Dit is in 'n halfwoestyngebied geleë en is die sentrum van 'n skaapboerderystreek. Dadels en subtropiese vrugte word ook verbou. Die bevolking is sowat 3 000. Die N14 nasionale pad gaan deur Pofadder.
In 2015 het Abengoa Solar naby Pofadder 'n sonkragsentrale in bedryf gestel, die KaXu Solar One. Die bou van 'n tweede sentrale, die Xina Solar One het in 2014 begin en die verwagting was dat dit in 2017 gereed sou wees.[2] Dit is geleë aan die teerpad tussen Kakamas en die grenspos met Namibië by Onseepkans.
Geskiedenis
Die dorp het ontwikkel uit 'n sendingstasie van die Binnelandse Sendinggenootskap, wat hier in 1875 deur eerw. Christiaan Schroder gestig is, en na Klaas Pofadder, 'n hoofman van die Korana wat in die buurt van die Grootrivier rondgeswerf het, vernoem. Die dorpie is in 1917 uitgelê en 'n dorpsbestuursraad is in 1937 ingestel. Die oorspronklike naam was Theronsville, maar die naam Pofadder is in 1936 in ere herstel. Sedert 2000 is die dorp deel van die Khâi-Ma Plaaslike Munisipaliteit.
NG-gemeente
Die gemeente was vroeër die Boesmanlandse wyk van die moedergemeente Namakwaland op Springbok. In 1909 het die kerkraad van Namakwaland besluit die evangelis Pieter Malan moet veral sy aandag aan dié wyk gee met Namies, die ou skool- en kerkplaas, as die sentrum. Die wyk is op 23 Maart1912 afgestig en het toe saam met dele van die gemeentes Kenhardt en Brandvlei die gemeente Namies gevorm. Die gemeente was aanvanklik baie behoeftig omdat die lidmate meesal rondtrekkende veeboere was.
Intussen is die dorpie Pofadder aangelê. Prop. A.F. Marais aanvaar 'n beroep in Mei 1914. 'n Pastorie word in 1920 op die dorp gebou en die eerste kerkgebou (van graniet) ingewy. Pofadder word toe die hoofsentrum, hoewel Namies nog 'n skool- en kerksentrum bly. Die gemeente verander sy naam van Namies na Pofadder in 1928.
Die gemeente toon die tipiese profiel van 'n plattelandse gemeente wat vroeër jare 'n wisseling in lidmaattalle aan droogte en voorspoed te wyte gehad het, maar die laaste paar dekades 'n geleidelike afname weens die "ontblanking" van die platteland toon. In 2006 was hier 361 belydende lidmate en die leraar ds. P.F.C. Pieterse.
In Oktober 2021 sluit Ds. Willie Korb by die gemeente aan as leraar.[3] Op 12 Maart 2022 het Ds. Korb sy hoogte- en angsvrees aangevat deur op die kerktoring, wat 22 meter hoog is, vir 12 ure te sit.[4] Hy wou hoop bring vir almal, en het gebid en sy stilte tyd met die Here gehou vir als wat nodig is.
Opvoeding
Die Hoërskool Boesmanland is 'n gekombineerde skool op die dorp.
Bevolking
Volgens die World Gazetteer het Pofadder se bevolking tussen 1996 en 2007 ietwat afgeneem van 2 931 tot 2 845, maar in 2008 was dit weer 3 905 en 3 287 in 2011.