Lasuursteen, lasuriet of lapis lazuli is 'n diepblou metamorfe gesteente wat as 'n halfedelsteen gebruik en sedert die oudheid vir sy intense kleur gewaardeer word.
Reeds in die 7de millennium v.C. is lasuursteen in Afganistan gemyn.[1][2] Artefakte van lasuursteen wat van 7570 v.C. dateer, is ontdek in Bhirrana, die oudste terrein van die Indusvalleibeskawing.[3] Dit was baie gewild daar.[3][4] Krale van lasuursteen is in begraafplase van die Neolitikum in Mehrgarh, die Kaukasus en tot in Mauritanië ontdek. Dit is ook gebruik in Toetankamen se begrafnismasker (1341-1323 v.C.).[5]
Teen die einde van die Middeleeue is lasuursteen na Europa uitgevoer, waar dit fyngemaal is tot 'n fyn, duur pigment bekend as ultramaryn, wat deur van die belangrikste kunstenaars van die Renaissance en Barok gebruik is, insluitende Masaccio, Perugino, Titiaan en Vermeer. Dit is dikwels gebruik vir die klere van die sentrale figure van hulle skilderye, veral die Maagd Maria. Ultramaryn is al gevind in die tandsteen van Middeleeuse nonne en skribas.[6]
Verwysings
↑David Bomford and Ashok Roy, A Closer Look- Colour (2009), National Gallery Company, Londen, (ISBN 978-1-85709-442-8)