Mir (Russies: Мир; letterlik "Vrede" of "Wêreld") was die eerste bewoonde ruimtestasie in ’n baan om die Aarde. Dit het eers aan die Sowjetunie en later Rusland behoort en het van 1986 tot 2001 bestaan.
Werking
Mir was gebaseer op die voorheen gelanseerde Saljoet-ruimtestasies. Die verskillende modules, wat vooraf gebou is, is van 1986 tot 1996 in die ruimte aanmekaargesit. Dit het die grootste massa van enige vorige ruimtetuig gehad en het die rekord gehou vir die grootste mensgemaakte satelliet in ’n wentelbaan om die Aarde totdat die Internasionale Ruimtestasie (IRS) die rekord verbeter het.
Mir het gedien as ’n laboratorium waarin navorsing gedoen is oor biologie, fisika, astronomie, meteorologie en ruimtetuigstelsels om tegnologie te ontwikkel wat nodig is vir die permanente bewoning van die ruimte. Die stasie is deur verskillende groepe ruimtevaarders beman. Dit het die rekord opgestel vir die langste ononderbroke menslike teenwoordigheid in die ruimte: 3 644 dae. Dié rekord is op 23 Oktober 2010 deur die IRS verbeter.[1] Dit hou steeds die rekord vir die langste enkele ruimtevlug: 437 dae 18 uur deur Waleri Poljakof. Mir is vir twaalf en ’n half jaar van sy vyftienjarige bestaan bewoon; dit kon drie langtermyn-bemanningslede huisves, en groter spanne vir kort besoeke.
Dit het bestaan uit ’n kernmodule wat in 1986 gelanseer is, gevolg deur nog ses modules. Dit was in ’n baan tussen 296 en 421 km van die Aarde af en het teen 27 700 km/h altesaam 15,7 wentelings per dag voltooi.[2][3][4]
Mir is op 21 Maart2001 uit sy wentelbaan gehaal. Atmosferiese binnekoms het om 05:44 UTC naby Nadi, Fidji, plaasgevind. Grootskaalse vernietiging van die stasie het omstreeks 05:52 UTC begin en die meeste van die onverbrande fragmente het omstreeks 06:00 UTC in die Suid-Stille Oseaan geval.[5][6]