Jochem van Bruggen (1881–1957) was 'n Afrikaanse prosaskrywer en die eerste wenner van die Hertzogprys vir prosa vir sy werk Teleurgestel in 1917. Hy is lid van die Tweede Afrikaanse Taalbeweging en verwerf veral bekendheid vir Ampie, 'n reeks wat armblankes se situasie in die depressiejare as tema het.
Lewe en werk
Herkoms en vroeë lewe
Jochem van Bruggen is op 29 September 1881 op die dorp Groede in die provinsie Zeeland, Nederland, gebore. Sy ouers is Jan van Bruggen en Pieternella Hendrika Drewes en hy is die oudste van sewe kinders. Sy susters is Reina Pieternella (Reina), Maria, Pieternella Hendrika (Nellie) en Alida Anna (Alida) en sy broers is Edde en Jan Reinder Leonard (die skrywer Kleinjan (J.R.L.) van Bruggen). Alida en Kleinjan is in Suid-Afrika gebore en die ander kinders in Nederland.[1] As kind doen hy ’n spraakgebrek op terwyl hy besig is om te herstel van longontsteking, wat hom as grootmens teruggetrokke en effens afsydig maak. Sowat twee jaar voor die res van die familie kom sy vader na die Transvaal om inkomste te verdien en ’n woonplek vir die gesin voor te berei. In Johannesburg huur hy die ou Hollandse kerkgebou as woning en die ruimte wat oor is, gebruik hy vir skoolhou. Deur private lesse te gee verdien hy goed en hy is selfs vir enkele maande Hollandse onderwyser in ’n Engelse skool. Nadat hy gevestig is, kan hy sy familie dan na Suid-Afrika laat kom. Saam met sy moeder, broer en susters kom Jochem dan op Nuwejaarsdag 1893 in Kaapstad aan en die gesin vestig hulle in Johannesburg. Hy gaan aanvanklik skool by sy vader en later vanaf 1895 by die Nederlandstalige Staatsgymnasium in Pretoria, waar Nico Hofmeyr ’n groot invloed op hom het. Van sy eerste pennevrugte word in die joernaal van die debatsvereniging van hierdie skool, Dicendo Discimus (deur praat leer ons), gepubliseer. In ’n lesing oor De letterkunde van Zuid-Afrika wat Nico Hofmeyr voor die Nederlandse Vereniging in Johannesburg hou, spog hy reeds met sy leerling se werk.
Anglo-Boereoorlog
Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog sluit hy as vrywilliger by die Boere aan en hy neem deel aan die stryd tot met die inname van Johannesburg. Sy vader is ook op kommando, maar sy moeder en broers en susters is ter wille van hulle veiligheid terug gestuur Nederland toe. Na die inname van Johannesburg werk hy eers vir ’n karige inkomste by ’n agentskantoor en kort na die vredesluiting vir ’n ietwat beter salaris by ’n wassery. In hierdie tyd sluit hy aan by ’n debatsvereniging, met die voorsitter, ’n Hollandse onderwyser, wat ook bekwame dirigent van die kerkkoor was. By hom leer die jong Jochem sanglesse en leer hy baie van die dirigeerkuns. Na die vredesluiting gaan woon hy op die plaas Steenkoppies naby Magaliesburg, wat aan die boeregesin van Gerhardus Jacobus (Gys) Oosthuizen (’n ou skoolmaat van die Staatsgymnasium) behoort. Vanaf 1903 is hy vir agtien maande C.N.O.-onderwyser op die eenmanskool by Steenkoppies, maar word gedwing om die onderwys te verlaat as gevolg van kritiek op sy “afwykende” onderrigmetodes. Hy leer naamlik sy leerlinge om gewone liedjies met kort en lang note twee- en driestemmig te sing, terwyl die skoolkommissie slegs Psalms en Gesange in die lang koraalnote wou toelaat! In 1905 is hy getroud met Maria Petronella Oosthuizen, dogter van die eienaars van die plaas, en hulle het ses kinders, naamlik Helena Dorothea (Lena), Jan, Pieternella Hendrika (Nellie), Gerhardus Jacobus (Gert), Maria Reina en Jochem (Joggie).
Loopbaan as boer
Saam met sy swaer, Gys Oosthuizen, begin hy dan ’n tabakonderneming, maar die besigheid misluk en teen 1909 is hy diep in die skuld en byna bankrot. In sy kortverhaal Ouboet verwys hy sydelings na hierdie moeilike tydperk. Hy bly hierna aan op die plaas as boer en in ’n periode van meer as veertig jaar skryf hy daar bykans al sy werke. Vir ’n periode van ses maande probeer hy ook sy geluk as diamantdelwer, met weinig sukses en keer dan terug na die boerdery. Tydens die depressie neem hy sy toneelstukke op toere regdeur die land om so sy inkomste te probeer aanvul, maar die probleme oorskry die geleenthede en in stede van groot winste maak hy verdere verliese. Hieroor skryf hy later breedvoerig in Met Ampie deur die depressie.
Betrokkenheid by gemeenskap
Die gedeelte van die plaas wat hy bewoon, herdoop hy tot Terrasse. Hier is hy baie betrokke by die kultuurlewe in sy omgewing en is die leier van verskillende kore oor die jare, asook regisseur vir die Toneelvereniging en voorsitter van die Debatsvereniging. Verskeie van die toneelstukke wat hy self skryf (onder andere Oom Kasper in Johannesburg), word so deur die toneelvereniging opgevoer. Die toneel- en debatsverenigings loop telkemale dood en word dan weer deur Van Bruggen tot stand gebring, totdat hulle in die veertigerjare opgaan in die Magaliesburg Kultuurvereniging met ’n onafhanklike bestuur.
Sterfte
Jochem van Bruggen is op Woensdagoggend 22 Mei 1957 in sy huis op Steenkoppies naby Magaliesburg oorlede van hypostatiese pneumonie en arteriosclerotiese hartverswakking, na 'n siekbed van tien dae.[2]
Skryfwerk
Digkuns
Reeds op skool in Pretoria trek hy die aandag met Nederlandse verse in die joernaal van die debatsvereniging, Dicendo Discimus. In hierdie blad verskyn tien van sy gedigte, maar ook ’n aantal Nederlandse prosastukke, waaronder sy spottende beskrywing van die heldhaftige optrede van die Johannesburgers met die Jameson-inval, De avond voor Kerstfeest te Johannesburg en ook De familie Greyling of een episode uit de Dorstland Trek door Parvus, Iets over de Dorstlandtrek en Vaderlandsliefde. Sy gedigte uit hierdie tyd loop oor van nasionalistiese trots en vaderlandsliefde en sluit in Dr. Jameson of het begin van 1896, Retief en Dingaan, De moord op de boeren in Natal, Een mislukking (oor die dood van Dirk Uys) en De inval van Dr. Jameson, terwyl hy ook natuurgedigte skryf soos Langdurige droogte, Een onweder, Des morgens na den regen en De nacht. In hierdie tyd skryf hy ook reeds toneelstukkies, wat plegtig deur sy maats opgevoer is. Hy gaan voort met die skryf van Nederlandse gedigte in die styl van die Nederlandse domineedigters van die negentiende eeu totdat hy in 1912 vir ’n hele versameling daarvan tevergeefs na ’n uitgewer soek. Hierna lê hy hom feitlik uitsluitlik toe op prosa, hoewel hy per geleentheid ook dramas skryf.
Romans en novelles
Dit is veral met sy langer prosa wat hy ’n belangrike plek in die Afrikaanse letterkunde inneem. Hy is by uitstek die skrywer wat die verarmde en plattelandse Afrikaner se stryd aan die begin van die twintigste eeu uitbeeld, geskilder teen die politieke, sosiale en ekonomiese toestande van daardie tyd. So bring hy dan die armblanke probleem onder die aandag van die breë gemeenskap. Sy tematiek kan tot groot wins vir die Afrikaanse letterkunde gereken word en so ook sy humoristiese inslag en sober skryfstyl. Sy dialoog is uniek in die vroeë Afrikaanse prosa daarin dat dit natuurlik karakter-onthullend is en hy voer sy karakterisering grootliks konsekwent deur. So slaag hy daarin om die eerste werklike volronde mense in die Afrikaanse prosa te skep en daarbenewens is sommige van sy karakters van die onvergeetlikste in die Afrikaanse prosa. Ampie, oom Lood van Die burgemeester van Slaplaagte, Lambertus Bredenhand van Die sprinkaanbeampte van Sluis en Org Basson van die gelyknamige verhaal is enkeles. Hinderlik egter is sy geïdealiseerde wêreldbeeld, waar die skeiding tussen goed en sleg te duidelik afgepen word, die moraliserende toon onderliggend aan menige van sy verhale, die inmenging van die skrywer in die verhaal waar die leser voorgesê word wat om van die karakter of situasie te dink en ook die gebrekkige konstruksie van die romans, waar die verhaal dikwels slegs ’n (somtyds onlogiese) opeenvolging van tonele is en nie ’n meesleurende noodwendigheid nie.
Van Bruggen se eerste roman,[3] Teleurgestel, wat tydens die Anglo-Boereoorlog afspeel, gaan nog mank aan gebrekkige karakteruitbeelding, terwyl sy taalaanwending ook nog veel te wense oorlaat. Veral sy dialoog is styf en boekerig. Die karakters is oor die algemeen ook slegs edel of slegs boos, hoewel die karakter van Liepie Stols ’n vonds is. Stols is ’n lewende karakter met vermenging van goed en kwaad en sy woordgebruik sluit goed aan by die spraakwerklikheid. Hierdie roman sluit ten nouste aan by die romantiese tradisie van ’n liefdesdriehoek geskets teen ’n historiese agtergrond. Die Boere van Waterval en omstreke is besig met skyfskiet as hulle deur die veldkornet opgekommandeer word. Dirk Liebenberg probeer om Maria Brinkman oor te haal om met hom te trou, maar sy verkies vir Gysbert Kloppers. Na vyftien maande kom ’n kommando Nuwejaar vier op Waterval. Dirk wil oorgee aan die Engelse, maar daarvan wil die vrouens nie hoor nie. Hy probeer vir Liepie Stols en Luikes Greef oorhaal om saam met hom oor te gee, maar Greef weier. Ook Maria het steeds nie van plan verander jeens hom nie en in verbittering sluit hy dan by die Engelse aan, waardeur hy sy pa se dood veroorsaak. Deur Dirk se verraad word Gysbert en Dawid, Maria se broer, vasgekeer in ’n grot, waaruit hulle met moeite ontsnap. Gysbert word later gewond en die vrouens na die konsentrasiekampe geneem. Na die vrede trou Gysbert met Maria, en Dawid met Elsie Greef, terwyl Dirk ’n suiplap word. Die manuskrip van Teleurgestel word in 1917 met die Hertzogprys bekroon. In 1925 verskyn die derde, heeltemal omgewerkte uitgawe van hierdie roman. Van Bruggen behou in hierdie uitgawe die raamwerk van die verhaal, maar skryf die hele boek feitlik oor [null om weg te doen met die vernaamste gebreke van die eerste uitgawe], sodat dit baie meer afgerond is.
Die burgemeester van Slaplaagte is die verhaal van die sukkelaar oom Lood en sy mooi dogter Levina. Hierdie roman beeld eerstens die euwel van plaasverdeling uit, waar die eertydse groot plaas naderhand so opgesny en onderverdeel word dat die nakomelinge almal tot ’n sukkelbestaan gedoem word. Oom Lood word so tot armoede gedoem, al is hy iemand wat waarskynlik in beter omstandighede in elk geval ’n mislukking sou gewees het. Levina word na die stad gedwing om daar ’n heenkome te vind, waar sy die slagoffer word van meer wêreldwyse mense. Haar werk as fabriekwerkster gee sy op om met ’n slegte man te trou, wat haar na die geboorte van hulle baba verlaat. Sy keer met haar skande terug na die dorp, waar oom Lood die gevare van die stadslewe met sy naïewe maar treffende Slaplaagte logika probeer oplos. Hierdie novelle is ’n groot verbetering op Van Bruggen se debuut, met die karakters wat meer lewensgetrou geskets word met hulle eienaardighede en gebreke. Baie van die newekarakters is egter slegs tipes, soos die Joodse winkelier en die onderwyser op Slaplaagte, terwyl die stedelike uitgebeeld word deur die besoekende Harry Peach. Die ondergang van die eenvoudige boermeisie in die stad word ook nie goed uitgebeeld nie en word ’n opsomming van gebeure en feite, eerder as dramatiese beelding.
Die Ampie- trilogie, wat deur baie kenners as die toppunt van sy kuns bestempel word, skilder die armblankedom teen ’n wye doek. Aanvanklik sien die skrywer sy bekende Ampie-karakter slegs as kortverhaalkarakter en Ampie maak dan ook sy verskyning in Die Brandwag van 10 Desember 1921, waar die kortverhaal gepubliseer en ook bekroon word. Hierna verskyn nog twee Ampie-kortverhale in Die Burger. Die ontstaan van die roman as kortverhale kan grootliks die fragmentariese en episodiese aard van die roman-trilogie verduidelik, waar die struktuur as een van die vernaamste swakhede gereken kan word. Met die figuur van die “natuurkind” Ampie as kern, ondersoek Van Bruggen onder andere die maatskaplike probleme van die tyd, waar baie Afrikaners deur negatiewe omstandighede in doodloopstrate verval. Die stryd net om te oorlewe is groot, hetsy dit op die plaas is of op die beloftes wat die delwerye bied, elkeen met sy eiesoortige versoekings. Ampie is egter ’n eiesoortige figuur in ons letterkunde, wat nie konformeer of “inpas” nie, en ondervind die verwagtings om volgens gewoonte en oorlewering ouers te vra om te trou, in die kerk aangeneem te word, te bid en boeke te vat, alles as struikelblokke. Ten tye van die verskyning van die eerste werke in hierdie trilogie is daar sterk kritiek teen Van Bruggen en langdurige briefwisseling in onder andere Die Kerkbode oor die uitbeelding van ’n persoon wat uit die laer klasse stam en dus die Afrikaner as agterlik uitbeeld. Ampie se realistiese taalgebruik kom ook onder skoot.
Ampie: die natuurkind is die eerste deel van die trilogie, waarin die leser aan Ampie, sy gewelddadige pa, ou Goor Dawid, sy nooi Annekie en haar familie (met haar pa, Oom Tys, wat ’n belangrike rol speel) en sy weldoener Kasper Booysen voorgestel word. Ons ontmoet ook sy donkie Jakob, aan wie hy baie geheg is. Ampie is ’n ruwe natuurkind, met goeie bedoelinge en ’n sagte hart, maar iemand wat nog ongetem is en nie sy drifte kan beheer nie. Veral het hy gely in sy opvoeding deur die gebrek aan liefde en aanvaarding van sy vader. Ampie word die simboliese verteenwoordiger van ’n hele volksgroep van armblankes, wat ontaard het en slegs ’n dun vernis van beskawing oor het. Hulle gevoelens en drome is basies, maar word intens beleef. Die verhaal begin met Goor Dawid wat vir Ampie dwing om Jakob by die vendusie te verkoop, sodat hy kan varkvleis koop om te eet. Sy weldoener Booysen koop vir Jakob, maar Ampie se bitterheid teen sy vader neem in felheid toe. Hy soek troos by Annekie en gebruik dan die geld wat hy vir Jakob gekry het, om vir haar ’n ring te koop, terwyl hy hom terselfdertyd aan lekkernye te buite gaan. Dit bring hom in botsing met die gereg en sy pa, waarna hy besluit om vir Booysen te vra vir werk sodat hy weer naby Jakob kan wees. Booysen probeer sy bes om Ampie op te voed. Dit is hier waar Ampie Annekie se afsê-brief ontvang, wat ’n kostelike juweel is van karaktertekening. Ampie gaan soek sy troos weer by ou Jakob, terwyl hy aanlê by Hester Staander, wat baie meer sin het in ’n kêrel van die dorp. Wanneer Jakob deur die weer doodgeslaan word, is Ampie verpletter en sy smart word uitmuntend uitgebeeld. Hierna soek hy weer troos by Annekie en draai sy lewe rondom sy verhouding met haar. Ampie: die natuurkind word in 1925 met die Hertzogprys bekroon, nadat dit in manuskripvorm beoordeel is.
In[4] Ampie: die meisiekind word Ampie se vordering van selfbewuste en naïewe jongman tot bruidegom en vader geskets. Annekie en haar familie speel hierin ’n baie groter rol as in die eerste roman. Onder die invloed van die liefde kom Ampie se beste eienskappe tot uiting. Ten spyte van sy beperkte intelligensie en sy ru en onbeskaafde uiterlike, beleef hy tog diep menslike en teer emosies. Voordat hy kan trou, lê daar egter groot struikelblokke voor, want hy moet sy aanstaande skoonouers oorreed dat hy ’n geskikte man is vir Annekie en hy moet katkiseer en deur die kerk aangeneem word. Die huweliksplegtigheid is ’n uiters eenvoudige, maar tog aandoenlike geleentheid, met veral Ampie se moeder se gelukwense wat van ironie spreek. Daar is ’n moeilike aanpassing tot sy nuwe rol as man van die huis, waar daar onder andere verwag word dat hy die godsdiens moet lei, maar ook hierdie fase raak die nuwe huwelikspaar baas, al is dit met stampe en stote. Ampie se natuurlike aard kom pragtig tot uiting wanneer konvensie verwag dat hy sy eersgebore seun na sy vader vernoem. Hy weier, omdat hy nooit enige liefde van sy pa gekry het nie. Hierdie liefde en aanvaarding het hy wel van sy donkie gekry en sy eersgeborene word dus na Jakob, sy oorlede donkie, vernoem. Ampie: die meisiekind word in 1927 met die Hertzogprys bekroon.
Veertien jaar later verskyn die slotstuk van die trilogie, Ampie: die kind, waar Ampie as volwassene sy plek in die samelewing moet volstaan. Hy is steeds die slaaf van sy primêre instinkte, wat driftig kan reageer op die stimulus van elke gebeurtenis. As resultaat van sy vaderskap het hy ’n groter selfstandigheidsgevoel, maar sy swak wilskrag en verstandelike vermoëns maak hom ’n maklike prooi van slegte maats, wat hom tot dronkenskap verlei. In hierdie boek wil Ampie padwerker word om vir sy vrou en kind te kan sorg, maar Annekie se broer Bart keer van die delwerye terug met ’n vyfpondnoot en ’n eenkaraatdiamant. Ampie en sy hele familie word omgepraat om na die delwerye te gaan. Hier laat hy hom deur Bart verlei tot dronkenskap en onverantwoordelike optrede, maar die wysheid van Booysen en die liefde van Annekie bring hom tydelik weer terug op die regte pad. Wanneer Annekie bekeer word onder invloed van ’n charismatiese sekte en begin getuienis lewer van haar geloof, verwaarloos sy vir Ampie en die kind, wat weer veroorsaak dat Ampie onder Bart se slegte invloed afdwaal. Regdeur is Jakob, Ampie se seun, die anker wat hom tot bedaring laat kom. Jakob word egter siek en onder invloed van haar sekte weier Annekie om hom medisyne te gee en wanneer sy tot haar sinne kom, is dit te laat. Jakob se dood is ’n keerpunt in Ampie se lewe. Dit bring ’n einde aan die godsdienstige moeilikhede wat ’n wig tussen Ampie en Annekie gebring het en Ampie besluit om terug te gaan plaas toe, waar hy vir Booysen versoek om Jakob by sy naamgenoot, die donkie, onder die doringboom te begrawe. So eindig Ampie se vergeefse pogings om ’n selfstandige plek in die samelewing te verower en kan hy onder die wyse leiding van Kasper Booysen en die vertroude plaasomgewing sy lewe slyt buite bereik van meeste versoekings. Die fragment Die stormloop uit hierdie roman word opgeneem in die versamelbundel Tussen die engtes. In 1935 wys Die Volksblad en Die Vaderland se lesers in ’n meningsopname Ampie aan as die beste Afrikaanse prosawerk, terwyl Die Burger se lesers dit tweede plaas na Uit oerwoud en vlakte van Sangiro.
Met Ampie deur die depressie vertel die tragikomiese sage van die skrywer se wedervaringe op sy reise in die dertigerjare met die verwerking van sy romans as drama wat regdeur die land opgevoer is. Hierin verklaar hy dat hy dit jammer vind dat hy die drama Ampie ooit geskryf het en dat dit as drama nie geslaagd is nie. Beide KRUIK en TRUK bied nietemin later heropvoerings van hierdie drama aan.
Die sprinkaanbeampte van Sluis[5] word saam met Ampie as ’n groot hoogtepunt in sy oeuvre beskou. Dit vertel die verhaal van Lambertus Bredenhand wat opeenvolgens blye en droewe situasies ervaar in ’n sterk sikliese raamwerk. Lambertus speel bankrot en beset slegs deur die goedgunstigheid van sy swaer Lewies steeds ’n hoekie van die plaas. Hy verbeel hom dat hy ’n baie bekwame ambagsman is en maak veral deur sy hoogdrawende styl aanspraak op ander se respek, maar is in werklikheid ’n armsalige sukkelaar wat sy eie kinders verwaarloos. Hy verdra egter nie kritiek hieroor nie en beskou homself as ’n voorbeeldige vader wat na die beste van sy vermoë op Christelike wyse opvoed. So lei hy ’n dubbelbestaan waar hy in die werklikheid ’n pateet is maar in sy verbeelding iemand besonders. Wanneer hy aangestel word as sprinkaanbeampte verander sy lewe en die van sy gesin. Hy begin weer hoop dat sy droom van ’n vrou, na wie hy alewig op die soektog uit is, nou bewaarheid sal word en ook dat sy kinders weer met hoop die toekoms kan ingaan. Hierdie boek se hegte eenheid beïndruk. Die milieu is tot Sluis en die distrik beperk en die gebeure speel in slegs ongeveer drie weke af. Daar is drie hoofmotiewe in die verhaal, wat almal besonder heg inmekaar gevleg is en bevredigend ontknoop word. Die motiewe is Bredenhand se eensaamheidsgevoel en soektog na ’n tweede vrou, sy verhouding tot sy kinders en tot sy familie, en sy funksies as sprinkaanbeampte en as ambagsman van Sluis. Eindelik word die verhaal siklies voltooi deur die verwysing na die ouderwetse liedjie waarmee die verhaal ook begin. Die afwesigheid van ’n moraliserende verteller of karakter wat in sommige van die skrywer se ander werke die uitbeelding verswak, is hier ook ’n groot plus. Die verhaal verloop weer in hoofsaak in episodes, waar elke hoofstuk gewoonlik een of meer tonele aanbied waarby Bredenhand betrokke is. Die hoofkarakter ondergaan egter ’n hewige krisis en die slot bring ’n duidelike ontknoping, al word dit dan by wyse van 'n opsomming gegee. Die sprinkaanbeampte van Sluis word in 1933 met die Hertzogprys bekroon.
Booia[6] is die eerste roman in Afrikaans met ’n swart hoofkarakter en ook ’n eerste wat die tragiek verbonde aan die swart mense se bestaanswyse beskryf.[7] Die jong Booia voel homself verstote in sy huiskring. Dan vind hy aanklank by die ouer Sagrys, self ietwat van ’n buitestaander in die swart gemeenskap. Sagrys het selfs Engels leer lees en skryf en word ’n mentor vir Booia.[8] Die familie trek van Putfontein na hulle ou woonplek, Kromloop, waar Booia se vader, Ou-Rooi, as diaken benoem word. Booia begin drome droom van ’n beter lewe, met ’n verlange na bemagtiging en erkenning van sy menswaardigheid. Op die dag van sy voorstelling is Ou-Rooi egter so dronk dat hy die plegtigheid nie kan bywoon nie. Hierna trek hulle terug na Putfontein, om die skande van hierdie gebeurtenis te ontwyk. Deur hierdie omstandighede word Booia se groot ambisie om die plaaslike skool te besoek, verydel. Hy keer terug na sy nederige werk as beeswagter, met weinig vooruitsigte op lewensverbetering. Die verhaal word geteken uit die oogpunt van Booia, maar die roman doen fragmentaries aan met gebeurtenisse wat beskryf word eerder as ’n karakterontwikkeling en Booia word weinig meer as ’n swart Ampie. Die beskrywing van die leefwyse van die swart gemeenskap is realisties en soortgelyk aan die skrywer se behandeling van die bywonerfiguur. Ten spyte van ’n patriargale wit perspektief wat soms deurskemer, is dit ’n eerlike poging om die swart gemeenskap van binne af te beleef en nie van buite af te beskryf nie. Hierdie roman word eervol vermeld tydens toekenning van die Hertzogprys vir 1933.
Die roman Kranskop Deel I: Oupa[9] (die eerste deel van wat waarskynlik ’n biografiese romansiklus sou word maar nooit verder gevoer is nie), is merkwaardig daarin dat dit die eerste roman in Afrikaans is om “feit” (die familiegeskiedenis) en “fiksie” (gebruik van fiktiewe ek-verteller) te vermeng. Sodoende is dit die vroeë voorloper van die dokumentêre realisme in die Afrikaanse prosa, wat eers baie later in werke van onder meer Koos Prinsloo en Christoffel Coetzee tot wasdom sou kom. Die roman is gebaseer op die geskiedenis van Van Bruggen se skoonfamilie, die Oosthuizens, wat in Transvaal afspeel in die laaste jare van die negentiende eeu. In hierdie roman word die rustige agrariese boerelewe versteur deur die ontdekking van goud en die oorwinning van kapitalisme. Oupa is die patriarg wat met ’n ysterhand sy gemeenskap en familie lei en alle belangrike besluite word eers aan sy goedkeuring onderwerp. Hierdie gemeenskap se behoeftes is klein en die tradisies kan in die trae ontwikkelingsgang maklik gehandhaaf word. Wanneer Oupa egter vir die smous Siets ’n staanplek gee op Kranskop, word hulle blootgestel aan modernisering en nuwe gewoontes, waar kapitalisme die oorhand kry. Siets slaag daarin om meer grond en water te kry en rig ’n meule en tabakfabriek op om die boere se produkte te verwerk, waarna die outydse leefwyse vir ewig verby is en Oupa sy houvas op die sedes verloor. Die roman gee nie alleen ’n beeld van Oupa en Kranskop nie, maar ook ’n beeld van die betrokke historiese tydvak en die tipiese leefwyse en gewoontes van die Boere. Hierdie familiekroniek is ’n vernuwing binne Van Bruggen se eie oeuvre en die belangrikste werk uit sy latere periode.
Van Bruggen se laaste romans is minder geslaag en is eerder ’n teruggryp na sy romanties-historiese eerste werke as ’n voortsetting van sy meer realistiese sketse van die armblanke. Veral Haar beproewing en Die noodlot val in eersgenoemde kategorie.
In Haar beproewing is Elsie ’n goed opgevoede meisie wat haar ouerhuis verlaat en as onderwyseres op ’n eensame Bosveldplaas beland. Hier bots Elsie met die ruwe boer Bromberg, wat nie in volle beheer van sy sinlike drifte is nie en ook nie teenstand duld nie. Sy dominerende en verkleinerende houding het van sy vrou weinig meer as ’n gewillige slavin gemaak wat alleen by haar kinders en vee ’n bietjie lewensvreugde vind. Elsie se besliste optrede en haar bytende sarkasme laat egter die fondament van Bromberg se lewenshouding inmekaar tuimel. Die karakter van hierdie eiesinnige, selfsugtige boer is potensieel interessant, maar Van Bruggen se uitbeelding is te oppervlakkig en fragmentaries om dit geloofbaar te maak.
Die noodlot het as agtergrond die Rebellie-jare van 1914–1915 en speel op Klimoplaagte af, die spogplaas van die Jonkers. Die eens skouspelagtige natuurpark in die kom voor die huis het later ontaard tot ’n wildernis, wat aanleiding gee tot spookstories. Die erfgenaam Pieter Jonker is nog ongetroud, maar die jongmeisies van die omtrek trek hom nie aan nie. Wanneer Debora Scheepers, die dogter van die bywoner, ernstig siek word, besef hy dat sy die meisie vir hom is. Sy is egter ’n slaapwandelaar en veroorsaak die gerugte oor spoke. Haar vader is om hierdie rede gekant teen haar verhouding met Pieter, want sy sal die plaaswerkers verwilder en die gesin trek dus weg. Die intrige is egter onwaarskynlik.
Die damwal, Stryd en Die weduwee is ’n trilogie en weerspieël die daling in die kwaliteit by Van Bruggen se werk. Die trilogie dek die tydperk van die Zuid-Afrikaansche Republiek vanaf die vroeë 1870’s tot die tydperk net na die Anglo-Boereoorlog. Onderliggend aan die intrige is die deurlopende filosofie dat menselewens aan die noodlot onderworpe is wat in groot mate die lewensverloop bepaal. Hierdie romans word egter weinig meer as historiese avontuurromans met die tipiese romantiese held en skurk wat hierin figureer. In Die damwal is dit juis vroeëre sterkpunte, naamlik die skepping van lewendige en geloofwaardige karakters, wat afwesig is. Die baasspelerige delwer Jurie Wendsel en sy saggeaarde maat Koenraad trou onderskeidelik met die gedienstige Makkie en Kaatjie, ’n meisie met ’n sterk persoonlikheid. Die twee pare koop saam die plaas Duikerhoek en bou daarop ’n groot dam, wat hulle boerdery ’n groot stoot vorentoe sal gee. Weens hulle persoonlikhede speel Jurie en Kaatjie baas in hulle huwelike. Op grond van ’n saketransaksie word klein Jurie bestem om met sy nig Lena te trou, sodat die spogplaas in die familie se besit kan bly. Daar is egter ’n vloed wat die damwal meesleur en hierdie onsinnige huwelik verhoed, terwyl beide Jurie en Kaatjie in die vloed omkom. Koenraad en Makkie trou nou met mekaar en hierdie twee gedienstige en onderdanige persoonlikhede word omgetower tot energieke, vooruitstrewende boere wat weer die plaas regruk. Stryd sit die sage van die families voort, met klein Jurie Wendsel wat as ’n opperste skurk uitgebeeld word en eindelik selfmoord pleeg wanneer sy bose planne nie uitwerk nie.
Kortverhale
Van Bruggen skryf ook korter prosa. In 1914 ontvang hy die tweede prys van die ou Die Brandwag se verhaalwedstryd met Die praatmasjien (waarin Stephanus met hierdie nuwe uitvinding uit die stad die rus op die plaas kom versteur) en in 1916 ken die Akademie ’n eerste prys aan hom toe vir Oom Jannie of Dis nie goed dat mens alleen bly nie. Hierdie twee verhale word later opgeneem in die kortverhaalbundel[10] Op veld en rande, waarin Van Bruggen die leser vir die eerste keer doelbewus aan sy bywonerkarakters voorstel. Dit is veral die mini-novelle Bywoners in hierdie bundel wat beïndruk. Die lot en toestande van hierdie mense word belig, wat ten einde raad ’n heenkome moet vind óf in die myne, waar hulle gesondheid tot niet gaan, óf op die plase as bywoners. As bywoners is hulle oorgelaat aan die genade van hulle leenheer en word hulle nie as mense geag nie. Dit is veral die karakter Cornelis Sitman wat baie goed uit die verf kom met sy spoggery om sy eie nietigheid te bedek, terwyl hy voortdurend aan’t planne maak is om uit die werk te kan bly. In beheer is die plaaseienaar Andries Vry, wat as soort vaderfiguur leiding verskaf en later weerklank sal vind in die figuur van kaper Booysen in Ampie. Hierdie bundel bevat ook die geslaagde verhaal Ouboet en die mindere verhaal Die beeswagtertjie .[7]
In die gramadoelas bevat die verhale Org Basson, Napoleon, Ou Loek, ’n Fragment, Geloof, hoop en liefde, Tommie en Vrouestemreg.[11] Die hoogtepunt is Org Basson, waarin die wedywering en naywer tussen Org Basson en sy meer gegoede swaer, die vrederegter Andries Homan, weergegee word. Org word tot ouderling verkies bo Homan en hy verkneukel hom hierin terwyl hy sy ampspligte met groot toewyding maar gebrekkige kennis en aanleg uitvoer. Sy gebrekkige insig, maar ook tipies menslike reaksies tot omstandighede, word bekoorlik uitgebeeld. Homan kry egter sy beurt om wraak te neem wanneer hy sy kar en donkies aan Org verkoop, net om Meester se Ford aan te skaf. Org Basson word een van die eerste onvergeetlike karakters in ons prosa. Ou Loek is ’n weergawe van die skuldlas by ’n San-bediende. Loek is een van daardie helpers wat altyd so besig moontlik lyk terwyl hy so min moontlik doen. Een dag in die veld kom hy op ou Jim se lyk af en stroop dit van sy skoene en ander besittings, maar dan begin sy gewete by hom spook. Vrouestemreg is ’n kostelike voorbeeld van die onortodokse en irrasionele plattelandse redeneerkuns. Twee susters voer ’n heftige debat oor die vrouestemreg en ofskoon die snelheid waarmee hulle van standpunt verander onwaarskynlik is, bereik die skrywer tog hierdeur ’n baie geslaagde komiese effek. Die ander verhale bereik nie dieselfde hoogtepunte nie. Napoleon is die droewige verhaal van ’n hond. Die bundel In die gramadoelas word eervol vermeld tydens toekenning van die Hertzogprys vir 1933.
A.P. Grové en S. Strydom versamel drie verspreide prosastukke van hom in Drie prosastukke van Jochem van Bruggen, naamlik Bywoners, Org Basson en Die laaste stadium. Die laaste stadium beskryf die mynteringlyer Wouter Pienaar wat sy laaste lewensdae nie met versoenende berusting nie, maar met ’n amper-sinisme benader waarin hy stry onder die bittere besef van sy eie totale magteloosheid en nutteloosheid. Dit pla hom veral dat weens sy toestand hy nie meer ’n ware man vir sy vrou in die huwelik kan wees nie.
Na Van Bruggen se dood word ’n keur uit sy werk (kortverhale en fragmente uit sy romans) opgeneem in die versamelbundel Karakters op ons vlaktes. Van sy kortverhale word in verskeie versamelbundels opgeneem, soos byvoorbeeld Depressie, Sy opdrag en Die laaste stadium in Nuwe Afrikaanse kortverhale, Bywoner Gouws in Kortpad, Ou Loek in Halfeeu en Outa Frans se laaste gang in Twaalf Afrikaanse Kortverhale, Vlugte, Flitse en Mooi loop. Koos Human neem Ampie kry ’n brief (’n fragment uit Ampie die natuurkind) en ’n Man kry werk (’n fragment uit Die sprinkaanbeampte van Sluis) op in die bloemlesing Willekeur. Depressie word ook in F.V. Lategan se Kernbeeld van die Afrikaanse kortverhaal opgeneem. Ander versamelbundels waarin sy werk verskyn sluit in Afrikaanse letterkunde onder redaksie van D.F. Malherbe en Tydskrif saamgestel deur Daniel Hugo.
Drama
In sy omgewing is hy baie betrokke by die Toneelvereniging en hy skryf dan ook dramas vir plaaslike opvoering, soos die ongepubliseerde Oom Kasper in Johannesburg.
Vir landswye opvoering verwerk hy dan van sy romans vir die verhoog, waaronder Ampie en Die burgemeester van Slaplaagte, laasgenoemde wat In die maalstroom word. André Huguenet word landswyd bekend vir sy vertolking van die rol van Ampie in[12] Ampie – die toneelspel, wat ook as drama gepubliseer word. Hierdie drama word op die rug van die bekendheid van die eerste twee romans in die trilogie regdeur die land opgevoer, maar oortuig nie as drama nie en mis die dramatiese hegtheid, noodwendigheid en konflik wat noodsaaklik is vir sukses in hierdie vorm. Die drama is weinig meer as ’n reeks taferele waarin Ampie telkens die sentrale figuur is, met min dramatiese noodwendigheid en geen dramatiese krisis by die hoofpersoon nie. Beide KRUIK en TRUK bied nietemin later geslaagde heropvoerings van hierdie drama aan. In die maalstroom is ’n dramatisering van Die burgemeester van Slaplaagte en gaan gebuk onder dieselfde tegniese probleme. Hierdie drama is ook onder die naam Levina opgevoer.
Eerbewyse
Met die publikasie van die sewende jaarboek van die Afrikaanse Skrywerskring se Jaarboek in 1942, is Jochem van Bruggen die eregas by die dinee wat by hierdie geleentheid gehou is. Die tydskrif Helikon hou in Desember 1953 ook ’n dinee tot sy eer en dra die Kersuitgawe van hierdie tydskrif aan hom op. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vereer hom in 1951 met erelidmaatskap. In 1953 ken die Universiteit van Pretoria ’n eredoktorsgraad in die lettere aan hom toe. Die Afrikaanse Skrywerskring bring in 1959 ’n gedenkplaat op sy graf aan.
Die interhoërskool-vasvrawedstryd van die Afrikaanse Kultuurvereniging van die Suid-Afrikaanse Polisie (Akpol) in 1982 word gehou oor sy werk.
Verskeie studente skryf proefskrifte en verhandelings oor sy werk, insluitende N.T. Blignault se Die kunstenaar Jochem van Bruggen vir ’n D.Litt.-graad in 1942 en P.D. Coetzee se Jochem van Bruggen in die Afrikaanse literêre kritiek vir ’n M.A.-graad in 1969.Van Bruggen wen uiteindelik vier keer die Hertzogprys vir prosa:
Publikasies
Werke wat uit sy pen verskyn sluit in:[13]
Jaar
|
Publikasies
|
1917
|
Teleurgestel
|
1920
|
Op veld en rande
|
1922
|
Die burgemeester van Slaplaagte
|
1924
|
Ampie: die natuurkind
|
1928
|
Ampie: die meisiekind
|
1930
|
Ampie – toneelspel
|
1931
|
In die gramadoelas
|
|
Booia
|
1933
|
Die sprinkaanbeampte van Sluis
|
1934
|
In die maalstroom
|
|
Haar beproewing
|
1939
|
Met Ampie deur die depressie
|
|
Die noodlot
|
1942
|
Ampie: die kind
|
1943
|
Kranskop deel I: Oupa
|
1945
|
Die damwal
|
1949
|
Stryd
|
1956
|
Die weduwee
|
1957
|
Karakters op ons vlaktes
|
1965
|
Ampie, die trilogie
|
|
Drie prosastukke van Jochem van Bruggen
|
Bronnelys
Boeke
- Afrikaanse Pers-Boekhandel. Flitse. Afrikaanse Pers-Boekhandel. Johannesburg. Tweede uitgawe. Eerste druk, 1965.
- Antonissen, Rob. Die Afrikaanse letterkunde van aanvang tot hede. Nasou Beperk. Derde hersiene uitgawe. Tweede druk. Elsiesrivier, 1964.
- Antonissen, Rob. Kern en tooi. Nasou Beperk. Eerste uitgawe. Eerste druk. Elsiesrivier, 1963.
- Beukes, Gerhard J. en Lategan, F.V. Skrywers en rigtings. J.L. van Schaik Bpk. Pretoria. Eerste uitgawe, 1952.
- Beukes, W.D. (red.) Boekewêreld: Die Nasionale Pers in die uitgewersbedryf tot 1990. Nasionale Boekhandel Bpk. Kaapstad. Eerste uitgawe. Eerste druk, 1992.
- Botha, Elize. Prosakroniek. Tafelberg Uitgewers Bpk. Kaapstad. Eerste uitgawe, 1987.
- Botha, Elize. Jochem van Bruggen (1881–1957) in Van Coller, H.P. (red.) Perspektief en Profiel Deel 2. J.L. van Schaik-Uitgewers. Pretoria. Eerste uitgawe, 1999.
- Brink, André P. Vertelkunde. Academica. Pretoria en Kaapstad. Eerste uitgawe, 1987.
- Britz, E.C.; Kannemeyer, J.C. en Pheiffer, R.H. (reds.) Skanse teen de tyd. Tafelberg-Uitgewers Beperk. Kaapstad, 1978.
- Coetzee, Ampie. Marxisme en die Afrikaanse letterkunde. Universiteit van Wes-Kaapland. Bellville, 1988.
- Dekker, G. Afrikaanse Literatuurgeskiedenis. Nasou Beperk. Kaapstad. Elfde druk, 1970.
- Dekker, G. Oordeel en besinning. Human & Rousseau. Kaapstad en Pretoria. Eerste druk, 1964.
- Grobler, Hilda. Halfeeu. Blokboeke 33. Academica. Pretoria en Kaapstad. Eerste uitgawe, 1980.
- Grobler, P. du P. Verkenning. Human & Rousseau. Kaapstad, 1962.
- Grové, A.P. Letterkundige sakwoordeboek vir Afrikaans. Nasou Beperk. Vyfde uitgawe. Eerste druk, 1988.
- Kannemeyer, J.C. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 1. Academica. Pretoria en Kaapstad. Tweede druk, 1984.
- Kannemeyer, J.C. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 2. Academica. Pretoria, Kaapstad en Johannesburg. Eerste uitgawe. Eerste druk, 1983.
- Kannemeyer, J.C. Die Afrikaanse literatuur 1652–2004. Human & Rousseau. Kaapstad en Pretoria. Eerste uitgawe, 2005.
- Kritzinger, M.S.B. Ons jongste letterkunde. J.L. van Schaik Bpk. Pretoria. Tweede druk, 1940.
- Lategan, F.V. Kernbeeld van die Afrikaanse kortverhaal. Nasionale Boekhandel Bpk. Kaapstad, Bloemfontein en Johannesburg, 1961.
- Lindenberg, E. (red.) Inleiding tot die Afrikaanse letterkunde. Academica. Pretoria en Kaapstad. Vierde uitgawe. Eerste druk, 1973.
- Malherbe, F.E.J. Aspekte van Afrikaanse literatuur. Nasionale Pers Bpk. Kaapstad, Bloemfontein en Port Elizabeth. Eerste uitgawe, 1940.
- Malherbe, F.E.J. Die kort-verhaal as kunsvorm. Nasionale Pers Bpk. Kaapstad. Eerste uitgawe, 1929.
- Nasionale Pers Beperk. Ons skrywers en hul werke: ’n Plate-album. Nasionale Pers Bpk. Kaapstad, 1936.
- Nienaber, C.J.M. Jochem van Bruggen in Nienaber, P.J. et al. Perspektief en Profiel. Afrikaanse Pers- Boekhandel. Johannesburg. Derde hersiene uitgawe, 1969.
- Nienaber, P.J. Die Hertzogprys Vyftig Jaar. Nasionale Boekhandel. Kaapstad. Eerste uitgawe, 1965.
- Nienaber, P.J. Hier Is Ons Skrywers! Biografiese Sketse van Afrikaanse Skrywers. Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel; Eerste uitgawe 1949
- Nienaber, P.J.; Senekal, J.H en Bothma, T.C. Mylpale in die geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde. Afrikaanse Pers-Boekhandel. Tweede hersiene uitgawe, 1963.
- Nienaber, P.J. et al. Perspektief en Profiel. Afrikaanse Pers-Boekhandel. Johannesburg. Derde hersiene uitgawe, 1969.
- Olivier, Rothea (samesteller). Jochem van Bruggen. Cum-Boeke. Roodepoort. Eerste uitgawe, 1981.
- Schoonees, P.C. Die prosa van die tweede Afrikaanse beweging. J.H. de Bussy, Pretoria / Hollandsch- Afrikaansche Uitgevers Maatschappij v/h J. Dusseau & Co, Kaapstad 1939 (derde druk).
- Schoonees, P.C. Tien jaar prosa. Afrikaanse Pers-Boekhandel. Johannesburg, 1950.
- Smuts, J.P. Karakterisering in die Afrikaanse roman. Hollandsch Afrikaansche Uitgevers Maatschappij. Kaapstad en Pretoria. Eerste uitgawe, 1975.
- Van Biljon, Madeleine. Geliefde leesgoed. Quellerie-Uitgewers Edms. Bpk. Kaapstad. Eerste uitgawe, 1996.
- Van Coller, H.P. (red.) Perspektief en Profiel Deel I. J.L. van Schaik-Uitgewers. Pretoria. Eerste uitgawe, 1998.
- Van den Heever, C.M. (samesteller) My Jeugland. Afrikaanse Pers-Boekhandel. Johannesburg. Eerste druk, 1953.
Tydskrifte en koerante
- Anoniem. Ampie-plaas byna verlate. Die Burger, 28 Oktober 1982.
- Antonissen, Rob. Jochem van Bruggen: Wat was sy bydrae tot Afrikaans? Die Huisgenoot, 15 Julie 1957.
- Botha, Elize. D.F. Malherbe en Jochem van Bruggen in 1981. Tydskrif vir Geesteswetenskappe. Jaargang 21 no. 4, Desember 1981.
- Grové, A.P. Jochem van Bruggen die ‘realis’. Standpunte. No. 21, Oktober 1951.
- Lategan, V.E.: Mensbeelding deur Jochem van Bruggen. In: Lantern. Tydskrif vir Kennis, Kuns en Kultuur. Jaargang 31, nr. 1, Desember 1981.
- Nolte, Elsa. Die vry Sitmans van ‘Bywoners’. Tydskrif vir Letterkunde. Nuwe reeks 19 no. 4, November 1981.
- Nolte, Elsa. Wat op is, moet af! Die ho(ë)man en die sukkelaar in vier Van Bruggen-verhale. Tydskrif vir Geesteswetenskappe. Jaargang 28 no. 1, Maart 1988.
- Prins, M.J. ‘Halfeeu’ byeengebring deur P.G. du Plessis. Tydskrif vir Letterkunde. Nuwe reeks 19 no. 1, Februarie 1981.
- Smuts, J.P. Jochem van Bruggen vandag. Tydskrif vir Letterkunde. Nuwe reeks 19 no. 4, November 1981.
- Van Bruggen, Jochem. ’n Terugblik. Kakkerlak. Uitgawe 1, 2004.
- Van Coller, H.P. Die sprinkaanbeampte van Sluis. Tydskrif vir Letterkunde. Nuwe reeks 19 no. 4, November 1981.
- Van der Elst, J. Jochem van Bruggen en sy realistiese en naturalistiese erfenis met besondere verwysing na Ampie. Tydskrif vir Letterkunde. Nuwe reeks 20 no. 1, Februarie 1982.
- Van Rensburg, Chrisna. Wat het geword van Jochem van Bruggen? Kakkerlak. Uitgawe 1, 2004.
Internet
Verwysings
- ↑ Geni: https://www.geni.com/people/Jochem-Van-Bruggen/6000000029670388907
- ↑ "South Africa, Civil Death Registration, 1955-1966". FamilySearch. Besoek op 28 Januarie 2023.
- ↑ Grosskopf, J.F.W. in Kannemeyer, J.C. (red.) Kritiese aanloop. Jutalit Kenwyn. Eerste uitgawe, 1989.
- ↑ Schoonees, P.C. Nuwe Brandwag. Deel 1 no. 2, Mei 1929.
- ↑ Schoonees, P.C. Nuwe Brandwag. Deel 5 no. 4, November 1933.
- ↑ Kritzinger, M.S.B. Nuwe Brandwag. Deel 3 no. 3, Augustus 1931.
- ↑ 7,0 7,1 Kritzinger, M.S.B. Oor skrywers en boeke. J.L. van Schaik Bpk. Pretoria. Eerste uitgawe, 1932.
- ↑ Prinsen, J. Nuwe Brandwag. Deel 3 no. 3, Augustus 1931.
- ↑ Opperman, D.J. Verspreide opstelle. Human & Rousseau. Kaapstad en Pretoria. Eerste uitgawe, 1977.
- ↑ Brunt, Dries. Kakkerlak. Uitgawe 8, 2007.
- ↑ Schoonees, P.C. Nuwe Brandwag. Deel 3 no. 3, Augustus 1931.
- ↑ Le Roux, J.J. Nuwe Brandwag. Deel 2 no. 3, Augustus 1930.
- ↑ Digitale bibliotheek voor Nederlandse Letteren: http://www.dbnl.org/auteurs/auteur.php?id=brug029