"Roesski wojenni korabl, idi na choei!" (Russies: Русский военный корабль, иди нахуй), was die laaste opmerking deur Roman Hribof, wat op Slangeiland in die Swartsee gestasioneer was tydens die Russiese aanval op die eiland op 24 Februarie 2022, wat deel was van die Russiese inval van 2022 in Oekraïne. Dit kan vertaal word as "Russiese oorlogskip, fok weg." Letterlik beteken dit "gaan (sit) op 'n piel". Die Russiese kruiserMoskwa het die Oekraïense soldate op die eiland beveel om oor te gee, waarna die verdedigers dié opmerking gemaak het. Die 13 Oekraïners op die eiland is gevange geneem.
Opnames van die gesprek is wyd op die internet versprei en het gou gewild geraak. Dit word sedertdien gebruik as 'n uitroep van die Oekraïense weermag en burgerlikes wat teen die inval betoog. Aanvanklik was daar gerugte dat die soldate op Slangeiland vermoor is en die Oekraïense president, Wolodimir Zelenski, het aangekondig hy sou aan die soldate "nadoods" die hoogste toekenning, Held van Oekraïne, toeken.[1][2][3][4]
'n Ander uitdrukking wat op die internet gewild geraak het, reeds in 2014 maar veral sedert die Russiese inval, is Poetin – choeilo! ("Poetin is 'n pielnek!")
Spesiale posseël
Op 1 Maart 2022 het Oekrposjta, die Oekraïense posdiens, 'n kompetisie van stapel gestuur om 'n posseël met die frase as tema uit te bring.[5][6] Op 12 Maart 2022 is aangekondig die kunstenaar Boris Groch se werk het die kompetisie gewen.[7][8]
Volgens die webtuiste Snopes het Groch sy hele lewe in Jefpatoria op die Krim gewoon en het hy studeer om 'n kunstenaar te word. Vanweë die Russiese anneksasie van die Krim in 2014 moes hy noodgedwonge sy huis verlaat en na Kijif en later na Lwif trek.[9] Oekrposjta het die stel posseëls op 12 April uitgegee.[10][11]
Op die stel herdenkingseëls is 'n Oekraïense soldaat wat die Russiese kruiser Moskwa die middelvinger gee.[12] 'n Binne- en buitelandse weergawe is beskikbaar. Die kleure van die seël herinner aan die geel en blou van die Oekraïense vlag. President Zelenski het 'n foto van hom met die seël laat neem en gesê Russiese oorlogskepe moet net in een rigting vaar.[13]
Nadraai
Op 24 Maart 2022 is van die wagte van Slangeiland, insluitende Hribof, aan Oekraïne terugbesorg as deel van 'n gevangene-uitruilprogram.[14] Op 29 Maart 2022 het Hribof na sy huis in die Tsjerkasi-oblast teruggekeer, waar hy 'n medalje vir sy optrede gekry het.[15][16]
Op 13 April 2022 het twee Oekraïense amptenare gesê dat die Moskwa deur Oekraïense R-360 Neptune-teenskipmissiele getref is en in onstuimige see aan die brand was. Die Russiese departement van verdediging het gesê die skip is ernstig beskadig nadat 'n brand 'n ammunisie-ontploffing veroorsaak het, sonder enige verwysing na die Oekraïense aanval. Die volgende dag, ná 'n poging om dit aan wal te sleep, het Russiese amptenare bevestig dat die skip gesink het.[17] Dit was twee dae ná die uitreiking van die spesiale posseël van die soldaat wat die Moskwa die middelvinger gee.