Die lukwart (Eriobotrya japonica) is 'n vrugteboom in die subfamilie Maloideae van die familie Rosaceae, inheems aan die suidooste van China. Dit word ook die Japannese medlar genoem.
Beskrywing
Dit is 'n immergroen, groterige struik of kleinerige boom met 'n ronde kroon, kort stam en wollerige nuwe blare. Die boom kan 5–10 m hoog groei, maar is gewoonlik korter, ongeveer 3–4 m.
Gebruike
Die vrugte is op hulle soetste as hulle sag en geel is. Indien lukwarte in groot hoeveelhede geëet word, oefen dit 'n ligte maar merkbare kalmerende effek uit, wat tot 24 uur kan voortduur.
Geskiedenis
Die lukwart is oorspronklik 'n vrug uit die suidooste van China. Dit het na Japan versprei en het reeds sedert die vroegste tye daar natuurlik voorgekom, waar dit nou reeds vir meer as 'n duisend jaar verbou word. Dit het ook natuurlik gevestig in Indië en vele ander plekke in die wêreld. Chinese immigrante het heel waarskynlik die lukwart na Hawaii versprei.
Dit is maklik om die lukwart te kweek en dit word ook as sierboom aangeplant. Dit was oral in Kalifornië verbou teen die 1870's. Dit floreer ook in die vogtige klimaat van suidoos-Texas, asook dwarsoor Israel. Die growwe tekstuur van die blare verskaf 'n tropiese effek aan tuine en kontrasteer goed met meeste ander plante.