Long John Silver is ’n fiktiewe karakter en die hoofantagonis in die roman Treasure Island (1883) deur Robert Louis Stevenson. Hy is die kleurrykste en mees komplekse karakter in die boek en maak nog sy verskyning in moderne kultuur. Veral sy af been en papegaai het grootliks bygedra tot moderne uitbeeldings van seerowers.
Profiel
Long John Silver is ’n geslepe en opportunistiese seerower wat kwartiermeester was onder die berugte kaptein Flint. Stevenson se uitbeelding van Silver het die moderne beeld van seerowers grootliks beïnvloed.[1]
Silver het ’n papegaai, genoem na kaptein Flint,[2] wat gewoonlik op sy skouer sit en klets met bekende seerowersfrases. Silver gebruik die papegaai om Jim Hawkins, die boek se protagonis en verteller, se vertroue te wen deur vir hom opwindende verhale van die voël te vertel.[3]
Sy been is naby die heup afgesit en hy steun op ’n kruk, wat hy baie flink hanteer. Hy is lank en sterk, met ’n gesig so groot soos ’n stuk ham – eenvoudig en bleek, maar intelligent en glimlaggend.[4] Soos baie van Stevenson se karakters is daar ’n tweeledigheid in sy karakter: Silver is blykbaar ’n hardwerkende en aangename seeman, en dit is eers later in die storielyn dat sy skurkagtige aard geleidelik onthul word. Sy verhouding met Jim weerspreek daardie tweeledigheid, want hy dien as ’n mentor en eindelik vaderfiguur vir Jim. Dit skep groot skok en emosie wanneer ontdek word hy is in beheer van die muitery, veral wanneer Jim hom later moet konfronteer en teen hom moet veg.
Volgens Stevenson se briewe is die idee van Long John Silver geïnspireer deur ’n werklike vriend, William Henley, ’n skrywer en redakteur.[5]
Verwysings
Skakels