Die Huis van Stuart, ook bekend as die Huis van Stewart, is ’n belangrike Europese koningshuis. Dit is deur Robert II van Skotland gestig en lede van die familie het in die laat 14de eeu die eerste keer monarge van Skotland geword. Die dinastie het in die 17de eeu verdere grondgebied geërf wat die hele Engeland en Skotland ingesluit het en hulle het ook aanspraak gemaak op die Franse troon.
Tydens die bewind van die Stuarts het Skotland ontwikkel van ’n redelik arm en feodale land tot ’n vooruitstrewende, redelik moderne en gesentraliseerde staat.
Oorsprong
Die naam Stewart kom van die politieke ampsposisie soortgelyk aan goewerneur, bekend as hofmeester (Engels: steward). Dit is aanvanklik as die familie se van aangeneem deur Walter Stewart, wat die derde lid van die familie was wat die amp van hoëhofmeester beklee het. Tydens die 16de eeu het die van se spelling onder Franse invloed verander na "Stuart". Dit was omdat Maria, koningin van die Skotte (Engels: Mary, Queen of Scotts) die spelling verander het om die korrekte uitspraak te verseker van die Skotse naam Stewart terwyl sy in Frankryk gewoon het.
Geskiedenis
Die 6de hoëhofmeester van Skotland, Walter Stewart (1293–1326), het getrou met Marjorie, dogter van Robert the Bruce, en het ’n belangrike rol gespeel in die Slag van Bannockburn, waarmee hy verdere guns gewen het. Hul seun Robert was die erfgenaam van die Huis van Bruce en ander gebiede. Hy het eindelik die Skotse troon geërf toe sy oom Dawid II in 1371 sonder kinders dood is.
Maria en lord Darnley kon albei sterk aanspraak maak op die Engelse troon dansky hul gemeenskaplike ouma, Margaret Tudor. Dit het eindelik daartoe gelei dat die egpaar se enigste kind, Jakobus, ná die dood van Elizabeth I van Engeland in 1603 koning van Skotland, Engeland en Ierland geword het in wat bekend gestaan het as die Vereniging van die Krone. Die drie lande het ’n koning gedeel, maar het verskillende regerings, kerke en instellings gehad. Die vereniging het nie verhoed dat ’n gewapende opstand, bekend as die Biskoppe-oorlog, in 1639 tussen Engeland en Skotland ontstaan het nie. Dit het deel geword van die politieke en militêre konflik wat die bewind van Karel I van Engeland, Ierland en Skotland gekenmerk het en gelei het tot ’n reeks konflikte bekend as die Engelse Burgeroorlog.
Die verhoor en teregstelling van Karel I in 1649 deur die Engelse parlement was die begin van elf jaar van republikeinse regering bekend as die Engelse Interregnum. Skotland het die tereggestelde koning se seun, ook bekend as Karel, as hul monarg erken voor hulle ook in ’n republikeinde stelsel gedwing is. In dié tyd, bekend as die Protektoraat, het die belangrikste lede van die Huis van Stuart in ballingskap in Europa gewoon en was daar geen heersende koning nie. Oliver Cromwell en sy seun, Richard, het die mag in hul hande gehad as Lord-Protektors.
Die jong Karel het ná die afskaffing van die Interregnum na Engeland teruggekeer en in 1660 koning Karel II van Engeland, Ierland en Skotland geword. Hy sou egter sy bewind terugdateer na die dood van sy pa elf jaar tevore. Die Skotse steun op Frankryk het herleef in die tyd van Karel II, wie se ma Frans was. Sy suster Henrietta het ook in die Franse koninklike familie ingetrou. Hierdie Franse en Katolieke verbintenisse was ongewild en het eindelik gelei tot die val van die Stuarts, wie se vyande Protestants was, en omdat Karel die Anglikaanse gemeenskap beledig het deur nie net verdraagsaamheid teenoor Katolieke voor te staan nie, maar ook teenoor Protestantse afvalliges.
Karel het geen kinders by sy vrou, Catherine van Braganza, gehad nie, maar het minstens 12 buite-egtelike kinders by sewe verskillende minnaresse as syne erken.[1] Baie van die kinders het die titel hertog of graaf gekry en die hertogdom van Cleveland is spesiaal geskep vir sy een minnares, Barbara Palmer, die Gravin van Castlemaine. Die huidige hertoë van Buccleuch, Richmond, Grafton en St. Albans is almal afstammelinge van Karel.[2]
Die bewind van Karel II se broer, Jakobus II van Engeland, is later in die Glorious Revolution omvergewerp ten gunste van Jakobus se skoonseun en dogter, Willem III & II en Maria II. Ná Maria se dood het Willem alleen regeer tot met sy eie dood en hy is opgevolg deur Maria se suster, Anna. Sy is egter sonder enige oorlewende kinders dood en die troon het daarna na die Huis van Hannover gegaan.