Myreside-stadion is ’n sportgrond in Edinburg, Skotland. Die stadion is in 1933 geopen en word sedert Januarie 2017 deur Edinburgh Rugby vir wedstryde in die Pro14 gebruik. Daar word dikwels slegs na die stadion as Myreside verwys en Watsonians RVK gebruik reeds sedert 1933 hierdie stadion aan die oostekand van Myresideweg as hul tuisveld vir rugbywedstryde. ’n Hoofpaviljoen staan aan die westekant van die grasveld met spreiligte wat die veld snags belig. Voor die terugkeer van Edinburgh Rugby na Myreside vir hul tuiswedstryde, is tydelike paviljoene opgerig om die toeskouerkapasiteit na 5 500 te verhoog.
Geskiedenis
Die gronde wat oorspronklik deur Watsonians RVK gebruik is, is Myreside genoem, en was vernoem na ’n plaaslike boerdery. Op 4 Maart 1933 het Watsonians hul eerste wedstryd op Nieu-Myreside gespeel, teen Koninklike Hoërskool FP Rugbyklub.[1] ’n Westelike paviljoen is aangebou.[2] Die Watsonian Krieketklub speel by die aangrensende Myreside Krieketveld.
Toe rugby ’n professionele sport geword het, het Edinburgh Rugby tussen 1996 en 1998 dMyreside as hul tuisveld gebruik.[3] Daardie span is deur die Edinburgh Reivers opgevolg, wat van 1999 tot 2002 by Myreside gespeel het.[3][4]
In Mei 2016 het Edinburgh Rugby ’n vennootskap met die eienaars van die veld, George Watson’s-kollege, aangekondig. Die vennootskap het voorsiening gemaak vir ’n proeftydperk van ses maande, met ’n aanvang in Januarie 2017, vir Edinburgh Rugby se terugkeer na Myreside, weg van Murrayfield.[3] Daar is spreiligte by die veld, maar die fasiliteite is verouderd.[3] Die plan het ingesluit dat die stadion se toeskouerkapasiteit vergroot sou word deur tydelike paviljoene aan die noordelike en suidelike kante van die veld opgerig sou word.[5] Die stadsraad van Edinburgh het planne vir die oprigting van tydelike paviljoene in Desember 2016 goedgekeur.[6] Die tydelike paviljoene is so na as moontlik aan die doodlyn van die veld opgerig.[7] Die kapasiteit is betyds vir Edinburgh se eerste wedstryd in Januarie 2017 verhoog na net meer as 5 500.[8]