Die Duitse Bond in 1820. Die twee belangrikste magte – Die Keiserryk Oostenryk (geel) en die Koninkryk Pruise (blou) – was nie heeltemal binne die Bond se grense (rooi) nie.
Die Duitse Bond (Duits: Deutscher Bund) was 'n statebond van merendeels Duitssprekende state wat voorheen deel uitgemaak het van die Heilige Romeinse Ryk of die Napoleontiese Rynbond. Die Duitse Bond, wat tussen 1815 en 1866 bestaan het, is op 8 Junie 1815 gedurende die Kongres van Wene (1814–1815) as deel van 'n Europese vredeskikking in die lewe geroep.
Ná Napoleon Bonaparte se nederlaag was Europese moondhede vasbeslote om die ou monargiese stelsels te herstel. Maar hierdie voorneme het uiteindelik misluk omdat die maatskaplike situasie té ingewikkeld was, terwyl die Duitse Bond in uiteenlopende en botsende belange verstrengel geraak het. So was daar 'n magstryd tussen die twee grootste Duitssprekende state, Pruise en Oostenryk, waarna later deur historici as Duitse dualisme verwys is, onenigheid oor 'n gemeenskaplike grondwet vir die Bond en die negatiewe uitwerkings van die Rewolusie in 1848 en 1849.
Die Bond se stigtingsdokument, die Deutsche Bundesakte, is deur 39 gevolmagtigdes van die toekomstige lidstate onderteken, waaronder 35 prinsdomme en vier vrye stede; die 39ste lidstaat, Hesse-Homburg, het eers in 1817 tot die Bond toegetree. Die getal lidstate het, ondanks die toetreding van nuwe lede, as gevolg van samesmeltings tot 1863 gekrimp tot 35. Kope en erflatings was die belangrikste redes vir samesmeltings. In die geval van die Koninkryk Pruise en die Keiserryk Oostenryk het slegs dié landsdele by die Duitse Bond aangesluit wat voorheen reeds deel uitgemaak het van die Heilige Romeinse Ryk.
In 1815 het die Duitse Bond 'n oppervlakte van sowat 630 100 km² met 'n bevolking 29,2 miljoen gehad. Dié getal het tot 1865 gegroei tot 47,7 miljoen.
Die Duitse Bond is as gevolg van die Duitse Oorlog in 1866 nog in dieselfde jaar volgens die Praagse Vredesooreenkoms ontbind. Vanaf November 1870 het ná die toetreding van die drie Suid-Duitse state tot die Noord-Duitse Bond vir 'n kort tydperk 'n nuwe, kortstondige "Duitse Bond" ontstaan. Ná die Duitse rykstigting in 1871 het dit deel van die Duitse Keiserryk geword.
Die gebeure tydens die Franse Rewolusie en die vryheidsgedagte van die Verligting het die politieke bewussyn in Wes-Europese lande gewek wat reeds as eenheidstate bestaan het, soos Frankryk en Engeland. Daarenteen was Duitsland steeds verdeel in 'n verskeidenheid klein state. Vanaf die middel van die 18de eeu het digters, skrywers, geleerdes en opgeleide burgers die idee van 'n gemeenskaplike kulturele nasie van Duitssprekendes bevorder. Hieruit het die Duitse Beweging voortgespruit, 'n aanvanklik onpolitiese stroming in die literatuur, filosofie en geesteswetenskappe.
Onder die indruk van die Franse heerskappy tydens die Napoleontiese periode is die onpolitiese vryheidsgedagtes in 'n toenemende mate met volk en nasie verbind. Die verwesenliking van nasionale vryheid was 'n kulturele en politieke doelwit vir 'n verskeidenheid bewegings, alhoewel die stigting en presiese struktuur van 'n Duitse eenheidstaat nie verder gespesifiseer is nie.
Daar was drie hoofstromings van definies vir die Duitse nasie:
as kulturele geestesgemeenskap ('n stroming wat deur klassieke en verligte gedagtes beïnvloed is);
as volk wat 'n gemeenskaplike lot deel ('n stroming wat deur romantiese volks- en middeleeuse ryksgedagtes beïnvloed is); en
as politieke gemeenskap van vrye burgers volgens die voorbeeld van die Franse nasionale staat.[1]
Dié uiteenlopende nasionale gedagtes was aanvanklik ondergeskik aan die gemeenskaplike vryheidstryd teen Napoleon Bonaparte. Toe die Franse heerskappy afgeskud was, het die verdeeldheid weer sigbaar geword. 'n Beweging van patriotte onder leiding van vom Stein, E.M. Arndt en Joseph Görres het hulle ten gunste van 'n Duitse Ryk as eenheidstaat uitgespreek. Maar die mededinging van Pruise en Oostenryk om die oorheersende rol in 'n nuwe staat was 'n onoorkombare struikelblok, net soos die onafhanklikheidsstrwe van tientalle Duitse prinse en konings wat nie bereid was om hul mag aan 'n nasionale regering af te staan nie.
Liggame en bevoegdhede
Uiteindelik is 'n kompromie aangegaan en 'n statebond in die lewe geroep wat die binnelandse en nasionale veiligheid van Duitsland, maar ook die onafhanklikheid en onaantasbaarheid van alle Duitse state sou verseker. Volgens artikel 2 van die stigtingsdokument van die Duitse Bond het alle lidstate as selfstandige politieke entiteite voortbestaan.
So het die Duitse Bond uit 39 lede bestaan, waaronder vier vrye stede en 35 vorste, insluitende die konings van Groot-Brittanje (as monarge van Hannover) en Nederland (as monarge van Luxemburg). Enkele lande, wat later, vanaf 1871, deel uitgemaak het van die Duitse Keiserryk, is nie by die Bond ingesluit nie: die provinsies Oos-Pruise, Wes-Pruise en Posen, Sleeswyk-Holstein en Elsas-Lotaringe. Daarenteen is die Duitse kroonlande van Oostenryk, Liechtenstein en Luxemburg-Limburg by die Duitse Bond ingesluit.
Alle pogings vir die daarstel van 'n nasionale Duitse eenheidstaat is deur die stigting van die Duitse Bond 'n nekslag toegedien. Die verdeeldheid van Duitsland het nie net sy politieke invloed in Europa beperk nie, maar ook die groei van sy ekonomie ernstig belemmer. Daar was geen gemeenskaplike administrasie, maatsisteem, geldeenheid, poswese, regstelsel en leër nie. Doeane- en handelsbeperkings het vrye handel in Duitsland onmoontlik gemaak.
As setel van die Bundestag, die permanente vergadering van benoemde afgevaardigdes onder voorsitterskap van Oostenryk, het Frankfurt am Main gedien. Indien belangrike besluite geneem moes word, het die federale vergadering as groter liggaam byeengekom. Besluite van dié liggaam, wat allesbehalwe 'n volksverteenwoordiging daargestel het, is met 'n meerderheid van twee derdes of eenparig geneem. As verdedigingsmag in oorlogstye kon 'n federale leër uit magte van die enkele lidstate saamgestel word.
Verwysings
↑Hermann Kinder en Werner Hilgemann: dtv-Atlas zur Weltgeschichte. Karten und chronologischer Abriss. 15de uitgawe. München: Deutscher Taschenbuch Verlag 1980, bl. 32