Lombardye (Italiaans en Lombardies: Lombardia) is een van twintig administratiewe streke in Italië, geleë in die noorde van die land tussen die meer Lago Maggiore, die Porivier en die Gardameer. Lombardye grens in die weste aan Piëmont, in die noorde aan Switserland, in die noordooste aan Trentino-Suid-Tirol, in die ooste aan Veneto en in die suide aan Emilia-Romagna. Met 'n oppervlakte van 23 884 km² is Lombardye die vierde grootste administratiewe streek in Italië (na Sisilië, Sardinië en Piëmont). Die bevolking beloop sowat tien miljoen. Die streek se administratiewe setel en grootste stedelike nedersetting is Milaan (Milano in Italiaans).
Lombardye word administratief onderverdeel in elf provinsies - Bergamo, Brescia, Como, Cremona, Lecco, Lodi, Mantua, Monza en Brianza, Pavia, Sondrio, Varese en in die Metropolitane Stad Milaan.
Lombardye, wat slegs sowat agt persent van Italië se oppervlakte beslaan, genereer as die land se ekonomiese spilpunt meer as 25 persent van die bruto binnelandse produk (BBP) en sowat 25 persent van die nywerheidsproduksie. Dit is een van die ekonomies kragtigste en welvarendste streke in die Europese Unie, met 'n geskatte BBP van ongeveer €350 miljard.[1]