’n "Nat mark" (Engels: wet market of public market)[1][2][3] is ’n mark wat vars vleis, vis en ander bederfbare produkte verkoop (teenoor ’n "droë mark", wat niebederfbare goedere soos materiaal en elektroniese produkte verkoop).[4][5][6] Nie alle nat markte verkoop lewende diere nie,[1][7][8][9] maar die term word soms gebruik vir markte waar lewende diere verkoop en dan op versoek van die klant geslag word,[10][11][12] soos gebeur met pluimvee in Hongkong.[13] Dié markte is algemeen in baie dele van die wêreld,[14][15][7] veral in China, Suidoos-Asië en Suid-Asië.Dit sluit ’n groot verskeidenheid markte in, soos boeremarkte, vismarkte en dieremarkte.[1][8][16][17] Hulle is dikwels gewild vanweë lae pryse, die varsheid van die produkte, sosiale verkeer en plaaslike kulture.[1][2][3]
Die meeste nat markte dryf nie handel in wilde of eksotiese diere nie,[18][19] maar dié wat dit wel doen, is al verbind met die uitbreek van soönotiese siektes (siektes wat van diere aan die mens oorgedra word).[7][20] Een so ’n mark in Wuhan, China, het vermoedelik ’n rol gespeel in die covid-19-pandemie,[7][20] hoewel die moontlikheid dat die virus van elders af kom, steeds ondersoek word.[21][22][23] Nat markte in China is in 2003 verbied om wilde diere te verkoop ná die uitbreek van ears in 2002–2004, wat direk met dié praktyk verbind is.[20] Dié regulasies is opgehef en weer in 2020 ingestel,[20] terwyl ander lande soortgelyke beperkings voorgestel het.[24] Mediaberigte wat nie ’n onderskeid tref tussen alle nat markte en dié wat lewende of wilde diere verkoop nie, asook bespiegelings oor onwettige handel in wilde diere, word gekritiseer omdat hulle na bewering Sinofobie aangeblaas het.[8][25]
Agtergrond
Terminologie
Die Engelse term "wet market" is vroeg in die 1970's deur die regering in Singapoer begin gebruik om sulke tradisionele markte te onderskei van die supermarkte wat daar gewild geraak het.[26] Die term is in 2016 in die Oxford English Dictionary (OED) opgeneem as ’n term wat dwarsdeur Suidoos-Asië gebruik word.[27]
Die "nat" in "nat mark" verwys na die vloere wat voortdurend nat is vanweë die smelt van die ys wat gebruik word om te keer at die produkte sleg raak,[26][28][29] die was van die vleis en seekosstalletjies en die sproei van vars produkte wat algemeen in nat markte is.[28][12][9]
Die term "openbare mark" kan ’n sinoniem vir "nat mark" wees,[1][2][3] hoewel dit soms eksklusief verwys na nat markte wat deur die staat of gemeenskap besit word.[1][2][3] Dit kan ook "varsprodukmarkte" genoem word as dit verwys na markte waar mededingende handelaars hoofsaaklik vrugte en groente verkoop.[6] Die term "nat mark" word dikwels gebruik vir ’n mark waar lewende diere direk aan klante verkoop word,[10][11] maar dié terme is nie sinonieme nie.
Soorte
Die term "nat mark" wat spesifiek verwys na markte wat vars produkte en vleis verkoop, sluit ’n wye verskeidenheid in.[1][8] Dit kan privaat, deur die staat of deur die gemeenskap besit word en kan groothandel-, kleinhandel- of vars produkte (vrugte, groente, geslagte diere of lewende diere) verkoop.[1][8] Hulle kan verder onderverdeel word in markte wat gedomestikeerde diere of wilde diere verkoop.[1][8]
Tradisionele nat markte kom gewoonlik in tydelike strukture, opelugterreine[1][30][9] of gedeeltelik oop handelskomplekse voor,[31] terwyl moderne nat markte in geboue is wat dikwels met beter lugreëling en vriesgeriewe toegerus is.[1]
Ekonomiese rol
Nat markte is minder afhanklik van ingevoerde goedere as supermarkte vanweë hulle kleiner volumes en minder klem op konsistensie.[32] Nat markte is in 2019 in ’n voedselsekuriteitstudie beskryf as "uiters belangrik in die versekering van stedelike voedselsekuriteit", veral in Chinese stede.[1] Die rol van nat markte in die versekering van stedelike voedselsekuriteit sluit in pryse en fisieke toeganklikheid.[1]
Akademiese geskrifte oor voedselverspreiding en die Singapoerse omgewingsagentskap het laer pryse, varser produkte, kibbeling oor pryse en sosiale interaksie genoem as belangrike redes vir die blywendheid van nat markte.[1][29][33][34] ’n Ander rede is die tradisie dat varsgeslagte diere verkies word bo bevrore vleis en vis.[29]
In ontwikkelende lande met ’n landbougebaseerde ekonomie word vars vleis hoofsaaklik deur tradisionele nat markte en vleisstalletjies versprei.[35] Nat markte wat vars vleis verkoop, is dikwels by of naby slagpale geleë.[35]
Kommer oor gesondheid en siektes
As sanitasiestandaarde nie gehandhaaf word nie, kan nat markte siektes versprei. Veral markte wat lewende en wilde diere verkoop, loop die gevaar om soönotiese siektes oor te dra. Nuwe diere kan in direkte kontak met verkopers, slagters en klante kom, of met ander diere wat hulle nie in die natuur sou teenkom nie. Dit kan meebring dat sommige diere as tussengangers kan optree en siektes na mense versprei.[36]
Weens onhigiënies standaarde en die verbintenis met die verspreiding van siektes en pandemies, noem kritici nat markte saam met intensiewe veeboerdery as groot gesondheidsgevare in China en dwarsoor die wêreld.[37]
Die uitbreek van H5N1-voëlgriep, ears en covid-19 kan teruggespeur word na lewende diere wat in nat markte aangehou is waar siektes makliker as andersins van diere aan mense oorgedra kan word.[38] In April 2020 het die wetenskaplike Peter Daszak ’n Chinese nat mark soos volg beskryf: "Dis ’n effense skok om na ’n wildediermark te gaan en hierdie groot verskeidenheid diere te sien wat in hokke bo-op mekaar aangehou word, met ’n hoop binnegoed wat uit ’n dier getrek en op die vloer gegooi is […] Dit is die ideale plekke vir die verspreiding van virusse."[39]
In 2007 het Chinese wetenskaplikes die teenwoordigheid van SARS-CoV-tipe virusse in hoefystervlermuise asook die onhigiëniese wildediermarkte en die kultuur in Suid-China om eksotiese diere te eet, as ’n "tydbom" geïdentifiseer.[40] In ’n studie in 2018 in Maleisië is bevind werkers in nat markte het ’n groter kans om leptospirose-infeksies op te doen.[41]
Chinese omgewingsbewustes, navorsers en staatsmedia het ’n beroep gedoen om strenger regulasies vir handel in eksotiese diere in die markte.[42] Die mediese kenners Zhong Nanshan, Guan Yi en Yuen Kwok-yung vra ook reeds sedert 2010 dat wildediermarkte gesluit word.[43]
Covid-19
Die blaam vir die covid-19-pandemie is op Chinese nat markte gelê vanweë berigte dat twee derdes van die aanvanklike gevalle direk aan die Huanan Seafood Wholesale Market in Wuhan blootgestel is.[44][45] Die Huanan-mark het onder meer "lewende wolfkleintjies, salamanders, sivetkatte en bamboesrotte" verkoop.[46] Bewerings dat die virus van elders af kom, soos ’n laboratorium, of dat dit met opset versprei is, kon nog nie bewys word nie.
In Maart en April 2020 is berig wildediermarkte in ander lande van Asië,[47] Afrika[48] en ander wêrelddele is net so blootgestel aan gesondheidsrisiko's. In April 2020 het die Wêreldgesondheidsorganisasie aangekondig dit is besig om standaarde vir voedselveiligheid en higiëne op te stel waaraan nat markte moet voldoen voordat hulle weer hulle deure mag open.[49]
Mediadekking
Tydens die eerste paar maande van die covid-19-pandemie in 2020 is Chinese nat markte hewig in die nuusmedia gekritiseer as ’n potensiële bron van die virus.[50] Berigte dat alle nat markte verbied moet word, en nie net dié wat wilde en eksotiese diere verkoop nie, is wyd gekritiseer omdat dit infeksiebeheer sou ondermyn wat spesifiek gerig behoort te wees op wildediermarkte soos die Huanan Seafood Wholesale Market.[8] Die media se fokus op buitelandse nat markte is ook gekritiseer omdat hulle die aandag aftrek van openbare gesondheidsrisiko's soos plaaslike bronne van soönotiese siektes.[51]
In Westerse media is tydens beriggewing oor die pandemie geen onderskeid getref tussen algemene nat markte en dié wat lewende of wilde diere verkoop nie.[42] Eksplisiete foto's van verskillende markte dwarsoor Asië is gebruik sonder om aan te dui waar hulle geleë is.[8][52] Die media is daarvan beskuldig dat hulle die foto's vir die skokwaarde daarvan gebruik.[53] Hulle is ook gekritiseer omdat hulle Sinofobie, die vrees vir Chinese, sou aanwakker of klem sou lê op die "andersheid van Chinese".[8][25][51]
↑Wholesale Markets: Planning and Design Manual (Fao Agricultural Services Bulletin) (No 90)
↑"wet, adj". Oxford English Dictionary. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 Maart 2020. Besoek op 29 Maart 2020. wet market n. South-East Asian a market for the sale of fresh meat, fish, and produce
↑Yu, Verna (16 April 2020). "What is a wet market?". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 16 April 2020. Besoek op 16 April 2020. While "wet markets", where water is sloshed on produce to keep it cool and fresh, may be considered unsanitary by western standards, most do not trade in exotic or wild animals and should not be confused with "wildlife markets" – now the focus of vociferous calls for global bans.
↑ 26,026,1Tan, Alvin (2013). Wet Markets(PDF). Community Heritage Series. Vol. II. Singapore: National Heritage Board. p. 3. Geargiveer(PDF) vanaf die oorspronklike op 22 Februarie 2020. Besoek op 10 April 2020.
↑Bougoure, Ursula; Lee, Bernard (2009). Lindgreen, Adam (red.). "Service quality in Hong Kong: wet markets vs supermarkets". British Food Journal (in Engels). 111 (1): 70–79. doi:10.1108/00070700910924245. ISSN0007-070X.
↑Mele, Christopher; Ng, Megan; Chim, May Bo (2015). "Urban markets as a 'corrective' to advanced urbanism: The social space of wet markets in contemporary Singapore". Urban Studies (in Engels). 52 (1): 103–120. doi:10.1177/0042098014524613. ISSN0042-0980. S2CID154733767.
↑ 35,035,1"Fresh Meat". Food and Agriculture Organization. 25 November 2014. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 25 Oktober 2019. Besoek op 5 April 2020.