Juan Ponce de León (circa 1460 - 1521) was 'n Spaanse ontdekkingsreisiger, gebore in San Tervás de Campos, Spanje. Hy neem deel aan die oorloë van Granada en vergesel Christopher Columbus in 1493 op sy tweede tog. Nadat Nicolás de Ovando goewerneur van die Wes-Indiese eilande word, word Ponce de León kaptein van die troepe in Santo Domingo. Nadat hy 'n opstandige plaaslike hoof gearresteer het, word hy as luitenant aangestel in die provinsie Higuey in die noordooste van Haiti.
Daarna vestig hy hom by Salva León en ontwikkel plantasies. Die plaaslike mense lig hom in oor goud in San Juan de Borinquén - tans Puerto Rico. Ovando gee hom goedkeuring om 'n ekspedisie te lei na die eiland waar hy 'n nedersetting vestig. Hy word egter onttroon deur Don Diego, die seun van Christopher Columbus. Ponce de León soek daarna magtiging om gebiede buite Diego se beheer te verken en stel 'n ekspedisie voor na die eiland Bimini in die Bahamas waar die Fontein van Ewigdurende Jeug volgens oorlewering sou wees. Hy ondervind egter weerstand, vertrek na Spanje en kry toestemming van koning Ferdinand vir die ekspedisie. Op 27 Maart 1513, steeds op soek na die Fontein van Ewigdurende Jeug, ontdek hy Florida. Hy sit op 2 April 1513 voet aan land by die teenswoordige St. Augustine. Hierna keer hy via Puerto Rico terug na Spanje. In Spanje maak koning Ferdinand hom goewerneur van Bimini en Florida. In 1521 onderneem Ponce de León 'n tweede tog na Florida en word hy in 'n skermutseling met die Indiane gewond. Hy word na Kuba geneem waar hy in Mei of Junie 1521 sterf.
Sien ook
Bron
- Collier's Encyclopedia, Crowell-Collier Educational Corporation, Volume 19, Bladsy 237.