Die Boet Erasmus-stadion, later bekend as die OPRU-stadion, is 'n vervalle stadion in Somerstrand, Gqeberha, Suid-Afrika. Die stadion het 'n kapasiteit van 33 852 toeskouers gehad. Dit is na Boet Erasmus, 'n voormalige burgemeester van Port Elizabeth, genoem.
Die stadion is meestal vir rugbywedstryde gebruik, maar is ook vir sokker ingespan. "OPRU" staan vir "Oostelike Provinsie Rugbyunie", so genoem na die Magtige Olifante (Oostelike Provinsie) wat die stadion vir Curriebeker-wedstryde gebruik het.
Die stadion was die beoogde tuisveld van die Southern Spears, wat in 2006 aan die Curriebeker sou deelneem om vir die Superrugby van 2007 voor te berei. Die Southern Spears is egter nie in een van hierdie kompetisies toegelaat nie.
Die stadion is in Julie 2010 amptelik gesluit. Die Oostelike Provinsie Rugbyunie het alle wedstryde na die nuwer en moderner Nelson Mandelabaaistadion verskuif. Die laaste wedstryd wat op die veld gespeel is, was 'n vriendskaplike wedstryd teen die Blou Bulle op 3 Julie 2010.[1]
Ná die sluiting is die stadion steeds vir amateur- en klubrugby aangewend, maar dit is ook later laat vaar. Rondlopers en diewe het die stadion stadig maar seker afgetakel. Slegs die strukture van beton het staande gebly. Die stadion se eienaar, die plaaslike munisipaliteit, het die privaatsektor vir voorstelle genader om die grond te herontwikkel.[2]