Onsterflikheid dui op die ewige lewe, sonder die dood, en dus 'n oneindige bestaan. Menslike onsterflikheid kan letterlik én figuurlik opgeneem word. In 'n figuurlike sin beteken dit dat 'n mens voortleef in die herinnering van die lewendes, byvoorbeeld as geliefde vriend of familielid, of as iemand wat grootse dade verrig het. In die meeste gevalle het die term 'n positiewe betekenis.
Onsterflikheid in die letterlike sin speel 'n belangrike rol in alle godsdienste. In dié geval gaan dit dikwels om die onsterflike siel wat ná die dood in 'n hiernamaals voortbestaan.
In Daniël staan "En baie van die wat in die stof van die aarde slaap, sal ontwaak, sommige tot die ewige lewe en sommige tot groot smaadheid, vir ewig afgryslik".[1] Die idee van onsterflikheid kom egter nie prominent in die Hebreeuse Bybel voor nie.
Christendom
Paulus het in een van sy briewe gekryf God sal elkeen vergeld aan sy werke: "aan die wat deur volharding in goeie werke heerlikheid, eer en onverganklikheid soek die ewige lewe".[2] Dit dui op die opstanding uit die dood en die ewige lewe in die hemel.[3] Daarvoor is geloof in Jesus Christus 'n voorwaarde.[4] Dit vorm die kern van die Christendom.
Streng gesproke tref die Nuwe Testament 'n onderskeid tussen die ewige lewe en onsterflikheid. Slegs God, "wat aan alle dinge die lewe gee", is onsterflik.[5]
Mitologie en fiksie
Onsterflikheid kom ook in mitologie en fiksie voor. Soms dui dit ook op 'n ewige jeugdigheid. Dit word nie altyd as iets positiefs beskou nie.
Voorbeelde van onsterflikheid is die Griekse mite van Titonos, 'n man wat onsterflikheid gekry het, maar nie ewige jeug nie; amrita, wat volgens Hindoeïsme die drank is wat gode onsterflik maak; die Agt Onsterflikes in Taoïsme; en die mite van die fontein van ewige jeug.