Hierdie artikel is 'n weesbladsy. Dit is nie geskakel of in ander bladsye ingesluit nie. Help Wikipedia deur na moontlike teks te soek en 'n skakel hierheen te plaas.
Hannibal is 'n Amerikaanse televisiereeks (in die genre sielkundige riller) wat ontwikkel is deur Bryan Fuller vir NBC. Die reeks is gebaseer op karakters en temas uit Thomas Harris se romansRed Dragon (1981), Hannibal (1999), en Hannibal Rising (2006), met die fokus op die verhouding tussen die karakter Will Graham, 'n spesiale ondersoeker van die FBI (gespeel deur Hugh Dancy), en Dr. Hannibal Lecter (gespeel deur Mads Mikkelsen), 'n forensiese psigiater wat bestem is om Graham se mees uitgeslape vyand te word, maar wat ook die enigste persoon is wat hom werklik verstaan.
Die reeks se eerste seisoen het uit 13 episodes bestaan. David Slade was die uitvoerende vervaardiger en regisseur van die eerste episode. Die reeks is die eerste keer op 4 April 2013 op NBC uitgesaai.[4] Op 9 Mei 2014 het NBC Hannibal vir 'n derde seisoen hernu,[5] welke seisoen die eerste keer op 4 Junie 2015 uitgesaai is. Op 22 Junie 2015 het NBC Hannibal as gevolg van lae kykergetalle na drie seisoene gekanselleer.[6] Die finale episode van die reeks is deur City in Kanada uitgesaai op 27 Augustus 2015, en twee dae later in die VSA deur NBC.
Die reeks het kritiese lof ontvang, met veral die vertolkings van die hoofakteurs en die visuele styl van die reeks wat geprys is.[7][8] Die eerste twee seisoene het die Saturn-toekenning ontvang in die kategorie Beste Netwerk Televisiereeks, terwyl beide Mikkelsen en Dancy die toekenning vir Beste Akteur gewen het, met Laurence Fishburne wat die toekenning vir Beste Ondersteunende Akteur ontvang het vir sy vertolking in die tweede seisoen. Die derde en finale seisoen het die eerste Saturn-toekenning vir Beste Aksie-Riller Televisiereeks gewen, terwyl gaskunstenaar Richard Armitage die toekenning gewen het vir Beste Onderteunende Akteur. Die reeks het 'n kultusaanhang en word deur baie kritici en gehore beskou as een van die beste reekse van die riller-genre, en een van die beste televisiereekse ooit.[9]