Kamala Devi Harris (/ˈkɑːmələ/, gebore op 20 Oktober1964) is 'n Amerikaanse politikus en prokureur wat op 20 Januarie 2021 as 49ste adjunkpresident van die Verenigde State van Amerika ingehuldig is. Sy is die eerste vroulike vise-president en die hoogste vroulike amptenaar in die geskiedenis van die VSA, sowel as die eerste Afro-Amerikaanse en eerste Asiatiese Amerikaanse vise-president.[1]
Harris was Joe Biden se adjunkpresidentskandidaat vir die 2020-verkiesing; hulle het die vorige president, Donald Trump, en sy adjunkpresident, Mike Pence, geklop.[2] Harris het tussen 2010 en 2017 as die prokureur-generaal van Kalifornië gedien[3] en was tussen 2017 en 2021 die junior Amerikaanse senator vir Kalifornië as lid van die Demokratiese Party.
As 'n senator het sy gepleit vir gesondheidsorghervorming, federale deskedulering van dagga, 'n pad na burgerskap vir ongedokumenteerde immigrante, die DREAM-wet, 'n verbod op aanvalswapens en progressiewe belastinghervorming.
Na Biden se onttrekking aan die presidensiële verkiesing in 2024, het Harris haar eie presidensiële veldtog geloods met Biden se onderskrywing. Op 22 Julie 2024 het Harris genoeg nie-gebonde afgevaardigdes gekry om die vermoedelike genomineerde van die Demokratiese Party in die 2024 presidensiële verkiesing te word.[4][5]