Paul Villard, ’n Franse chemikus en fisikus, het gammastraling in 1900 ontdek terwyl hy straling bestudeer het wat deur radium vrygestel word. In 1903 het die Britse fisikus Ernest Rutherford dié soort bestraling "gammastrale" genoem vanweë hul relatief sterk deurdringingsvermoë; hy het voorheen twee minder deurdringbare soorte vervalstraling ontdek wat hy alfa- en betastrale genoem het.[1]
Bronne
Gammastrale van radioaktiewe verval kom voor in die energie-omvang van ’n paar keV tot ~8 MeV, en dit stem ooreen met die tipiese energievlakke in kerns met ’n redelike lang leeftyd. Die energiespektrum van gammastrale kan gebruik word om die vervallende radionukliede te identifiseer met die gebruik van gammaspektroskopie. Gammastrale met ’n baie hoë energie, van 100-1 000 TeV, is al opgespoor in bronne soos die Cygnus X-3-mikrokwasar.
Natuurlike bronne van gammastrale wat op Aarde ontstaan het, is meestal die gevolg van radioaktiewe verval en sekondêre straling uit atmosferiese wisselwerkings met kosmiese strale. Daar is egter ook ander, seldsame natuurlike bronne, soos gammastraalflitse in die Aarde se atmosfeer wat gammastrale produseer uit elektronaksie op die kern. Kunsmatige bronne van gammastrale sluit in splyting, soos in kernreaktors, en fisika-eksperimente by hoë energievlakke, soos neutrale pionverval en kernfusie.
X-strale
Gamma- en X-strale is albei elektromagnetiese straling en oorvleuel in die elektromagnetiese spektrum; by sekere energieë kan hulle nie bloot deur opsporing uit mekaar geken word nie. Om hulle te onderskei moet hul oorsprong vasgestel word. In die geval van X-strale is die bron buite die kern vanweë elektronwisselwerking. Wetenskaplike terminologie verskil van veld tot veld. In astrofisika word strale wat fotonenergieë bo 100 keV het as gammastrale beskou en dit is die onderwerp van gammastraal-astronomie. Straling onder 100 keV word as X-strale geklassifiseer en is die onderwerp van X-straal-astronomie. Dié gebruik kom van die vroeë X-strale wat deur die mens gemaak is en energieë van net tot 100 keV gehad het, terwyl baie gammastrale hoër energieë gehad het.
Gevare
Gammastrale is ioniserende straling en dus biologies gevaarlik. Dit hou ’n risiko vir die mens se gesondheid in; dit kan beenmurg en organe beskadig. Anders as alfa- en betastrale beweeg hulle maklik deur die liggaam en verg dik beskermingmateriale soos beton of lood.
’n Goeie voorbeeld van ’n radio-isotoop wat gammastraling uitstraal, is 60Co. Hierdie kobaltisotoop word gebruik om staal te maak en in hospitale om kanker te behandel. Wanneer dit in die verkeerde hande beland, soos dié van diewe, kan dit groot gevaar inhou.[2]