Die Hoogste Hof van Appèl van Suid-Afrika (voorheen bekend as die Appèlafdeling van die Hooggeregshof) is Suid-Afrika se naashoogste appélhof ná die Konstitusionele Hof. Die hof is in Bloemfontein, die setel van die land se regterlike gesag, geleë. Vanweë die hof word na Bloemfontein dikwels en tradisioneel as die "geregtelike hoofstad" van Suid-Afrika verwys, hoewel die Konstitusionele Hof in Johannesburg gesetel is.[1][2]
Geskiedenis
Die Unie van Suid-Afrika is in 1910 uit vier Britse kolonies gestig. Die hoogste howe van hierdie kolonies het provinsiale afdelings van die nuwe Hooggeregshof van Suid-Afrika geword. 'n Appèlafdeling is geskep as 'n suiwer appélhof met 'n hoër gesag as die provinsiale afdelings. Dit was die setel van 'n paar van die land se mees uitgelese regters, soos James Rose-Innes, Ernest Frederick Watermeyer, J.A. Galgut, John Wessels en J.A. Schreiner.
In 1994 is die Konstitusionele Hof van Suid-Afrika geskep, wat 'n hoër gesag as die Appèlafdeling het, maar dit kon slegs grondwetlike aangeleenthede aanhoor. Die Appèlafdeling was dus steeds die hoogste hof vir niegrondwetlike aangeleenthede.
In 1997 word die Appelafdeling die Appèlhof van Suid-Afrika en kry dit grondwetlike jurisdiksie, hoewel die stelsel van twee hooggeregshowe gebly het: die Grondwetlike Hof was die hoogste hof rakende grondwetlike aangeleenthede, maar die Appèlhof van Suid-Afrika was die hoogste hof rakende niegrondwetlike aangeleenthede. Die Grondwetlike Hof het hul jurisdiksie egter breed geïnterpreteer. Die situasie is in Augustus 2013 regulariseer met 'n wysiging aan die Grondwet van Suid-Afrika wat die Grondwetlike hof algemene jurisdiksie gee.
↑(en) Marais, Lochner; Twala, Chitja (7 Mei 2020). "Bloemfontein: the rise and fall of South Africa's judicial capital". African Geographical Review. Informa UK Limited. 40 (1): 49–62. doi:10.1080/19376812.2020.1760901. ISSN1937-6812. S2CID218929562.