Die General Catalogue of Variable Stars (GCVS) is ’n lys veranderlike sterre. Die eerste uitgawe, met 10 820 sterre, is in 1948 deur die Wetenskapakademie van die USSR gepubliseer met B.V. Koekarkin en P.P. Parenago as redakteurs. Die tweede en derde uitgawe is in 1958 en 1968 gepubliseer, en die vierde, in drie bande, in 1985–1987. Dit bevat 28 435 sterre.[1][2] ’n Vierde band van die vierde uitgawe met verwysingstabelle is later gepubliseer, asook ’n vyfde band met veranderlikes buite die Melkweg.[2]
Die mees onlangse weergawe van die GCVS is op die GCVS-webtuiste beskikbaar. Dit bevat bygewerkte koördinate vir die veranderlike sterre in die gedrukte vierde uitgawe, asook veranderlikes wat te onlangs ontdek is om in die gedrukte weergawe te verskyn.[2][3] ’n Ouer weergawe van die GCVS uit 2004 is beskikbaar by die VizieR-diens by die Centre de Données astronomiques de Strasbourg onder die naam Combined General Catalog of Variable Stars (GCVS4.2; VizieR-databasis, nommer II/250).[4]