Maria Wladimirowna, groothertogin van Rusland (Russies: Мари́я Влади́мировна Рома́нова; geb. 23 Desember 1953 in Madrid) is sedert 1992 ’n aanspraakmaker op die hoofskap van die Huis van Romanof en die titel keiserin en outokraat van Rusland. Sy gebruik haar lewe lank die titel "groothertogin" en die aanspreekvorm "keiserlike hoogheid", hoewel haar reg tot die titel betwis word.[1][2] Sy is ’n agter-agterkleindogter van tsaar Aleksander II van Rusland deur die manlike lyn.
Biografie
Maria is in Madrid gebore as die enigste kind van groothertog Wladimir Kirillowitsj van Rusland, die hoof van die keiserlike familie Romanof en titulêre keiser van Rusland,[3] en prinses Leonida Georgievna Bagration-Moukhransky van Georgies-Poolse afkoms.
Maria is in Madrid en Parys opgevoed en het Russiese geskiedenis en letterkunde aan die Universiteit van Oxford studeer.[4][5]
Op 23 Desember 1969 het haar pa, groothertog Wladimir, ’n dekreet uitgevaardig dat sy dogter hom voor ander manlike Romanof-aanspraakmakers as kurator van die Russiese troon moet opvolg indien hy sou sterf.[6] Dit is beskou as ’n poging van Wladimir om die opvolging in sy tak van die familie te hou,[7] en is deur die hoofde van ander takke as onwettig verklaar.[1]
Die egpaar is in 1982 geskei, ’n jaar ná die geboorte van hul enigste kind, Giorgi Michailowitsj, wat die titel groothertog van sy oupa gekry het. Sedert die egskeiding op 19 Junie 1985 gebruik Franz Wilhelm weer sy ou naam en titel.[11] Maria woon in Frankryk en Spanje, en praat vlot Russies, Engels, Frans en Spaans, asook ’n bietjie Duits, Italiaans en Arabies.[6]
Aanspraak op opvolging
Maria se oupa, groothertog Kirill Wladimirowitsj van Rusland, se aanspraak op die titel "tsaar in bannelingskap" is sterk teengestaan deur ander lede van die Romanof-familie.[12] Haar pa, Wladimir Kirillowitsj, is deur sommige beskou as die laaste manlike dinas van die Romanofs.[5] Toe hy op 21 April 1992 dood is, het Maria aanspraak gemaak op die titel, terwyl prins Nikolaas Romanof, ’n agter-agterkleinseun van tsaar Nikolaas I deur die manlike lyn, ook daarop aanspraak gemaak het dat hy Wladimir opgevolg het. Dié posisie word nou beklee deur prins Alexis Romanov.
Ná die ontdekking van die beendere van keiser Nikolaas II en sy gesin in 1991, het Maria aan pres. Boris Jeltsin geskryf in verband met die herbegrawe van die oorskot. Van haar Romanof-bloedverwante, wat sy nie erken as lede van die keiserlike familie nie (ook nie die kleinkinders van Nikolaas II se suster, groothertogin Ksenia Aleksandrowna, nie) het sy gesê hulle "het nie die geringste reg om hul mening en wense uit te spreek oor die kwessie nie. Hulle kan net by die graf gaan bid, soos enige ander Rus wat dit wil doen."[13] Sy het nie die egtheid van die beendere erken nie en het nie in 1998 die herbegrafnis bygewoon nie.[14] Sy het oor haar bloedverwante gesê: "My gevoel oor hulle is dat, noudat iets belangriks in Rusland gebeur, hulle skielik wakker geskrik het en sê: 'A-ha! Daar is dalk voordeel hieruit te trek.'"[15]
Maria hoop die monargie kan eendag herstel word en "is gereed om te antwoord op die oproep van die volk".[6] Toe sy oor die onmin in die Romanof-familie uitgevra is, het sy gesê:
Pogings om my regte verdag te maak, hat ontstaan by mense wat eerstens nie tot die keiserlike familie behoort nie en tweedens óf nie self weet hoe die betrokke wette lui nie óf dink ander ken nie die wette nie. Wat ook al die geval, dit is gewetenloosheid. Waaroor ek die jammerste is, is dat sommige van my bloedverwante hul tyd en energie mors op klein intriges in plaas daarvan om daarna te streef om tot nut van hul land te wees. Ek het nog nooit met iemand oor die saak gestry nie en is bereid tot ’n bespreking en samewerking met almal, insluitende natuurlik my bloedverwante. Maar daar kan geen basis vir samewerking wees sonder respek vir ons dinastiese wette en ons familietradisies nie.[14]
In 2002 het Maria gefrustreerd geraak met die interne stryd in die Russiese monargistiese beweging. Toe ontdek is verteenwoordigers van die Unie van Afstammelinge van Adellike Families, een van die strydige adellike verenigings, versprei ridderlike titels en toekennings van die Orde van Sint Nikolaas die Wonderwerker sonder haar toestemming, het sy 'n relatief sterk bewoorde aanval gepubliseer.[16]
In 2003, op Maria se 55ste verjaardag, het patriarg Kirill van Moskou en die hele Rusland in 'n boodskap van gelukwensing gesê: "U is die verpersoonliking van 'n Russiese groothertogin: adellik, wys, mededeelsaam en gevul met 'n ware liefde vir Rusland. U woon ver van Rusland af, maar neem aktief deel aan sy lewe, juig wanneer daar geseëvier word en het simpatie wanneer daar uitdagings is. Dit is uiters bevredigend om te weet dat u selfs in hierdie nuwe historiese omstandighede 'n aansienlike bydrae maak om Rusland se beeld wêreldwyd op te bou op grond van spirituele en morele waardes en die eeue oue tradisies van die Russiese volk. Die Russiese Ortodokse Kerk bly die bewaarder van die historiese geheue van die Russiese volk, en ondersteun die warms moontlike verhoudings met die Russiese keiserlike huis, soos dit tradiasioneel gedoen het."[17]
In Desember 2013 het Maria Wladimirowna die VSA besoek op versoek van die Russies-Ortodokse Kerk in die Buiteland, wat haar ontvang het as hoof van die Russiese keiserlike huis.[18] Op 17 Julie 2018 het sy deelgeneem aan die liturgiese viering van die 100-jarige herdenking van die teregstelling van sint Nikolaas II, keiserin Alexandra en hulle kinders wat deur patriarg Kirill I in Jekaterinburg gehou is.[19]
In Januarie 2021 het Maria die morganatiese verlowing aangekondig van haar seun aan Rebecca Virginia Bettarini van Italië. Bettarini het haar tot die Russiese Ortodokse Kerk bekeer en die naam Viktoria Romanowna aangeneem. Maria het die paartjie toestemming gegee om te trou. Sy het bepaal Bettarini sou die titel prinses en die aanspreekvorm "Haar Deurlugtige Hoogheid" hê. Sy sou ook die van Romanof kon gebruik.[20] In Maart het sy Rusland se inval in Oekraïne veroordeel,[21] nadat sy voorheen Rusland se anneksasie van die Krim en Donbas in 2014 gesteun het.[22]
↑Flintoff, John-Paul (20 September 2003). "Tsar Struck" (in Engels). John-Paul Flintoff. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Oktober 2019. Besoek op 10 Julie 2012.