In Europa het die getalle van die tortelduif baie afgeneem, omrede verandering in landboumetodes die voël se voeding bedreig. Op die trekroetes oor Malta en Siprus word hulle ook gejag en geëet. In 2016 maak die Maltese regering bekend dat in Malta 5 000 voëls geskiet mag word, wat tot protes uit ander lidstate van die Europese Unie lei.[1]
Identifikasie
Die duif is groter as die lemoenduif. Dit is 26 tot 28 cm lank en weeg 110 tot 180 gram. Die duif is duidelik gekleur en gemerk met 'n kenmerkende swart-en-wit nekvlek. Die vlerkdekvere het donker middelste dele wat teen die breë kastaiingbruin some afsteek. Tydens die vlug het die buitestert breë wit punte. Die jong duif het nie 'n nekvlek nie.