Die Mark Brandenburg was 'n markgraafskap van die Heilige Romeinse Ryk wat vanaf 1157 tot en met sy omskepping in die Provinsie Brandenburg in 1815 bestaan het. Sy kerngebied Kurmark is in 1356 met die Goue Bul van Karel IV as een van die sewe keurvorstedomme van die Heilige Romeinse Ryk formeel erken. Dié sewe keurvorste was stemgeregtig om die konings van die Ryk te verkies.
Twee stigtingsdatums word in historiese kronieke genoem. Die stigting van die bisdom Brandenburg deur Otto I in 948 het die weg gebaan vir die vestiging van Duitssprekende nedersettings en markdorpe in die voorheen Slawiese gebied. Op 11 Junie 1157 het die Askaniër-vors Albrecht I homself tot markgraaf van Brandenburg verklaar. Met die kroning van keurvors Frederik III in Koningsberg as "Frederik I, koning in Pruise" in 1701 is die Pruisiese monargie as nuwe Europese moondheid gevestig. Die oorspronklike markgraafskap se status is sodoende afgeskaal tot dié van 'n provinsie van Pruise, al is dit formeel eers in 1815 gestig.[1]
Die Mark Brandenburg het die grootste deel van die huidige DuitsedeelstaatBrandenburg, Berlyn, die streek Altmark wes van die Elberivier in die noorde van Sakse-Anhalt en die landskap Neumark met Sternberg en Westernberg ingesluit. Die laasgenoemde gebied oos van die Oderrivier maak tans grotendeels deel uit van die Poolsewoiwodskap Lebus, terwyl kleiner dele by die woiwodskap Wes-Pommere ingesluit is.
Die suidelike dele van Brandenburg, wat tot en met 1815 deel uitgemaak het van Sakse (veral Niederlausitz en Jüterbog) was nie deel van die historiese Mark Brandenburg nie.
Mark Brandenburg of kort Mark word in die huidige Duitse omgangstaal dikwels as sinonieme vir die deelstaat Brandenburg gebruik, alhoewel hierdie taalgebruik nog in historiese nog in geografiese opsig korrek is nie.