasionale span van Ierland, gevolg deur Emerging Ireland (“Opkomende Ierland”). Daarbenewens bestuur die beheerliggaam kinder- en jeugrugby in Ierland. Kinders en jongmense word reeds op skool aan rugby bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hul met hul afrigting. Ierland beskik oor ’n nasionale span vir studente, die Schoolboys, wat as ’n voorbereiding op die Ierse nasionale rugbyspan dien. Net soos ander rugbylande beskik Ierland oor ’n o/20-nasionale span wat aan die o/20-Sesnasies-toernooi en die Wêreldrugby o/20-kampioenskap deelneem.[4][5]
Die Ierse Rugbyvoetbalunie bestaan uit die vier provinsiale beheerliggame Connacht Rugby, Leinster Rugby, Munster Rugby en Ulster Rugby, wat elkeen met sy eie span deelneem aan die internasionale liga Verenigde Rugbykampioenskap, saam met spanne uit Italië, Skotland, Suid-Afrika en Wallis. Benede word die All-Ireland League tussen 50 spanne uit die hele Ierland uitgespeel. Bo die Verenigde Rugbykampioenskap word jaarliks saam met klubs uit Engeland, Frankryk, Italië, Skotland en Wallis die Europese Rugbykampioenskapbeker en die Europese Rugbyuitdagingsbeker uitgespeel.
Aangesien die Ierse nasionale rugbyspan beide die Republiek Ierland en Noord-Ierland verteenwoordig, gebruik hulle – nes die soortgelyke Ierse nasionale hokkiespan en die Ierse nasionale krieketspan – nie ’n nasionale vlag nie. Derhalwe gebruik die Ierse Rugbyvoetbalunie nóg een van die lande se volksliedere, nóg een val hul vlae as ’n verteenwoordigende simbool; pleks daarvan gebruik die Ierse nasionale rugbyspan sy eie vlag – dié van die Ierse Rugbyvoetbalunie – en himne.
Die Ierse Rugbyvoetbalunie se kenteken toon ’n klawerblaar (Shamrock) en ’n rugbybal; ’n klawerblaar is al tydens die eerste wedstryd van ’n Ierse span in 1874 op hul embleem vertoon.
Bahamas • Barbados • Belize • Bermuda • Britse Maagde-eilande • Curaçao • Dominikaanse Republiek • Frans-Guyana • Guadeloupe • Guyana • Jamaika • Kaaimanseilande • Kanada • Kuba • Martinique • Meksiko • St. Lucia • St. Vincent en die Grenadine • Trinidad en Tobago • Turks- en Caicoseilande • Verenigde State