Nauru (Nauruaans: Naoero), amptelik die Republiek Nauru (Engels: Republic of Nauru, Nauruaans: Ripublik Naoero), voorheen Pleasant Island (letterlik: "aangename eiland"), is 'n klein eilandstaat in die Stille Oseaan en Oseanië net suid van die ewenaar. Die koraaleiland van 21 km² is deur fosfaatmynbou erg verwoes, en fosfaatreserwes is nou byna uitgeput. Nauru, wat jare gelede een van die welvarendste nasies wêreldwyd was, kon die bates van die fosfaatmynbou nie winsgewend belê nie en is vandag weer een van die ontwikkelende lande. Die eiland het 'n bevolking van 10 084 in 2021 gehad. Engels en Nauruaans is die twee amptelike tale en die Australiese dollar is die amptelike geldeenheid. Klein hoeveelhede fosfaat, piesangs en kokosprodukte is die hoofsaaklike uitvoerprodukte. Australië se ambassades neem die diplomatieke verteenwoordiging vir Nauru in die buiteland waar. De jure het Nauru geen hoofstad of stede nie; die parlement en regering van Nauru is in Yaren gesetel, wat de facto as hoofstad beskou word.
Met 'n oppervlakte van net 21 km² is Nauru die derde kleinste land ná die Vatikaanstad en Monaco, die kleinste land in die Stille Oseaan en Oseanië, die kleinste land buite Europa, die kleinste eilandstaat, en die kleinste republiek. Daarbenewens het dit met 'n bevolking van 10 084 (in 2021) die wêreld se derde kleinste bevolking, ná die Vatikaanstad en Tuvalu.
As gevolg van sy sterk afhanklikheid van Australië word Nauru dikwels as 'n soort satellietstaat beskou.[7][8][9]
Geografie
Nauru bestaan uit net een atol van sowat 21 km² met 'n omvang van 19 km en 'n middellyn van 6 km. Die eiland lê slegs 51 km suid van die ewenaar, halfweg tussen Honolulu en Sydney. Die eiland se kuslyn word hoofsaaklik deur 'n sandstrand gevorm. 'n Binnelandse landbougordel van enkele honderd meter breedte lewer piesangs, pynappels, kokospalms en groente op. 'n Plato van rotse vorm die hartland van Nauru, waar fosfaat in oop myne ontgin word. Die mynbou laat 'n verwoeste landskap agter.
Nauru se klimaat is tropies, met 'n gemiddelde temperatuur van 27,5 °C en 'n gemiddelde reënval van 1 500 mm (met uiterstes tussen sowat 100 en 4 500 mm). Die reënseisoen tussen November en Februarie gaan gepaard met 'n hoë lugvogtigheid van tot by 85%.
Bevolking
Van die bevolking van 10 084 (2021) is slegs sowat die helfte inheemse Nauruers. Die res is Europese en Chinese werknemers betrokke by die fosfaatmynbou en mense van ander eilande in die Suidelike Stille Oseaan, veral van Kiribati en Tuvalu. Die inwoners is hoofsaaklik Protestante, sowat 30% is Rooms-Katoliek. Die groot welvaart, wat die Nauruers danksy die fosfaatmynbou dekades lank kon geniet, het ook 'n nadelige invloed op die gesondheid van die bevolking, waarvan sowat 30% nou diabeetlyers is.
Geskiedenis
Die geskiedenis van die eerste menslike nedersettings is tans nie bekend nie. Waarskynlik is skipbreukelinge die eerste bewoners van die eiland. Die eerste Europese ontdekker van Nauru is die Engelse kaptein John Fearn wat hier in die jaar 1798 voet aan wal sit. Hy noem dit vanweë sy natuurskoon Pleasant Island ("aangename eiland") en eers sowat negentig jaar later word hierdie naam ten gunste van Nauru verander. Vanaf 1830 doen walvisvaarders gereeld by Nauru aan om vars proviand te kry en saam met hulle kom ontvlugte strafgevangenes en deserteurs na die eiland om hier 'n bestaan as strandgoedjagters te vind.
In die sewentigerjare van die 19de eeu stig Duitse handelaars die eerste handelsposte; hulle slaag daarin om Nauru in die jaar 1888 by die Duitse protektoraat van die Marshalleilande te laat inlyf. Duitse en Amerikaanse sendelinge begin in 1899 met die kerstening van die inwoners.
Met die ontdekking van Nauru se ryke fosfaatafsettings in 1900 begin 'n nuwe tydperk op die eiland. Die Duitsers en Britte stig in 1906 'n maatskappy wat met die fosfaatmynbou begin. Die inheemse bevolking baat baie min by hierdie ekonomiese aktiwiteite, en die swaar werk in die myne word deur buitelanders, veral Gilberteilanders en Chinese, gedoen.
Tydens die Eerste Wêreldoorlog beset Australiese troepe in 1914 Nauru en 1919 word die eiland 'n mandaatgebied van die Volkerebond. Australië is volgens 'n ooreenkoms met die Verenigde Koninkryk en Nieu-Seeland verantwoordelik vir die administrasie van Nauru. Ook tydens die Tweede Wêreldoorlog beset vreemde troepe die eiland. Die Japanners land op die eiland, terwyl Duitse oorlogskepe dit al vroeër onder vuur bestook het. Naastenby die hele bevolking word as dwangarbeiders na die Karoline-eilande geneem, waar een derde van hulle beswyk. Die oorlewendes keer in 1946 terug.
Op 31 Januarie 1968 verkry Nauru, wat sedertdien die kleinste republiek ter wêreld is, onafhanklikheid en word 'n spesiale lid van die Britse Statebond. Die fosfaatmynboumaatskappy word in 1970 genasionaliseer. In 1993 sluit Nauru en Australië 'n ooreenkoms wat Nauru AUS$ 107 miljoen skadevergoeding vir ekologiese verwoesting as gevolg van die fosfaatmynbou toeken.
In 1999 word Nauru 'n lid van die Verenigde Nasies en 'n gewone lid van die Britse Statebond.
Vandag huisves Nauru volgens 'n ooreenkoms met Australië 'n vlugtelingekamp vir asielsoekers wat nog geen verblyfsvergunning gekry het nie; die reëling is deel van Australië se "Pasifiese oplossing" vir die asielprobleem.[10]