Tiberius Julius Caesar Augustus (voor sy aanneming deur Augustus: Tiberius Claudius Nero; * 16 November 42 v.C. in Rome; † 16 Maart 37 n.C. aan die Kaap Misenum) het tussen 14 en 37 n.C. as tweede Romeinse keiser geregeer. Hy was ná sy stiefvader Augustus die tweede keiser van die Romeinse Ryk - albei is in die Julies-Claudiese geslagslyn gebore. Sy regeringstyd was een van die langste alleenregerings van 'n Romeinse keiser.
Tiberius het veral voor sy regeringsoorname groot militêre oorwinnings behaal. Met sy militêre bedrywighede in Pannonië, Illyricum, Raetië en Germanië het hy die noordelike grenslyn van die Romeinse Ryk getrek. Hy het daarnaas ook sukses by die administrasie van Romeinse provinsies en die finansiële bestuur van sy ryk behaal.
Dit was paleisintriges, die sameswering van die ambisieuse Seianus, teregstellings van dissidente Romeinse adellikes en Tiberius se onttrekking aan die lewe in Rome wat latere antieke geskiedskrywers 'n negatiewe waardeoordeel oor hom laat vel het. Dit is egter duidelik dat Suetonius die keiser eerder in 'n negatiewe lig beskou het.
Teen die einde van sy lewe het die institusionalisering van die monargie en die daarmee gepaardgaande ontneming van politieke regte van die Romeinse Senaat 'n belangekonflik tussen keiser en senatore laat ontstaan.
Sien ook